Die historiese toer van die Paul Kruger-standbeeld, ’n brons ewebeeld van die standbeeld op Kerkplein in Pretoria, het op Saterdag 27 September in twee histories belangrike dorpe aangedoen, met besoeke aan die Kruger-standbeeld by Pretoriuspark en die Paardekraal-monument in Krugersdorp, gevolg deur ’n betekenisvolle program in Heidelberg.

Die dag se verrigtinge was nie net ’n viering van kultuur en erfenis nie, maar ’n herbevestiging van die eietydse relevansie van die Afrikaner se geskiedenis.

Beelde bymekaar in Krugersdorp

Die dag het vroeg in Krugersdorp afgeskop met ’n besielende oomblik toe die reisende standbeeld langs Paul Kruger se standbeeld in Pretoriuspark in Paardekraalweg staangemaak is.

“Die standbeeld in Krugersdorp beeld ’n jong Paul Kruger uit wat regop met sy hoed in sy hand staan. In sy ander hand hou hy ’n Bybel vas, wat sy geloofsbasis en -sekerheid uitbeeld. Dit was baie simbolies en het ’n pragtige prentjie gemaak saam met ’n ouer Kruger wat toe reeds as president verkies was,” sê Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap.

Frans de Klerk, skakelbeampte van die Orania Beweging, het vir die groot groep mense wat daar bymekaargekom het, vertel van die bouproses van die standbeeld se voetstuk op Orania en daar is 24 simboliese stene verkoop om die voetstuk te bou.

Van daar af het die toergroep en gaste na die Paardekraal-monument en Geloftefeesterrein beweeg – ’n plek wat diep in die Afrikaner se volksiel gewortel is. Hier het 6 000 burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) op 8 Desember 1880 bymekaargekom om ’n gelofte van selfbeskikking en onafhanklikheid af te lê, ’n daad wat die Eerste Vryheidsoorlog voorafgegaan het.

Die toergroep en besoekers het by die monument bymekaargekom waar Freddie Hartman, verteenwoordiger van die FAK se Krugersdorp-kultuurnetwerk, ’n “Kruger in Konteks”-lesing aangebied het. Daarna is daar sertifikate van waardering aan Hartman en ds. Wimpie Burger, voorsitter van die Paardekraal-geloftefeeskomitee, oorhandig.

“Die Krugersdorp-gemeenskap het ons met ope arms ontvang en jy kon sien dat hulle baie opgewonde was en gesmag het om aan ’n erfenisgeleentheid met diepte deel te neem,” sê

Tomlinson. “Hier woon mense wat regtig kultuur in hul harte het en ons kon voel dat ons saam met hulle kan bou en vorentoe gaan.”

Die simboliek van die Kruger-standbeeld se teenwoordigheid hier kon nie misgekyk word nie: die beeld van die president wat sy volk gelei het deur storm en stryd, word nou weer deel van die verhaal van vryheid wat onder die Paardekraal-klipstapel gebore is.

“Dit is belangrik dat Afrikaners en spesifiek die jonger geslag hierdie plekke besoek en die erns van die geskiedenis in hul harte dra,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste. “Die Paardekraal-monument is nie net ’n klipstapel nie – dit is ’n baken van die Afrikaner se wil om te leef, te oorleef, en sy identiteit te beskerm.”

Heidelberg: Die oorwinningshoofstad

Die middag het die toer Heidelberg toe vertrek en het die standbeeld en geselskap by Laerskool AG Visser aangesluit waar hulle die Kameelfees aangebied het.

’n Lesing is deur Carel Boshoff, FAK-direksievoorsitter, aangebied oor Heidelberg se rol in die geskiedenis van die ZAR. Heidelberg was vir ’n tyd tydens die Eerste Vryheidsoorlog die regeringsetel van die ZAR (1880–1883), en het dus ’n sleutelrol in die politieke en administratiewe geskiedenis van die Afrikaner gespeel. Hier is besluite geneem en rigtings bepaal wat tot die Boere se oorwinning oor die Engelse gelei het.

’n Hoogtepunt van die middag was die oorhandiging van ’n sertifikaat aan Bouwe Wiersma, ’n gemeenskapslid wat homself onderskei deur sy ywerige betrokkenheid by die bewaring en uitbouing van kultuur en erfenis in Heidelberg.

Die toergroep het die verhoog betree met die opvoering van die toneelstuk “Kruger breek die pad oop” deur NP van Wyk Louw. Hierdie stuk het die lewe en nalatenskap van Paul Kruger en sy strewe na wet en orde in ’n onstuimige jong Transvaalse republiek op dramatiese wyse aan die gehoor uitgebeeld.

Erfenis en toekoms

Die reisende Kruger-standbeeld is 4 meter hoog, weeg 1,5 ton en is ’n projek wat deur die FAK van stapel laat loop en finansieel deur bydraes van AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand moontlik gemaak is.

Die toergroep bestaan uit lede van die Orania Kunsteraad (OKeR), die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), die Orania Beweging, die FAK, asook logistieke en sekerheidspersoneel.

“Die Kruger-toer is ’n unieke erfenisprojek wat nie net terugkyk nie, maar ook vorentoe wys,” sê Brand. “Elke besoek, of dit aan monumente of skole is, vorm ’n skakel in ’n ketting wat die verlede aan ’n hoopvolle toekoms verbind.

“Die besoeke aan Krugersdorp en Heidelberg het die boodskap duidelik gemaak: Afrikaner-erfenis leef voort in die plekke, die verhale en die mense. En solank dié verhale oorvertel word, sal die gees

van vryheid en selfbeskikking steeds opnuut opstaan – uit die klipstapel van Paardekraal, en in die strate van Heidelberg,” sê Brand.

Die beeld vertrek Maandagoggend Vereeniging toe as deel van sy reis deur verskeie dorpe, en word op 10 Oktober – die 200ste herdenking van Kruger se geboortedag – amptelik op Orania se dorpsplein onthul.