Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is besig om sy hoogtepunt te nader met die top- tien-finaliste wat onlangs aangewys is en twee van hulle woon in Mpumalanga.
1. Rudolph Viljoen se liedjie, Passie Vuur is ‘n KI musikale verwerking en hy woon in Standerton. Sy Ghoeroe is William Wolf.
2. Coenie Naudé se liedjie, Geraas is ‘n oorspronklike musikale verwerking en hy woon in Nelspruit. Sy Ghoeroe is Ampie
Dit was ’n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys.
Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK-Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.
Die FAK het vir ons twee Mpumalanga-finaliste ‘n paar vrae gevra, sodat ons hulle beter kan leer ken voor die publiek vanaf 28 Augustus tot 3 September vir hulle kan stem vir ’n plek in die top-vyf.
Vrae aan Rudolph Viljoen

1. Waar woon jy tans?
Standerton in Mpumalanga.
2. In watter hoërskool was jy?
Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein.
3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?
Dit is ’n fantastiese geleentheid om mense bewus te maak van die musiek wat ek geniet om te “maak” en om myself moontlik as ’n bekende liedjieskrywer te vestig.
3B) Wat het jou geïinspireer om te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?
Ek was van jongs af op soek na musiek wat mý storie vertel – musiek waarmee ek my ten volle kan vereenselwig. Om ’n ervaring in ’n lied te omskep, is amper soos om ’n oomblik in jou lewe in ’n foto vas te vang en dit te raam. Ek dink ek skryf die klankbaan van my eie lewe.
3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen – nie net dat jou liedjie opgeneem en vrygestel gaan word nie, maar ook om jou liedjie oor die radio te hoor?
Dit sal vir my beteken dat mense hulle waarlik met my musiek vereenselwig, dat dit tog ’n betekenisvolle verskil maak en ’n impak het. Dat ek dit reggekry het om vir iemand ’n taal te gee waarin hulle ook kan kommunikeer en uiting aan hulself kan gee. Dat ek musiek maak wat aangenaam is om na te luister.
3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?
Praat Afrikaans! Praat jóú hart. Geniet jou eie werk, al slaag alles nie altyd nie. Moenie te generies wees nie – vat daai kans en wees braaf!
Vrae aan Coenie Naudé

1. Waar woon jy tans?
Ek woon in die pragtige Laeveld, in Nelspruit.
2. In watter hoërskool was jy?
Ek was in graad 8 en 9 in Hoërskool Jeugland in Kempton Park en het daarna my skoolloopbaan aan Hoërskool Nelspruit voortgesit.
3A) Wat beteken die FAK-Skryf’it-kompetisie vir jou?
Afrikaans het verlede jaar sy 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal gevier. Ons het grootgeword met ’n taal wat ongelooflik beeldryk en poëties is, en waarin ’n mens soveel kan sê en voel.
Daarom is dit vir my besonders om te sien wat die FAK met Skryf’it doen om Afrikaanse liedjieskrywers en musiek ’n platform te gee. Dit vier nie net ons taal nie, maar gee ook nuwe stories en nuwe stemme die kans om gehoor te word.
3B) Wat het jou geïnspireer om lank terug te begin skryf, en wat inspireer jou vandag nog?
Die mooi én die seer van die lewe…
Ek skryf om oomblikke en gevoelens vas te vang waarvoor gewone woorde net nie genoeg is nie. Ek het reeds in my laat laerskooljare, in die MK-era, begin skryf. Daardie tyd het my gewys hoe kragtig ’n liedjie kan wees.
Vandag inspireer dieselfde ding my steeds: mense, verhoudings, verlies, blydskap, pyn, hoop en die klein oomblikke wat ’n mens soms eers verstaan wanneer jy daaroor skryf.
Vir my kan min dinge emosie so sterk en eerlik vasvang soos musiek.
3C) Wat sal dit vir jou beteken om die FAK-Skryf’it-kompetisie te wen?
Wanneer ’n mens ’n liedjie skryf, begin dit eintlik in ’n baie klein kring – soms net tussen jou, jou kitaar en ’n paar mense naby aan jou.
Om FAK-Skryf’it te wen, sal vir my beteken dat daardie kring skielik groter word. Dat iets wat in ’n persoonlike oomblik ontstaan het, dalk iemand kan bereik wat ek nog nooit ontmoet het nie.
Om die liedjie dan op die radio te hoor, sal ongelooflik spesiaal wees. Dit sal werklik die wêreld vir my beteken.
3D) Wat is jou boodskap aan voornemende liedjieskrywers?
Skryf alles. En moenie ophou skryf nie.
Skryf die goeie goed, die slegte goed en selfs die liedjies wat jy nooit vir iemand gaan speel nie. Al beteken jou musiek vandag net iets vir jou, beteken dit nie dat dit altyd daar gaan eindig nie. Dalk hoor iemand eendag daardie einste liedjie en besef: “Iemand anders het ook al soos ek gevoel.”
En vir my is dit een van die mooiste dinge wat ’n liedjie kan doen.
Sodra die top-5-liedjies aangewys is, volg die mees opwindende stemronde van die kompetisie. Vanaf 18 September tot 22 September kry die publiek die geleentheid om vir die wenlied van FAK-Skryf’it 2026 te stem. Die wenner word op 24 September, Erfenisdag, tydens die Toeka tot Toekoms-Erfenisdagfeesviering by die Voortrekkermonument bekend gemaak.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is dit ’n besonderse oomblik vir die kompetisie.
“Ons het met 1 101 liedjies begin en is nou by die top-tien. Dit wys nie net hoeveel kreatiewe talent daar onder Afrikaanse liedjieskrywers bestaan nie, maar ook dat daar ’n behoefte is aan platforms waar nuwe stemme en nuwe liedjies ontdek kan word.”
Müller sê die publiek se deelname maak die finale rondes baie belangrik.
“Die ghoeroes en beoordelaars het gehelp om die sterkste liedjies tot hier te bring, maar nou kry die publiek die geleentheid om saam te besluit watter liedjies die grootste aanklank vind. Ons nooi almal uit om te luister, die liedjies te leer ken en hul stem uit te bring.”
Müller beklemtoon dat FAK-Skryf’it uiteindelik oor veel meer as net ’n kompetisie gaan.
“Ons soek nie bloot ’n wenner nie. Ons wil nuwe Afrikaanse liedjies help om ’n gehoor te vind en nuwe liedjieskrywers ’n plek in die musiekbedryf te gee. Op 24 September vier ons saam wat uit hierdie proses gebore is – en moontlik hoor ons die volgende groot Afrikaanse treffer.”
Die publiek word aangemoedig om die FAK-Skryf’it se sosialemediaplatforms en amptelike kommunikasiekanale dop te hou vir meer inligting oor die finaliste, hul liedjies en die stemproses.
Besoek Skryf’it.co.za vanaf 28 Augustus en stem vir jou gunstelingliedjie.
