Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is besig om sy hoogtepunt te nader met die top- tien-finaliste wat onlangs aangewys is en een van hulle woon in Bloemfontein!

Nelmari Albertse Oosthuysen se liedjie, Want jy is is ‘n KI musikale verwerking en haar Ghoeroe is Danie Reënwolf.

Dit was ’n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys.

Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK-Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.

Die FAK het vir Nelmari Albertse Oosthuysen ‘n paar vrae gevra, sodat ons hulle beter kan leer ken voor die publiek vanaf 28 Augustus tot 3 September vir hulle kan stem vir ’n plek in die top-vyf.

Vrae aan Nelmari Albertse Oosthuysen

Nelmari Albertse Oosthuysen

1. Waar woon jy tans?

Ek woon tans in Bloemfontein, maar my lewe strek verder as net een stad. Ek het ook ondernemings in Port Elizabeth, waar ek tot sowat vier jaar gelede gewoon het en steeds elke maand besoek aflê.

2. In watter hoërskool was jy?

Ek het aan Hoërskool Bloemspruit gematrikuleer, waar my liefde vir taal en kreatiewe denke begin vorm aanneem het.

3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?

Vir my is FAK-Skryf’it ’n ruimte waar Afrikaans weer asem kry in nuwe klanke en nuwe stories. Ek glo ons taal verdien vars, oorspronklike musiek met betekenis, en hierdie platform gee skrywers die geleentheid om dit werklik te laat gebeur.

Dit is ook ’n geleentheid waar my stem as skrywer nie net gehoor word nie, maar raakgesien word. Dit maak my skryfwerk lewend – iets wat van ’n idee in my kop kan beweeg na iets wat ander mense kan voel, onthou en saam dra.

3B) Wat het jou geïinspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?

Ek skryf omdat ek nog altyd nuuskierig was – oor mense, oor emosies en oor hoekom ons voel soos ons voel. Ek wou sin maak van dinge wat nie altyd sin maak nie.

Vandag inspireer dieselfde dinge my steeds, maar op ’n dieper vlak: mense en hul stories, hul stil stryd, die hoop wat hulle nie altyd hardop uitspreek nie, en die klein oomblikke wat maklik verbygaan, maar eintlik groot betekenis dra.

3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen en jou liedjie oor die radio te hoor?

Dit sal vir my voel soos bevestiging dat eerlike skryfwerk ’n plek het in die wêreld. Nie net dat ek “gewen” het nie, maar dat my stem êrens verby my eie grense beweeg het.

Om my liedjie op te neem en oor die radio te hoor, sal vir my ’n herinnering wees dat woorde krag het – dat iets wat ek in stilte geskryf het, iemand anders se dag, of selfs hul lewe, kan raak.

3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?

Moenie wag vir perfeksie nie – dit kom nooit op die manier waarop jy dit verwag nie. Skryf dit rou, skryf dit eerlik, skryf dit selfs wanneer dit voel asof dit nie goed genoeg is nie.

Want jou stem is nie te klein nie, en jou storie is nie te gewoon nie. Daar is iemand daar buite wat nodig het om presies dít te hoor.

Sodra die top-5-liedjies aangewys is, volg die mees opwindende stemronde van die kompetisie. Vanaf 18 September tot 22 September kry die publiek die geleentheid om vir die wenlied van FAK-Skryf’it 2026 te stem. Die wenner word op 24 September, Erfenisdag, tydens die Toeka tot Toekoms-Erfenisdagfeesviering by die Voortrekkermonument bekend gemaak.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is dit ’n besonderse oomblik vir die kompetisie.

“Ons het met 1 101 liedjies begin en is nou by die top-tien. Dit wys nie net hoeveel kreatiewe talent daar onder Afrikaanse liedjieskrywers bestaan nie, maar ook dat daar ’n behoefte is aan platforms waar nuwe stemme en nuwe liedjies ontdek kan word.”

Müller sê die publiek se deelname maak die finale rondes baie belangrik.

“Die ghoeroes en beoordelaars het gehelp om die sterkste liedjies tot hier te bring, maar nou kry die publiek die geleentheid om saam te besluit watter liedjies die grootste aanklank vind. Ons nooi almal uit om te luister, die liedjies te leer ken en hul stem uit te bring.”

Müller beklemtoon dat FAK-Skryf’it uiteindelik oor veel meer as net ’n kompetisie gaan.

“Ons soek nie bloot ’n wenner nie. Ons wil nuwe Afrikaanse liedjies help om ’n gehoor te vind en nuwe liedjieskrywers ’n plek in die musiekbedryf te gee. Op 24 September vier ons saam wat uit hierdie proses gebore is – en moontlik hoor ons die volgende groot Afrikaanse treffer.”

Die publiek word aangemoedig om die FAK-Skryf’it se sosialemediaplatforms en amptelike kommunikasiekanale dop te hou vir meer inligting oor die finaliste, hul liedjies en die stemproses.

Besoek Skryf’it.co.za vanaf 28 Augustus en stem vir jou gunstelingliedjie.