Tydens die OppiHoef Kultuurfonds-komitee se jaarlikse kultuuraand en dankbetuiging was die Orania CVO-skool se saal Maandagaand 14 Oktober getooi met ’n elegansie van lig, klank en trots. In ware Orania-gees is kultuur nie net vertoon nie, maar gevier – met styl, passie en opregte dankbaarheid teenoor diegene wat dit moontlik maak om in hierdie hegte gemeenskap Afrikanerkultuur in jong harte te laat leef.

Die aand was tegelyk ’n viering van prestasie en toewyding. Die 20 drama- en musiekitems waarmee Orania CVO-skool, as deel van die BCVO se Noord-Kaap-span vroeër vanjaar by die Nasionale BCVO kultuurkompetisie meegeding het – en as algehele wenner van al die BCVO-streke aangewys is – is weer op die verhoog gebring as ’n feestelike “dankie” aan borge, ondersteuners en ouers.

CVO Orania se senior kitaargroep met hulle item, Afrikaans verjaar. (Foto: Cara Tomlinson)

“Ons wou nie net terugkyk op ’n suksesvolle jaar nie,” vertel Cara Tomlinson, kultuurorganiseerder van die skool en kultuurkoördineerder van die FAK in die Noord-Kaap. “Ons wou wys wat gebeur wanneer kinders met trots en oorgawe hulle kultuur uitleef. Jou kultuur is rigtinggewend en vormend, en daarom is die beoefening daarvan krities.”

Die program, met Tiaan Theron as seremoniemeester, het van die eerste oomblik af die gehoor se harte aangegryp. Theron, self ’n trotse “kultuurouer”, het met ’n glimlag gewaarsku dat die aand “’n emosionele rit gaan wees — van lag tot trane, en alles tussenin.”

Orania CVO-skool se grondslagfasekoor tydens die hulle optrede by die kultuurafsluiting. (Foto: Cara Tomlinson)

En hy was reg.

Die verhoog het tot lewe gekom met tonele vol humor en diepte, aangrypende monoloë, dansnommers propvol energie, en musiek wat selfs die stilstes laat glimlag het. Elke item, hetsy dit ’n klaviersolo, ’n duet, dans- of ’n toneelgroep was, het getuig van ure se toewyding en die lewenslus van jong mense wat trots is op wie hulle is.

Tussen die vertonings deur is gaste bederf met keurige versnaperings, en die atmosfeer was deurdrenk met warmte, trots en gemeenskapsgees.

Die graad 11-leerlinge van CVO-skool Orania met hulle toneeloptrede, Ons gaan ‘n taal maak. (Foto: Cara Tomlinson)

Die hoogtepunt van die aand was die aankondiging van die wenners van die OppiHoef-kompetisie – ’n unieke fondsinsamelingsprojek wat deur kultuurouer-boere by die skool begin is. Die idee is eenvoudig, maar geniaal: deelnemers skryf hul “hoef-voetiges” – skaap, bees, wild of selfs ’n kontantbydrae – in en staan terselfdertyd die kans om groot pryse te wen. So word kultuurbevordering met ware Orania-ondernemingsgees verbind: boere ondersteun kultuur, en kultuur dra weer trots terug na die gemeenskap.

Ná die konsert is nie net die wenners aangekondig nie, maar is die 2026 OppiHoef-kompetisie amptelik van stapel gestuur — met nog groter planne op pad.

Vir die toeskouers was dit meer as net ’n kultuuraand. Dit was ’n viering van identiteit, geloof en gemeenskap. Die eggo van applous en trots het telkens deur die saal weerklink, en toe die laaste noot van die aand vervaag het, het ’n gevoel van dankbaarheid en inspirasie agtergebly.

Bo-Karoo Opleiding se sêr-sanggroep tydens hulle optrede. (Foto: Cara Tomlinson)

“Dis vir ons ’n voorreg om Afrikanerkultuur so kreatief te kan uitleef en jong kinders die geleentheid te gee om dit te ontdek,” sê Tomlinson met trots. “As jy sien hoe ’n kind se oë blink wanneer hy of sy op die verhoog staan, dan weet jy die toekoms van ons kultuur is in goeie hande.”