Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is besig om sy hoogtepunt te nader met die top- tien-finaliste wat onlangs aangewys is en vier van hulle woon in die Wes-Kaap!

1. Milah en haar ma Aniel Redelinghuys se liedjie, Bittermooi Boland is ‘n oorspronklike verwerking en hulle woon in Wellington. Hulle Ghoeroe is Andriëtte Norman
2. Lienke Viljoen se liedjie Straatligte, is ‘n oorspronklike verwerking en sy woon in Stellenbosch. Haar Ghoeroe is William Wolf
3. Armand de Vries se liedjie, Verlore is ‘n oorspronklike verwerking en hy woon in Kraafontein. Sy Ghoeroe is John-Henry Opperman
4. Skadulyn se liedjie, In die Donker is ‘n KI Musikale verwerking en Dirk Crafford woon in Durbanville en Ignus Kritzinger woon in Chicago, VSA. Hulle Ghoeroe is Ampie.

Dit was ’n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys.

Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK-Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.

Die FAK het vir ons vier Wes-Kaap finaliste ‘n paar vrae gevra, sodat ons hulle beter kan leer ken voor die publiek vanaf 28 Augustus tot 3 September vir hulle kan stem vir ’n plek in die top-vyf.

Vrae aan Milah en haar ma Aniel Redelinghuys

Milah en Aniel

1. Waar woon julle tans?

Wellington in die Wes-Kaap.

2. In watter hoërskool was julle?

Aniel: Hoërskool Linden in Johannesburg.

Milah: Hugenote Hoërskool in Wellington.

 

3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir julle?

Aniel: Dit is vir my ’n geleentheid om uit die blokke te kom. Ek skryf al jare, en die liedjies lê pragtig versamel in ’n lêer waar niemand daarna kyk nie. FAK-Skryf’it het vir my die geleentheid gegee om ander skrywers te ontmoet, te leer en te waag om my liedjies aan die wêreld bekend te stel.

Milah: Dié kompetisie bied ongelooflike blootstelling aan die musiekbedryf. Dit is wonderlik om ander kunstenaars te kan ontmoet. Ek voel bevoorreg. Om dit saam met my ma te doen, is ook ’n lekker projek, en ons twee leer baie saam.

3B) Wat het julle geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer julle vandag nog?

Aniel: Ek is baie lief vir skryf. Ek skryf al jare, want dit is iets wat in jou borrel. Dis soos om met woorde te skilder. Ek hou daarvan om mooi stories te vertel of mense se emosies uit te druk. Ek wil nie woorde mors nie, daarom skryf ek graag oor dinge wat mooi en eg is. Deesdae skryf ek eers lekker, want Milah het begin sing en dit is so lekker om vir haar te skryf.

Milah: Ek hou ook baie van skryf. Ek is nog besig om te leer, en binnekort sal ek my eie lirieke skryf en sing.

3C) Wat sal dit vir julle beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat jou liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om jul liedjie oor die radio te hoor?

Aniel en Milah: Ek glo ’n mens moet ten volle leef en elke uitdaging aangryp. Om FAK-Skryf’it te wen, sal ’n ongelooflike voorreg wees. Nie net sal ons nóg wonderlike talentvolle mense ontmoet nie, maar ons sal ook aan onsself bewys dat dit lonend is om braaf te wees en geleenthede met ope arms aan te gryp.

3D) Wat is julle boodskap aan voornemende liedjieskrywers?

Aniel en Milah: Ek dink jong skrywers moet weet dat sommige liedjies wonderlik is en ander net … wel, nie so wonderlik nie. Hoe meer jy skryf, hoe nader kom jy aan die wonderlike. Daar is ’n “wetenskap” agter goeie lirieke – gaan leer dit. Maar moet nie jou hart verloor nie. Sonder hart, kreatiwiteit en ’n bietjie waagmoed kan jou liedjies dood wees.

Hou aan skryf. Dit help om ’n boekie byderhand te hou – soms kom mooi idees soos ’n vinnige voëltjie by die venster ingevlieg. As jy dit gou neerskryf, kan jy later daaraan skaaf. Put ook inspirasie uit ander mense se mooi skryfwerk. Ons leer bymekaar en dit is mooi.

Vrae aan Lienke Vijoen

Lienke Viljoen

1. Waar woon jy tans?

Ek woon tans in Stellenbosch.

2. In watter hoërskool was jy?

Ek het tuisonderrig gedurende my hoërskoolloopbaan in Middelburg in die Oos-Kaap ontvang, en het deur Cambridge International gematrikuleer.

3A. Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?

Die eerste gedagte wat by my opkom, is die feit dat ek net so dankbaar is vir die geleentheid. Dit is ’n fantastiese geleentheid om dít wat ek deur my liedjies wil sê, daar buite te sit. Die platform gee my die kans om my woorde, my wysies en my my hart te deel met mense wat dit andersins waarskynlik nooit sou kon hoor nie.

3B. Wat het jou geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?

Ek het nog altyd daarvan gehou om liedjies vir mense te skryf. Of dit nou was om hulle te vermaak of om iets vir hulle te beteken, was dit vir my ’n heerlike manier om myself kreatief uit te druk en met musikale “verf” rond te speel.

Soos dit seker maar vir baie mense is, vind ek dat musiek kan sê wat jy nie altyd in woorde kan uitdruk nie, en dit is hoe my liedjieskryf eintlik aanvanklik begin het.

Tot vandag toe is dit steeds mense se stories wat my inspireer om te skryf. Ons is almal mense met ons eie ervarings en emosies, maar die menswees is presies ook wat maak dat ek iets kan skryf. Dit moet iets vir iemand anders kan beteken.

Dit bring vir my groot vreugde om te weet dat wat ek geskryf het, ’n verskil kan maak, of dat iemand daarby aanklank kan vind.

3C. Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat jou liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om jou liedjie oor die radio te hoor?

Dit voel nog so ’n klein bietjie onwerklik dat dit selfs ’n moontlikheid is vir my liedjie om opgeneem te word, maar dit sal kleintyd-Lienke én vandag se Lienke uit haar vel uit laat spring van blydskap! Dit is reeds vir my so ’n groot voorreg om net die toptien te kon haal.

Dit gee ’n mens ’n hupstoot in selfvertroue om te weet dat dit nie net familie en vriende, wat dalk ’n bietjie bevooroordeeld is oor jou liedjieskryfvermoëns, is wat in jou musiek glo nie. Dit laat my besef dat wat ek doen dalk iets vir ’n wyer kring mense kan beteken.

En as my liedjie eers oor die radio speel, sal dit vir seker ’n groot “knyp my”-oomblik wees, net om seker te maak ek droom nie. Om iets wat ek self geskryf het oor die radio te hoor, sal ’n groot droom wees wat waar word.

3D. Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?

Wat jy te sê het, is belangrik en kan dalk iemand se lewe verander. Dit is seker waar vir meer as net liedjieskrywers, maar moenie dat vrees jou keer om jou drome na te jaag nie. Dit is dikwels juis in die oomblikke wanneer jy jou deur jou grootste vrese in die gesig gestaar word, wat jy jou grootste deurbrake kry.

Dit is dalk presies wat iemand vandag nodig het. Jaag volspoed agter jou drome aan en vat ’n kans. En as jy ’n spoedhobbeltjie tref, is dit is dalk net wat jy nodig het om aan die sterre te kan raak.

Vrae aan Armand de Vries

Armand de Vries

1. Waar woon jy tans?

Kraaifontein in Kaapstad.

2. In watter hoërskool was jy?

Monument Park Hoërskool in Kraaifontein.

3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?

Vir my is dit ’n ongelooflike platform wat skrywers ’n geleentheid gee. Almal wat betrokke is, is fantasties. Dit is ’n groot voorreg vir my, maar ’n nóg groter voorreg om ook ander te inspireer om liedjies te skryf.

3B) Wat het jou geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?

Mense en klank fassineer en inspireer my.

3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen en jou liedjie op die radio te hoor?

Ek het ’n gedeelte van my liedjie in die motor geskryf, so dit sal nogal snaaks wees om dit oor die radio te hoor terwyl ek bestuur. Om FAK-Skryf’it te wen, sal geboorte gee aan my Afrikaanse loopbaan, en daaroor is ek baie opgewonde.

3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?

Hou aan skryf. Hou aan kanse vat. Wees braaf en sê wat jy voel.

Vrae aan Dirk Crafford en Ignus Kritziner van Skadulyn

Skadulyn

1. Waar woon julle tans?

Dirk woon in Durbanville naby die Kaap, en Ignus woon in Chicago in die VSA.

2. In watter hoërskole was julle?

Ons albei was in Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth.

3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir julle?

Dit is ’n groot eer om ons musiek met soveel mense te kan deel. Dit is ook ’n wonderlike geleentheid om skouers te skuur met van die groot name in die musiekbedryf.

3B) Wat het julle geïnspireer om te begin skryf, en wat inspireer julle vandag nog?

Menswees en ervaring het ons geïnspireer, en die behoefte om dit in mooi woorde en melodieë vas te vang.

Kunstenaars soos Koos du Plessis en Leonard Cohen inspireer ons ook.

3C) Wat sal dit vir julle beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat julle liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om julle liedjie oor die radio te hoor?

Dit sal ’n absolute viering wees van ’n lang vriendskap, ons passievolle luisteraars, familie en vriende wat ons moed ingepraat en ons geïnspireer het.

3D) Wat is julle boodskap aan voornemende liedjieskrywers?

Maak musiek wat jy geniet, op enige manier wat jou gelukkig maak. Vang die oomblikke vas en deel dit.

Sodra die top-5-liedjies aangewys is, volg die mees opwindende stemronde van die kompetisie. Vanaf 18 September tot 22 September kry die publiek die geleentheid om vir die wenlied van FAK-Skryf’it 2026 te stem. Die wenner word op 24 September, Erfenisdag, tydens die Toeka tot Toekoms-Erfenisdagfeesviering by die Voortrekkermonument bekend gemaak.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is dit ’n besonderse oomblik vir die kompetisie.

“Ons het met 1 101 liedjies begin en is nou by die top-tien. Dit wys nie net hoeveel kreatiewe talent daar onder Afrikaanse liedjieskrywers bestaan nie, maar ook dat daar ’n behoefte is aan platforms waar nuwe stemme en nuwe liedjies ontdek kan word.”

Müller sê die publiek se deelname maak die finale rondes baie belangrik.

“Die ghoeroes en beoordelaars het gehelp om die sterkste liedjies tot hier te bring, maar nou kry die publiek die geleentheid om saam te besluit watter liedjies die grootste aanklank vind. Ons nooi almal uit om te luister, die liedjies te leer ken en hul stem uit te bring.”

Müller beklemtoon dat FAK-Skryf’it uiteindelik oor veel meer as net ’n kompetisie gaan.

“Ons soek nie bloot ’n wenner nie. Ons wil nuwe Afrikaanse liedjies help om ’n gehoor te vind en nuwe liedjieskrywers ’n plek in die musiekbedryf te gee. Op 24 September vier ons saam wat uit hierdie proses gebore is – en moontlik hoor ons die volgende groot Afrikaanse treffer.”

Die publiek word aangemoedig om die FAK-Skryf’it se sosialemediaplatforms en amptelike kommunikasiekanale dop te hou vir meer inligting oor die finaliste, hul liedjies en die stemproses.

Besoek Skryf’it.co.za vanaf 28 Augustus en stem vir jou gunstelingliedjie.