Die sielkundige, radiopersoonlikheid en storieverteller dr. Eugene Kemp het op Donderdag 6 Augustus sy inspirerende boek Tapas vir die reis tydens ’n spesiale geleentheid in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument bekendgestel.

Die geleentheid is geopen deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, waarna Derrich Gardner, omroeper by RSG en aanbieder van Brêkfis met Derrich, ’n boeiende skrywersgesprek met Kemp gevoer het.

Tapas vir die reis bestaan uit 100 kort, eenbladsyverhale wat lesers aanmoedig om met nuwe oë na hul eie lewensreis te kyk. Elke verhaal sluit af met ’n boodskap van hoop, inspirasie en perspektief – iets waarna Kemp meen mense in uitdagende tye meer as ooit smag.

Die boek het sy ontstaan te danke aan ’n toevallige ontmoeting tussen Kemp en Gardner in Mauritius. Gardner het Kemp genooi om gereeld as gas op sy Saterdagoggendprogram op te tree, waar hy telkens ’n kort inspirerende storie vertel het. Terselfdertyd het Kemp weekliks verhale op Facebook gedeel, wat uiteindelik die grondslag van die boek gevorm het.

Volgens Kemp het hy gou besef dat mense na kort, betekenisvolle verhale smag wat hulle maklik weer en weer kan lees.

“Mense soek kort stories wat hulle in ’n paar minute kan lees en wat hulle hoop gee. Mense vertel my gereeld dat hulle die boek oopmaak wanneer hulle moed nodig het en telkens weer nuwe inspirasie daarin vind.”

Hy skryf ook weekliks stories vir gemeenskapsradiostasies, iets wat hom voortdurend uitdaag om nuwe verhale te skep wat by mense se alledaagse ervarings aanklank vind.

As sielkundige sien Kemp daagliks hoe belangrik stories in mense se genesingsproses is.

“Elke persoon wat voor my in die spreekkamer sit, het ’n storie. Daardie storie begin dikwels met pyn, verlies of teleurstelling, maar dit hoef nie die laaste hoofstuk te wees nie. Deel van

die terapeutiese proses is om saam met iemand ’n nuwe hoofstuk te begin skryf, eerder as om voortdurend die verlede saam te dra.”

Hy sê hierdie besef het sy manier van luister én skryf verander.

“Agter elke gesig wat ek sien, skuil daar ’n verhaal. Baie van daardie verhale word uiteindelik die inspirasie vir ’n volgende storie wat ek skryf.”

Kemp is reeds jare lank ’n bekende stem op verskeie radiostasies, insluitend Pretoria FM, Maluti FM, Radio Namakwaland en RSG, waar hy weekliks inspirerende bydraes gelewer het. Sy deelname aan Gardner se gewilde “Vat Vyf”-segment het sy stories ook aan ’n nuwe gehoor bekend gestel.

Tydens dié gesprek het Kemp openhartig gepraat oor die emosionele uitdagings waarmee hy daagliks in sy praktyk te doen kry. Hy werk gereeld met Afrikanermans, sakelui, bestuurders en boere wat onder geweldige druk verkeer.

“Ons leef in moeilike ekonomiese omstandighede. Baie mense voel hulle moet voortdurend voorsien en beskerm, en daardie verantwoordelikheid raak soms oorweldigend. Ek sien ’n kommerwekkende toename in angs, paniekaanvalle en selfs selfdoodgedagtes. Veral boere beleef geweldige spanning.”

Tog is hy oortuig dat daar steeds rede tot hoop is.

“Ongeag die kritiek wat Afrikaners gereeld kry, sien ek telkens ’n besonderse veerkragtigheid. Mense staan weer op, bou weer en vind nuwe moed. Dit begin by dít waarop jy jou aandag fokus. Wanneer jy jou energie rig op geloof, waardes, verhoudings en dit waaroor jy wel beheer het, ontdek jy dat niemand daardie dinge van jou kan wegneem nie.”

Volgens Kemp het stories ’n unieke sielkundige waarde wat in die moderne samelewing al hoe skaarser word.

“Ons het die kuns van storievertel verloor. Vroeër het families en gemeenskappe stories vertel; vandag is daar minder tyd daarvoor. Tog is daar ongelooflike terapeutiese waarde daarin. Wanneer iemand sy storie vertel, gebeur daar iets. Jy besef jy is nie alleen nie, jou probleme is nie uniek nie, en daar is altyd hoop vir ’n volgende hoofstuk.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, sê die FAK is trots om ’n platform te bied waar boeke, stories en gesprekke mense se lewens kan verryk.

“Die FAK-Liedjietuin is veel meer as ’n ruimte waar liedjies onthou word; dit is ’n plek waar ons stories, identiteit en hoop vier. Dr. Eugene Kemp herinner ons daaraan dat elke mens se verhaal waarde het en dat kultuur nie net in monumente leef nie, maar ook in die verhale wat ons aan mekaar vertel. Tapas vir die reis bied lesers presies dít – klein stukkies hoop vir die pad vorentoe.”

Langner sê die bekendstelling het opnuut bewys hoe sterk die behoefte aan betekenisvolle gesprekke is wat mense inspireer om met moed na die toekoms te kyk.

Vir Kemp bly die boodskap eenvoudig:

“Ons kan nie altyd kies wat met ons gebeur nie, maar ons kan kies hoe die volgende hoofstuk van ons storie geskryf word.”