Klein kanon, groot impak

Klein Flippie, die kanon, maak keel skoon tydens die skynoorlog wat ter viering van die Slag van Majuba op 18 Februarie vanjaar plaasgevind het. Na die ordonnans wat hy lewer, kry hy sy eie Udolpho-kenteken om te wys hy was ook daar.

Flippie se trotse eienaar, Jannie Hefer, is ’n swartkruitentoesias wat landswyd reis en Flippie op al ons slagvelde van vervloë dae afvuur. Klein Flippie is wel ’n penkop, maar hy het nie ’n skril keel nie – hy praat reeds van dag een af bas.

As die Voortrekkers van ouds geweet het dat dit moontlik is om met so ’n klein kanon te skiet, sou dit beslis ’n groter impak op vroeë oorlogvoering in Suid-Afrika gehad het. Klein Flippie, wat ’n seinkanon is, dien as die Voorlaaiers du Vereeniging-klub se gelukbringer.

Hefer is trots om sy kennis en ervaring te deel en het personeel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) toegelaat om vir Flippie as ’n toegif af te vuur. Omdat dié kanon ’n seinkanon is, word Flippie glad nie toegelaat om projektiele te skiet nie en word slegs met kruit, pluisies en meel gelaai om dieselfde effek te gee.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die Vrystaat, wat die opleiding bygewoon het, sê: “Dit was ’n ongelooflike voorreg om met Flippie te kon skiet, dit raak beslis iets in mens se binneste as die kanonvuur en rook na die tyd om mens daal. Klein Flippie maak ’n groot impak in ons harte om ’n lewende geskiedenis oor te vertel.”

Die FAK is trots om nou ook ’n volwaardige kanonnier op Udolpho te hê wat die geskiedenis op ’n nuwe vlak lewend kan maak.

“Die FAK is bekend daarvoor dat hy kuns en kultuur met uitnemendheid beskerm en net so word die kunste bevorder met die tonele wat in skyngevegte opgevoer word,” sê Malan.