Die internasionaal gerekende skilder Kobus Möller het op Donderdag 4 Desember ’n unieke, eksklusiewe koffietafelkunsboek, Risk & Reward, by die Voortrekkermonument bekendgestel.
Hierdie publikasie, waarvan slegs 500 eksemplare beskikbaar is, is nie net ’n besonderse getuigskrif van Möller se lewenswerk oor meer as vyf dekades nie, maar elke eksemplaar spog ook met ’n handgeskilderde omslag, wat elke boek ’n versamelstuk maak.
Die gewyde atmosfeer in die Senotaafsaal, wat ook die VTM-FAK-Kunsgalery huisves, was gepas om hulde aan dié vername kunstenaar se werk en lewensreis te bring.
Die gehoor het na hul asems gesnak toe dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, ’n foto opgehou het waar Möller se sendelingpa, Charles, in 1953 ’n skildery aan koningin Elizabeth II en prinses Margaret oorhandig het met hulle besoek aan die Morgenster-sendingstasie in die destydse Rhodesië. Dié skildery hang vandag in Buckingham Paleis.
Möller se kinderjare in die ongerepte Rhodesië het sy liefde vir Afrika, die wildlewe én sy menswees gevorm. Sy waaghalsige dade en tegnieke om gevaarlike wilde diere te konfronteer en “te aktiveer, sodat hulle houding kan kry” en dit vas te vang, is eenvoudig asemrowend.
Möller se kunswerke kan vandag reg oor die wêreld gesien word – van Spanje tot Frankryk, Duitsland, Engeland, Nederland, Swede, Armenië, China, Israel, Saoedi-Arabie, Mexico en die Verenigde State van Amerika. Vir dekades al bestudeer studente sy werk by verskillende universiteite. Sy werk pryk in meer as 50 publikasies en sy skilderye is gesog by toonaangewende veilings.
Meester se binnewêreld
Möller word as een van Suid-Afrika se mees deurleefde en tegnies vaardige skilders beskou, bekend vir sy vermoë om diepte, atmosfeer en menslike ervaring met buitengewone gevoel vas te vang. Sy werk fokus op wild- en Afrikatonele en sy loopbaan word gekenmerk deur onverskrokke waagmoed en formidabele kreatiewe belonings – ’n reis wat die titel Risk & Reward perfek opsom.
“Die droom van Risk & Reward is agt maande gelede gebore, maar ek was bang om dit aan te pak. Die begroting was totaal buite my bereik, maar die gedagte het by my gebly. Ek was in ’n deurlopende gesprek met die Here en op ’n dag kry ek ’n oproep van ’n Amerikaner wat een van my groot skilderye gekoop het. Dit was vir my ’n bevestiging dat ek met die projek kon voortgaan,” sê Möller.
In Risk & Reward neem Möller kunsliefhebbers op ’n artistieke reis vol inspirasie, mislukking, oorwinnings én die filosofie wat sy kunsskeppings kenmerk. Die boek is meer as ’n katalogus van werke; dit is ’n blik op ’n meester se binnewêreld.
“Ek het Risk & Reward geskryf omdat ek besef het dat elke oomblik wat my wêreldbene laat bewe het – elke naby-ontsnapping, elke asemrowende ontmoeting – my nie net as mens gevorm het nie, maar as kunstenaar,” sê Möller.
“Die boek is my poging om daardie reis vas te vang: die gevaar, die skoonheid, innerlike worsteling en uiteindelik die genade wat my deur al die jare gedra het. Dit is my getuienis van wat gebeur wanneer ’n mens jouself kwesbaar maak vir die wild én vir die Skepper.”
Lewensgetroue tekstuur is ’n sterk tema in Möller se kuns, veral dié van wildsvelle. Sy manier om ’n bepaalde tekstuur te skep waarop hy kan skilder, is ook uniek. Hy gebruik ’n groot kwas om loperige verf dik oor sy doek te smeer en gebruik dan ’n haardroër om die verf te versprei. Die resultaat is besonderse groewe, vorms en lyne, en ’n growwe Afrika-tekstuur. “Tekstuur is die basis van skoonheid in kuns,” sê hy.
Kunsboek wat sy tyd vooruit is
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, beskryf die boek soos volg: “Met elke bladsye wat jy van Risk & Reward omblaai, sien jy nie net dekades van kuns nie, maar ’n lewe van geloofspronge. ’n Lewe waar die waaghalsigheid van risiko met genade begroet is om voort te gaan. Elke skildery in hierdie boek is ’n getuienis – nie net van talent nie, maar van oorgawe. Van ’n lewe waar risiko’s nie ter wille van avontuur geneem is nie, maar vanuit ’n plek van geloof en vertroue. Die pad was nie altyd maklik nie. Daar was dae van onsekerheid, min verkope, selftwyfel en verlies. Tog weerspieël elke kunswerk in hierdie publikasie ’n innerlike reis – ’n pad van geloof waar kreatiwiteit en risiko mekaar in die wêreld van geloof en vertroue in God ontmoet.
“Die risiko’s wat Kobus geneem het, was gegrond in die diepe oortuiging dat sy talente geen toeval was nie, maar ’n geskenk van God. Daarby kom die oortuiging dat die Skeppergod nie
beperk is tot kerke en kansels nie, maar ook deur leeus, lig en die landskappe van Afrika spreek.”
Wanneer jy deur die boek blaai, tref die noukeurige uitleg jou. Die kort en lang vertellings word keurig met groot en klein kunswerke afgewissel.
Die inhoud dek sy ikoniese werke, met ryk vertellings oor die stories agter die doeke. Hierdie vertellings fokus nie net op tegniese besonderhede of kunshistoriese beskouings nie, maar ook op die menslike reis wat daarmee gepaardgaan: twyfel, deursettingsvermoë, verlies, momentum, nuuskierigheid en die voortdurende strewe na die essensie van lig en vorm.
Wat Risk & Reward seldsaam maak, is dat Möller vir elke buiteblad ’n eiesoortige skildery geskep het. Die resultaat is 500 individuele kunswerke, elk met sy eie karakter, kleurpalet en emosionele toon.
In ’n tyd waar massaproduksie dikwels die norm is, kies Möller doelbewus om iets skaars en waardevol te skep. Die kunstenaar is intiem betrokke by elke eksemplaar.
Kuns in die hart van kulturele baken
Die Senotaafsaal van die Monument is reeds vir drie jaar die tuiste van die VTM-FAK-kunsgalery waar die skilder- en beeldhouwerke van verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars, insluitende Möller, gesien kan word.
Die idee van dié kunsgalery het in die aanloop tot die Gelofteweek van 2022 ontstaan toe Möller vir dr. Danie Langner genader het met die voorstel dat hy, saam met ’n paar ander kunstenaars, die ruimte benut terwyl duisende besoekers deur die Monument stroom.
Marize Möller, Kobus se dogter, wat oor baie jare se ervaring in die kunsbedryf beskik, is as kurator van die VTM/FAK-kunsgalery aangestel. “Omdat kunsgalerye soms tot 60%-kommissie op skilderye hef, is dit vir baie kunstenaars eenvoudig nie lewensvatbaar nie. Dit het dus sin gemaak om die Senotaafsaal, as integrale deel van die Voortrekkermonument en boonop met ’n ongelooflike atmosfeer, as uitstalruimte te gebruik. Dit was uit die staanspoor ’n reusesukses,” verduidelik sy. “Vandag bied ons ook spesiale inisiatiewe aan, soos slypskole vir opkomende kunstenaars.
“Om die atmosfeer in die Senotaafsaal nog meer besonder te maak, het my pa vyf groot skilderye van bome wat langs die Voortrekkers se roete voorgekom het, aan die Monument geskenk. Hierdie werke word permanent in die Senotaafsaal uitgestal,” sê Möller.
Risk & Reward is ’n boek-en-kunsprojek wat in internasionale galerye, private versamelings en eksklusiewe kunsuitstallings tuishoort. Tog is dit diep gewortel in die Suid-Afrikaanse landskap – visueel én geestelik. Die liriekskrywer Danie Malan het spesiaal ’n pragtige lied “Onverskrokke ink” oor Risk & Reward geskryf wat tydens die geleentheid gespeel is.
“Ek het hierdie boek geskryf omdat elke streep verf ’n oorwinning oor vrees is – en elke oorwinning ’n geskenk van genade,” sê Möller. “Vir my lê die beloning nooit in die roem nie, maar in die genade om te kan sien, oorleef en skilder. Daarom is Risk & Reward geskep, want in elke risiko het ek iets heilig ontdek.”











