Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op Sondag 11 Junie gespeel vir talle klassiekemusiekliefhebbers met ’n gesellige kamermusiek-konsert.

Drie van Suid-Afrika se top- uitvoerende kunstenaars, Jaco van Staden (Franse horing), Ané van Staden (viool) en Ben Schoeman (klavier), het op Sondag (11 Junie) by die Voortrekkermonument se Kruger-galery kom kuier om ’n unieke konsert, Koffie, Koek en Kamermusiek aan te bied.

Jaco van Staden, wat ook die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling is, sê hy hoop dat hierdie konsert die eerste is in ’n reeks wat kamermusiek aan ’n breër gehoor kan voorstel.

“Kamermusiekkonserte is ’n manier om klassieke musiek op verskeie maniere aan te bied,” het hy verduidelik.

“Kamermusiek verwys na komposisies vir ’n kleiner kombinasie instrumente waarvoor klassieke werke komponeer is. Vandag was dit ’n kombinasie van werke vir Franse horing, viool en klavier.”

Tydens hul vertoning het die drie musikante C Frank se Sonate in A majeur, vir viool en klavier en R Schumann se Adagio en Allegro Op. 70 vir horing en klavier opgevoer. Hulle het die konsert afgesluit met J Brahms se Trio Op. 40 vir horing, viool en klavier in E-mol majeur.

“Kamermusiek het ’n diep betekenis,” het Van Staden uitgebrei. “Eerstens is dié stukke tegnies uitdagend vir musici en aan die ander kant laat dit die gehoor toe om aandagtig te sit en luister en die musiek behoorlik te ervaar; dit is werklik meesterstukke uit die Romantiese tydperk. Brahms se stuk is in ’n groot mate die maatstaf vir kamermusiek in dié tyd en daarom het ons besluit om hiermee af te sluit. Hy het die stuk vir sy ma gekomponeer na haar dood en dit is werklik die versinnebeelding van die emosionele uitbeelding wat kenmerkend is aan kamermusiek,” het Van Staden uitgebrei.

Die FAK het oor die afgelope jaar groot opspraak gemaak in musiekkringe met ’n nuwe jeugsimfonieorkes en daarmee saam dit ook reg gekry om die musikale erfenis van ons land uit te bou en aan ’n breër gehoor voor te stel.

Van Staden het gesê die konsert is baie goed ontvang deur die publiek.

“Die konsert was werklik ’n groot sukses en die geselligheid (koffie en koek) na die tyd het dit goed afgerond, om die gehoor kans te gee om te besin oor die musiek en die ervaring.

Carel Tredoux, ’n direksielid van die Voortrekkermonument, het tydens die konsert gesê hy is baie opgewonde oor die tuiste wat klassieke musiek by die VTM gekry het en hoop om nog baie konserte van dié aard saam met die FAK te kan aanbied.