Mediaverklaring

3 Oktober 2023

Die Matlosana-munisipaliteit het erken dat hulle onregmatig en onwettig die Groot Trek Eeufeesgedenkmonument verander het toe die plaaslike munisipaliteit ’n gedenksteen van amptenare wat aan Covid-19 gesterf het, teen die agterkant van die gedenksteen opgerig het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) veroordeel ten sterkste die miskenning en verandering van Afrikanererfenis en het op 29 September ons misnoeë uitgespreek en ’n petisie van stapel gestuur om dié munisipaliteit tot aksie te dwing om die gedenksteen te verwyder en die oorspronklike Groot Trek-gedenkplaat weer te herstel.

Aanvanklik het die munisipaliteit dié aksie verdedig en gesê dat die Covid-19-gedenkplaat aan die agterkant van die Groot Trek-monument opgerig is.

Jaco Cilliers, kultuurhoof van die FAK, verduidelik dat hierdie verduideliking geensins water dra nie.

“Waar hulle die gedenksteen teen die monument opgerig het, het geen historiese konteks of verbintenis met die Groot Trek nie. Dit bly steeds onwettig wat die munisipaliteit gedoen het omdat daar geen behoorlike prosesse gevolg is nie. As ons as die FAK, of enige ander kultuurorganisasie, ’n monument wil restoureer moet ons eers aansoek doen vir die nodige permitte. Indien iemand die aard van ’n monument wil verander, of die herdenkingsgedagte daarvan verander, moet dit dan nie juis soveel te meer onderhewig wees aan ’n wetlike proses nie?

“Die FAK het geensins ’n probleem dat die munisipaliteit eer wou betoon aan hul afgestorwe amptenare nie, maar hulle moes ’n eie en unieke gedenkmuur opgerig het.”

Kelebogile Moleko, ’n woordvoerder van die Matlosana-munisipaliteit, het ’n boodskap uitgereik waarin die uitvoerende burgemeester erken dat die munisipaliteit onwettig opgetree het.

“Die uitvoerende burgemeester van die Matlosana-munisipaliteit neem kennis van die kommer wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geopper het oor die gedenkplaat van die munisipale werknemers wat aan Covid-19 gesterf het, wat op die Groot Trek-gedenkmonument opgerig is. Dit was ’n oorsig van ons kant af en ons is besig om dit reg te stel. Ons is spyt oor die oorsigsfout en vra om verskoning.”

Amptenare is op 3 Oktober verskeie kere gekontak en kon nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

“Die FAK eis dat die munisipaliteit steeds die Groot Trek-gedenksteen herstel en tot sy volle eer vervang vanwaar hy onwettig verwyder is,” sê Cilliers.

Deur die FAK se petisie te teken, kan die publiek die FAK ondersteun en druk op die munisipaliteit toepas, sodat die oorspronklike gedenksteen weer sy regmatige plek inneem.