Die ewebeeld van die 4 meter hoë standbeeld van pres. Paul Kruger wat op Kerkplein staan, wat tans deur die land op pad na sy eindbestemming in Orania toer, het op Dinsdag 30 September sy spore in Heilbron en by Vegkop gelaat – en daarmee saam ’n dag van betekenisvolle herinnering, opvoeding en gemeenskapsamekoms geskep. Met meer as 120 mense wat die Kruger-groep in Heilbron verwelkom het, was dit ’n dag wat die verlede en die hede verbind het.
Warm welkom in Heilbron
Die oggend het by die Riemland-museum in Heilbron afgeskop waar mense van die dorp en omliggende omgewing met groot belangstelling saamgekom het terwyl die standbeeld regop getel is. Hoërskool Heilbron het hul graad 6- en 7-leerlinge gestuur om die geleentheid by te woon. ’n Interaktiewe vasvra is met die jongmense gehou, waarin hul kennis van Paul Kruger, die Boereoorloë en die Afrikanererfenis getoets is. Hierdie opvoedkundige oomblik het nie net die geskiedenis lewendig gemaak nie, maar ook die jong geslag gehelp om die rol van Kruger in die breër Afrikaanse erfenis te verstaan. Die wenners het elk ’n Kruger-gedenktoffie ontvang wat op Orania vervaardig word.

Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap, hou ’n vasvra met die leerlinge van Hoërskool Heilbron. (Foto: Danie Knoetze)
Daarna het Danie Knoetze, direkteur van die Riemland-museum, ’n lesing oor “Kruger in konteks” aangebied. Knoetze het uitgelig dat Kruger nie slegs ’n politieke leier was nie, maar ook ’n simbool van volharding, geloof en volkstrots. Hy het verduidelik dat Heilbron – as deel van die Riemland – diep verweef is met die geskiedenis van die Afrikanervolk, en dat Kruger se nalatenskap ’n bron van inspirasie bly. Die FAK het aan Knoetze ’n sertifikaat van waardering oorhandig vir sy reusebydrae tot erfenisbewaring in die streek.
Simboliese gebaar by die Iceberg Truck Stop
Ná dié verrigtinge het die toer na die Iceberg Truck Stop beweeg, waar die eienaars en personeel die groep hartlik ontvang het. Nie net is die toerlede met melkskommels getrakteer nie, maar die eienaars het ook drie simboliese bakstene gekoop vir die voetstuk van die Kruger-standbeeld wat op Orania se beplande stadsplein onthul gaan word. Hierdie gebaar het die gemeenskap se betrokkenheid en ondersteuning op tasbare wyse bevestig – ’n herinnering dat erfenis nie net oor monumente gaan nie, maar ook oor die bou van ’n toekomstige gemeenskap wat sy geskiedenis waardeer.

Paul Kruger se standbeeld voor die Iceberg Truck Stop waar die toergroep getrakteer is. (Foto: Cara Tomlinson)
Vegkop: Beelde van betekenis
Vervolgens het die konvooi na die historiese Vegkop-terrein beweeg. Hier het die Kruger-standbeeld langs die bestaande monument met die verdedigende Voortrekkermanskap tot stilstand gekom – ’n prentjie wat diep simboliese waarde gedra het. Vegkop, waar die Voortrekkers op 16 Oktober 1836 ’n beslissende slag teen die Matabeles onder Mzilikazi gewen het, bly een van die spilpunte van die Afrikaner se geskiedenis. Dat die Kruger-beeld hier geplaas is, het die visuele boodskap van die verbintenis tussen die Voortrekkerstryd en die latere Republiek onder Kruger se leiding oorgedra. Kruger was self as elfjarige trekkerkind by die Slag van Vegkop betrokke.
Daarna is die feesvieringe in die saal op die Vegkop-terrein voortgesit. Die Orania Kunsteraad- (OKer) toneelgroep het weer eens die treffende toneelstuk Kruger breek die pad oop deur NP van Wyk Louw opgevoer. Hierdie stuk het die gehoor laat nadink oor die relevansie van Kruger se idealisme en geloofsvolharding in vandag se tye. Nege simboliese stene om die voetstuk van Paul Kruger se standbeeld te bou, is in Heilbron verkoop.

Die toergroep en besoekers saam met Oom Paul en die verdedigende Voortrekkermanskap by die Vegkop-monument. (Foto: Cara Tomlinson)’n Gemeenskap wat saamstaan
“Die plaaslike gemeenskap – ’n ware Vrystaatse plattelandse gemeenskap – het die geleentheid met groot geesdrif omarm,” sê Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap. “Hulle het lank hierna uitgesien en selfs vure aangesteek en vleis gebraai. Mense van alle ouderdomme het bymekaar gekom om ons erfenis te vier. Hierdie geleentheid het gewys dat geskiedenis nie net in boeke of museums vasgevang is nie, maar in die lewende gemeenskap wat dit dra en uitleef.”
Die betekenis van Kruger in Heilbron en Vegkop
“Die besoek van die Kruger-beeld aan Heilbron en Vegkop herinner ons aan die groter storie van die Afrikaner se strewe na vryheid en selfstandigheid,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
“Heilbron – met sy geskiedenis as prominente Riemland-dorp – het in die verlede ’n rol gespeel in die Tweede Vryheidsoorlog en dien vandag as ’n plek waar die verlede met waardigheid bewaar word. Die feit dat kinders van die dorp deelgeneem het aan die program, toon dat die erfenis van Kruger lewendig en relevant bly.
“Die gemeenskap van Heilbron en Vegkop het gewys dat daar steeds ’n diep waardering bestaan vir die erfenis van Paul Kruger en die Afrikaner se geskiedenis. In die warmte van hul onthaal, die entoesiasme van hul kinders en die simboliese gebare van hul sakelui lê die bewys dat erfenis in die Vrystaat nie net oor verlede gaan nie, maar ook oor die bou van ’n trotse toekoms,” sê Brand.
Hy sê verder dat Vegkop, aan die ander kant, die onwrikbare vasbeslotenheid simboliseer van ’n gemeenskap wat te midde van oorweldigende uitdagings staande bly. “Toe die Voortrekkers in 1836 by Vegkop laer getrek het, het dit die weg gebaan vir die vestiging van ’n nuwe toekoms. Om Kruger se beeld hier te sien staan, herinner ons dat die vryheidstryd van die Afrikaner nie in isolasie plaasgevind het nie, maar ingebed is in ’n groter verhaal van geloof, weerstand en identiteit.”
Die Kruger-standbeeld reis op Woensdag 1 Oktober na Bloemfontein en Kimberley en bereik op 2 Oktober sy eindbestemming op Orania, waar dit opgerig gaan word om op 10 Oktober, op die 200ste herdenking van Kruger se geboorte, onthul te word.
