Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is besig om sy hoogtepunt te nader met die top- tien-finaliste wat onlangs aangewys is en twee van hulle woon in Gauteng en een in Hartbeespoort.
1. Melody Kotze se liedjie, Sweefstap is ‘n KI Musikale verwerking en sy woon in Hartbeespoort. Haar Ghoeroe is Andriëtte Norman.
2. Ruan Jordaan se liedjie, Eens op ‘n tyd is ‘n KI Musikale verwerking en hy woon in Wonderboom, Pretoria. Sy Ghoeroe is Danie Reënwolf.
3. Christiaan Louw se liedjie, Huistoe is ‘n KI Musikale verwerking en hy woon in The Reeds, Centurion. Sy Ghoeroe is John-Hendry Opperman.
Dit was ’n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys.
Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK-Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.
Die FAK het vir ons vier Wes-Kaap finaliste ‘n paar vrae gevra, sodat ons hulle beter kan leer ken voor die publiek vanaf 28 Augustus tot 3 September vir hulle kan stem vir ’n plek in die top-vyf.
Vrae aan Melody Kotze

1. Waar woon jy tans?
Hartbeespoort.
2. In watter hoërskool was jy?
Success College in Pretoria.
3A. Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?
Ek voel die kompetisie het my tot dusver gehelp om myself oop te stel, met ’n kamera te gesels, my hart te deel en in my liedjies te glo. Ek is ook baie meer bewus van die mense om my se aanmoediging en ondersteuning.
3B. Wat het jou geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?
Liedjies was nog altyd vir my só mooi, en ek wou ook iets maak – of iets sê. Vandag skryf ek omdat daar ’n dryfkrag in my is om op dieselfde vlak as die groot Afrikaanse skrywers van ouds te staan. Hulle “kombuisliedjies” en onvergeetlike deuntjies is iets wat ek nie net wil naboots nie; ek wil my eie vingerafdruk daarop laat. Dis tydloos en klassiek. Só wil ek skryf.
Ek het egter my eie styl, maar met elke liedjie loer een van die meesters oor my skouer. Elke liedjie is ’n stappie nader aan my eie onvergeetlike skryfstuk wat onverganklik sal wees. Dit maak my oë vol sterre net om daaraan te dink.
3C. Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat jou liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om jou liedjie oor die radio te hoor?
Ek het vroeër vanjaar begin om my liedjies direk aan kunstenaars en produksiehuise te bemark. Om Skryf’it-wenner 2026 bo-aan ’n e-pos te kan sit wanneer ek liedjies aanstuur, sal my geloofwaardigheid gee – ’n voet in die deur.
Dit is ’n wêreld van musikante en musiek wat nie sommer enigeen inlaat nie. Ek wil kan bewys dat ek oor die jare my hart en siel in musiek ingesit het Vir my gaan dit oor verbintenisse.
Ek het nie eers behoorlik gaan lees wat die pryse is nie. Ek kórt die kontakte, en ek kort die deurbraak wat net menseverhoudings kan bewerkstellig.
3D. Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?
Ons leen ons liedjies van ’n ander dimensie. Wees dus dankbaar dat jy in die stroom kan wees – en moet nooit ophou skryf nie.
Vrae aan Ruan Jordaan

1. Waar woon jy tans?
Ek woon tans in Wonderboom in Pretoria.
2. In watter hoërskool was jy?
Ek was in Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark, waar ek oorspronklik vandaan kom.
3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?
Hierdie kompetisie beteken vir my ongelooflik baie! As iemand wat sowat drie jaar gelede hard gewerk het om ’n deurbraak in die musiekbedryf te maak, en wat gereeld saam met groot kunstenaars liedjies geskryf het, asook my eie oorspronklike liedjies, is dit nou weer vir my ’n groot voorreg om blootstelling te kry en myself as liedjieskrywer daar buite te stel.
Miskien is daar ’n paar kunstenaars of platemaatskappye wat my nodig het om ’n liedjie of ses vir hulle te skryf!
3B) Wat het jou geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?
Ek het op die ouderdom van tien jaar iets baie waardevol ontdek in die uitdrukking van emosies wanneer dit by skryfkuns kom.
Ek kon nooit regtig weet hoe om myself emosioneel uit te druk op ’n manier wat my hart uiteindelik kon help genees nie. Wanneer ek egter emosies van blydskap beleef het, moes ek dit eenvoudig in ’n nuwe lied omskep – en dit het my altyd opgewonde gemaak!
Ek het selfs op skool liedjies met leerwerk gekomponeer en dit lekker in my gedagtes gesing in die eksamenlokaal, waarna ek die antwoorde kon neerskryf.
My eerste uitbeelding van ware emosie vanuit ’n plek van diep hartseer was toe ek my oupa op tienjarige ouderdom aan kanker verloor het. Dit was ook die heel eerste liedjie wat ek ooit geskryf het.
Om te skryf, is ’n uitlaatklep vir dinge waarvoor woorde soms eenvoudig nie genoeg is nie.
Selfs vandag nog is dit eerstens vir my ’n manier om vir ’n paar uur uit die werklikheid te ontsnap en kunstig te raak deur persoonlike emosies en gevoelens wat uit my pen vloei.
Elke liedjie moet ’n storie vertel, anders voel dit vir my leeg.
3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat jou liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om jou liedjie oor die radio te hoor?
Dit sal my ongelooflik trots maak as ek Skryf’it kan wen! Hierdie liedjie is vir my pragtige vrou geskryf, en dit sal my so bly maak om haar met hierdie liedjie te kan eer terwyl ons saam daarna luister wanneer dit oor die radio speel!
Ek wil graag die wenprys gebruik om my vrou op ’n welverdiende vakansie weg te neem omdat die gejaag van die lewe ’n mens soms bring op ’n plek waar jy net nie genoeg tyd saam kan spandeer, werklik oogkontak kan maak en teenwoordig kan wees nie.
Ek weet ook dat daar mense is wat my liefhet en my ondersteun, en dit sal my baie gelukkig maak om te weet dat hulle ook trots op my is en saam met my kan “celebrate”!
3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?
My boodskap aan skrywers is om seker te maak dat jy soveel as moontlik neerskryf, waar ook al jy is en wanneer ook al jy iets beleef, sien, voel of ervaar!
Van die liedjies waaroor ek die meeste spyt is, is dié wat ek lank gelede geskryf het, maar opgefrommel en weggegooi het omdat ek nie gevoel het dat dit volgens my eie hoë standaard goed genoeg was nie.
Moenie so hard op jouself wees nie! Skryf is kuns, en dit hoef nie altyd perfek te wees nie!
Vrae aan Christiaan Louw

1. Waar woon jy tans?
The Reeds in Centurion.
2. In watter hoërskool was jy?
Hoërskool Uitsig in Centurion.
3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?
FAK-Skryf’it is vir my baie meer as net ’n kompetisie. Toe ek my liedjies in die top-20 sien en hoor dat John-Henry Opperman van Klopjag – iemand na wie ek al lank opkyk – hulle gekies het, was dit vir my ’n ongelooflike voorreg. Dit gee my nuwe moed om aan te hou skryf, leer en droom.
3B) Wat het jou geïnspireer om lank terug te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?
My liefde vir musiek het van kleins af begin. My ma het elke dag musiek in die huis gespeel, en my pa was op sy tyd nogal ’n slim DJ – en soms steeds oor naweke!
Ek het van kleins af musiek regtig diep binne my gevoel en altyd gesing. Later het ek in die skoolkoor gesing en in ’n paar bands gesing en gespeel – waarvan “24 uur” een van my heel gunstelingliedjies was wat ons ooit gedoen het.
Vandag inspireer mense en die stories wat ons almal deur die lewe versamel my, en ek wil hê mense moet die emosie wat ek in my musiek voel, self kan beleef.
3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it-kompetisie te wen?
Om FAK-Skryf’it te wen, sal vir my ongelooflik baie beteken. Om iets wat ek self geskep het professioneel opgeneem en vrygestel te sien, sal ’n droom wees wat verwesenlik is. Maar om eendag in my motor te sit en my eie liedjie oor die radio te hoor, sal ’n oomblik wees wat ek vir die res van my lewe sal onthou!
3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?
Moenie dink jy het te laat begin nie.
Ek het self my musiek vir ’n rukkie op die agtergrond geskuif en eers omtrent ’n jaar gelede weer begin skryf – en vanjaar was twee van my liedjies in die top-20 van FAK-Skryf’it, met een wat selfs die toptien gehaal het en hopelik nog gaan wen!
Begin, probeer, hou aan en glo genoeg in jou eie storie om dit met ander te deel.
Baie dankie vir die geleentheid en vir alles wat julle met FAK-Skryf’it doen. Ek is ongelooflik opgewonde om te sien waarheen hierdie reis gaan!
Sodra die top-5-liedjies aangewys is, volg die mees opwindende stemronde van die kompetisie. Vanaf 18 September tot 22 September kry die publiek die geleentheid om vir die wenlied van FAK-Skryf’it 2026 te stem. Die wenner word op 24 September, Erfenisdag, tydens die Toeka tot Toekoms-Erfenisdagfeesviering by die Voortrekkermonument bekend gemaak.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is dit ’n besonderse oomblik vir die kompetisie.
“Ons het met 1 101 liedjies begin en is nou by die top-tien. Dit wys nie net hoeveel kreatiewe talent daar onder Afrikaanse liedjieskrywers bestaan nie, maar ook dat daar ’n behoefte is aan platforms waar nuwe stemme en nuwe liedjies ontdek kan word.”
Müller sê die publiek se deelname maak die finale rondes baie belangrik.
“Die ghoeroes en beoordelaars het gehelp om die sterkste liedjies tot hier te bring, maar nou kry die publiek die geleentheid om saam te besluit watter liedjies die grootste aanklank vind. Ons nooi almal uit om te luister, die liedjies te leer ken en hul stem uit te bring.”
Müller beklemtoon dat FAK-Skryf’it uiteindelik oor veel meer as net ’n kompetisie gaan.
“Ons soek nie bloot ’n wenner nie. Ons wil nuwe Afrikaanse liedjies help om ’n gehoor te vind en nuwe liedjieskrywers ’n plek in die musiekbedryf te gee. Op 24 September vier ons saam wat uit hierdie proses gebore is – en moontlik hoor ons die volgende groot Afrikaanse treffer.”
Die publiek word aangemoedig om die FAK-Skryf’it se sosialemediaplatforms en amptelike kommunikasiekanale dop te hou vir meer inligting oor die finaliste, hul liedjies en die stemproses.
Besoek Skryf’it.co.za vanaf 28 Augustus en stem vir jou gunstelingliedjie.
