Die Voortrekkersaal by die Voortrekkermonument het Donderdagaand 9 April behoorlik gegons van opgewondenheid, lag, kopkrap, ernstige meningsverskille en vriendelike kompetisie tydens die Rapportryersbeweging en die FAK se derde jaarlikse Flinkdink-vasvrakompetisie.

Van die eerste vraag tot die laaste puntetelling was dit duidelik: Flinkdink is veel meer as net ’n kompetisie. Dit is ’n aand waar kennis, kultuur en kameraadskap saamkom en waar die Afrikaanse gemeenskap wys dat slim wees ook groot pret kan wees.

Spanne van reg oor die Afrikaanse gemeenskapslandskap het aan die derde Flinkdink deelgeneem, insluitend die Afrikanerbond, Maroela Media, Demokratiese Alliansie (DA), TLU SA, AfriForum, Sol-Tech, die Voortrekkermonument, die Afrikaanse Filatelie-vereniging van Pretoria, Solidariteit Helpende Hand, Dameskring, Boermedia, Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), Pro Patria Museum, die Gereformeerde Kerk, asook spanne van die FAK en Rapportryers self. Ook gemengde spanne kon hul kennisspiere bult.

Vanjaar se Flinkdink was die grootste nog, met ’n rekordgetal van 19 spanne wat ingeskryf het – ’n bewys dat dié gewilde vasvrakompetisie ’n hoogtepunt op die Afrikaanse kultuurkalender is.

Die vrae het deelnemers behoorlik op hul tone gehou, met ’n sterk fokus op Suid-Afrikaanse geskiedenis, terwyl kennis van sport, biologie, fisika en internasionale geskiedenis ook getoets is. Die anagramme en afdeling oor Afrikaanse woordbou het selfs die mees ervare deelnemers laat kopkrap.

Die span Gemengde Gevoelens het met 141 punte as wenners uit die stryd getree. Die Afrikanerbond het tweede geëindig met 136,5 punte, terwyl TLU SA die derde plek ingeneem het met 132,5 punte.

Die program is saamgestel en aangebied deur Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van geskiedenis, gemeenskap en ad hoc-projekte; en Charles Rademeyer, bestuurder van erfenisterreine by die Erfenisstigting. Hul entoesiasme en kennis het bygedra tot ’n lewendige en boeiende program wat deelnemers van begin tot einde betrek het.

Volgens Müller strek die waarde van die aand veel verder as mededinging. “Wanneer mense saam dink, lag en leer, bou ons nie net kennis nie – ons bou ’n gemeenskap wat bewus is van sy verlede en selfversekerd is oor sy toekoms.”

Hy het verder beklemtoon dat sulke geleenthede ’n belangrike rol in die bewaring van kulturele erfenis speel. “Ons geskiedenis leef nie net in boeke nie; dit leef in gesprekke, in vrae, en in die manier waarop ons dit met mekaar deel. Flinkdink is ’n viering van daardie lewende erfenis.”

Aan die einde van die aand is die deelnemers se moeë breine met heerlike kerrie en rys beloon.