Die reisende, 4 meter hoë Paul Kruger-standbeeld, ’n brons ewebeeld van die een op Kerkplein, wat op pad is na sy eindbestemming op die beplande Orania-stadsplein, het Maandagoggend 29 September sy stempel in Vereeniging afgedruk en toe die aand by die FAK se Udolpho-Rivierplaas afgesluit.

Die besoek het die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, die Vrede van Vereeniging, asook die Afrikaner se voortdurende strewe na kulturele selfbewustheid weer opnuut in die kollig geplaas.

Vredesonderhandelinge in Vereeniging

Die dag se program het op die VERREF-krieketveld begin, die terrein waar die vredesonderhandelinge van 1902 in Vereeniging plaasgevind het. Hierdie plek is nie net ’n sportterrein nie, maar ’n tasbare herinnering van die Afrikaner se swaarkry en verlies wat saam met vrede gekom het. Hier is die Kruger-standbeeld – ’n simbool van vasbyt en geloof – met waardigheid ontvang.

Skoolkinders in die Vereeniging-gemeenskap het ook kom wys dat Oom Paul en hul erfenis vir hulle waardevol is. (Foto: Cara Tomlinson)

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, het die toergroep en gaste hartlik verwelkom, waarna ds. Jan de Man van Viljoensdrif die byeenkoms met ’n ernstige, maar hoopvolle openingsboodskap geseën het. Hy het benadruk dat die plek waar hulle staan, herinner aan die smart van verlies, maar ook aan die geloof dat volkere nooit sonder hoop gelos word nie.

Kobie Ströh van die Vaaldriehoek-kultuurnetwerk, wat die feestelikheid se reëlings getref het, het ’n oorsig gegee van die besondere rol van Vereeniging en pres. Paul Kruger se nalatenskap in konteks geplaas. Sy het herinner hoe Kruger se gees en leiding deurgaans ’n anker was – selfs al was hy teen die tyd van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging reeds in ballingskap. Nicky Janse van Vuuren, Gys Ströh, Mark Walkden en Jan-Danie Malan het ook elkeen ’n insiggewende bydrae gelewer wat die geskiedenis nie net as droë feite nie, maar as ervarings van mense en families weergegee het.

Die Vaaldriehoek-kultuurnetwerk en die Dundee Diehards-heruitvoeringsklub het saamgespan om nuwe lewe aan die geskiedenis te gee met ’n uitsonderlike uitvoering van tonele uit die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die kinders van Chalkboard Champs ook hul interpretasie van die geskiedenis met hul toneelopvoering aan die gehoor oorgedra.

Die Verref-krieketveld was Maandagoggend ‘n lus vir die geskiedenis-oog met al die kostuums en uitbeeldings van Anglo-Boereoorlog-tonele. (Foto: Cara Tomlionson)

Die Verref-krieketveld was Maandagoggend ‘n lus vir die geskiedenis-oog met al die kostuums en uitbeeldings van Anglo-Boereoorlog-tonele. (Foto: Cara Tomlionson)

Charl Bezuidenhout, ’n sanger uit die omgewing, het die gevoel van samehorigheid versterk met sy treffende musiek wat die Afrikaner se taal en kultuur met lof besing het. Herman en Karien Breytenbach se Volkspelelaer het met hul statige passies ’n oggend van geloof, kultuur en geskiedenis saamgebind.

Die toergroep het die geleentheid gebruik om ’n sertifikaat aan Kobie Ströh te oorhandig as erkenning van haar onbaatsugtige werk in plaaslike erfenisbewaring in die Vaaldriehoek-streek.

“Ons is met ope arms deur die gemeenskap in Vereeniging ontvang en hier was ongeveer 120 mense wat tyd gemaak het om op ’n weeksoggend die feestelikhede saam met ons te geniet,” sê Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap. “As jy hier by die onderhandelingsboom staan waar die eerste tree na vrede gegee is, kyk ons nie net terug na 1902 nie, ons kyk vorentoe – om seker te maak dat die offers van die verlede nie verniet was nie,” vertel sy verder.

Lede van die Paul Kruger-standbeeld-toergroep voor die Vredesmonument in die middedorp van Vereeniging. (Foto: Cara Tomlinson)

Lede van die Paul Kruger-standbeeld-toergroep voor die Vredesmonument in die middedorp van Vereeniging. (Foto: Cara Tomlinson)

Die geselskap het daarna na die Vredesmonument in die midde-dorp van Vereeniging vertrek, waar die bekende erfeniskenners Klippies Kritzinger en Peet Schabordt as gidse opgetree het en die simboliek van die monument verduidelik het.

FAK se Udolpho-Rivierplaas

Paul Kruger se standbeeld besoek Udolpho-Rivierplaas buite Parys. (Foto: Cara Tomlinson)

Die tweede been van die dag se program het die toergroep na die FAK se Udolpho-Rivierplaas buite Parys geneem – ’n plek deurdrenk van geskiedenis en kultuurerfenis. Hier het die Kruger-standbeeld as ’t ware “huis toe gekom” in ’n omgewing wat self ’n belangrike rol gespeel het in die behoud van Afrikaanse landelike kultuur en tradisie.

‘n Stampvol Kultuurstoor op Udolpho buite Parys geniet die aandprogram tydens die Paul Kruger-standbeeld se besoek aan dié rivierplaas. (Foto: Cara Tomlinson)

Ongeveer 120 besoekers het in Udolpho se Kultuurstoor bymekaargekom waar die geleentheid begin is met die saamsing van FAK- en volksliedjies. Die Deo Gloria-koor, ’n gemeenskapskoor in die Parys-omgewing, het ’n indrukwekkende uitvoering van ’n paar gewyde stukke gelewer.

Die Deo Gloria-koor in Parys het die koue in die Kultuurstoor op Udolpho verdryf met die pragtige gewyde liedere wat hulle gesing het. (Foto: Cara Tomlinson)

Die OKeR-toneelgroep het NP van Wyk Louw se stuk Kruger breek die pad oop voor ’n propvol skuur aangebied. Dié dramatiese toneelstuk het almal op die punte van hul stoele gehad en gehelp om die Vrystaatse koue te verdryf.

“Hierdie besoek het nie net bestaan uit geskiedkundige gesprekke nie, maar ook uit die ervaring van plaaslewe, die natuur en die atmosfeer van selfstandigheid waarvoor Kruger self bekend was,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste. “Udolpho, op die oewer van die Vaalrivier, verteenwoordig ’n brug tussen die verlede en die hede, ’n plek waar die Afrikaner sy erfenis kan uitleef en kultuurbewaring met passie bedryf en ervaar kan word.”

Die Orania Kunsteraad (OKeR) se toneelgroep voer NP van Wyk Louw se stuk, Kruger breek die pad oop op in die Kultuurstoor op Udolpho. (Foto: Cara Tomlinson)

’n Erfenis wat leef

“Met elke dorp en stad wat die standbeeld besoek, word daar nie net erfenis gevier nie, maar ook ’n nuwe verbintenis met kultuur-aktiewe gemeenskappe gesmee. Die besoek van die Kruger-standbeeld aan Vereeniging en Udolpho-Rivierplaas het duidelik gewys hoe die erfenis van Paul Kruger steeds as inspirasie dien,” sê Brand.

“Dit was nie ’n blote seremonie nie, maar ’n hernuwing van ’n belofte: dat die Afrikaner sy geskiedenis sal bly onthou, sy identiteit sal koester en sy kinders sal leer om met waardigheid en trots te leef.”

Dinsdag, 30 September word die Riemland-museum in Heilbron besoek, gevolg deur ’n besoek aan die Vegkop-terrein.