’n Propvol kultuurprogram boordensvol vermaak – van redenaars en drama tot musiek en sang – het die Noord-Kaap onlangs behoorlik aan die saampraat én saamsing gehad. CVO-skole in dié provinsie hou jaarliks ’n streeksredenaars- en kultuurbyeenkoms waar leerlinge die geleentheid kry om hul talente op die verhoog ten toon te stel. Vanjaar se byeenkoms is op Orania aangebied.
Die program het Vrydaget redenaars afgeskop. Raakpraters van graad 1 tot 12 kon met behulp van geloofwaardige bronne standpunt inneem oor onderwerpe soos Afrikaans 100, Monumente, Hoekom? en Waag. Leerlinge in graad 7 tot 12 is boonop uitgedaag om ’n onvoorbereide toespraak te lewer waarin hulle argumente vír of téén ’n saak moes stel en staaf.
Jomare Botha, beoordelaar van Bloemfontein, was in haar repliek merkbaar opgewonde oor die jongmense se selfvertroue om hul mening te lug. “Redenaars maak jou slim. Dit leer jou om krities en analities te dink, standpunt in te neem en met selfvertroue voor mense te praat. Dit is ’n waardevolle vaardigheid wat lewenslank gebruik kan word.”
Vrydagaand en Saterdag was drama en musiek in die kollig, en ’n tekort aan kreatiwiteit was daar beslis nie. Ina Heydenreich, gesoute drama-onderwyser en -beoordelaar, was aangenaam verras met die hoë gehalte én groot aantal stukke. Die feit dat die dramastukke nuut en gepas was, en talle deur die leerlinge of hul ouers geskryf is, het Heydenreich veral beïndruk.
Hoër- en laerskoolkore, sanggroepe, kitaargroepe, duette, trio’s en solo’s het gesorg vir bobaasmusiek. Die musiektalent in dié kultuurryke gemeenskap was duidelik sigbaar. Kinders so jonk soos graad 1 wat hulself begelei, het die gehoor gaande gehad.
“Mag ons altyd ons BCVO-Kultuurgrondwet uitleef – ook op die verhoog, naamlik om te arbei vir die behoud, bevordering en uitbouing van ons Afrikanervolk se Godgegewe kultuur in al sy fasette. Mag Christus se lig deur ons skyn – of ons speel, sing of standpunt inneem,” het Cara Tomlinson, FAK-kultuurorganiseerder in die Noord-Kaap en die BCVO se kultuurverteenwoordiger, ná dié besonderse fees gesê.
