Musiek bring hoop in die donkerste tye en hiervan kan Tuin Schoeman eerstehands getuig. Dié naaswenner van die FAK se Afrikaanse liedjieskryfkompetisie, Skryf’it, het vir 19 jaar met die donkerte van verslawing gestoei, met musiek haar enigste reddingsboei.
“Ná my ontslag uit rehabilitasie, het ek besluit om vir Skryf’it in te skryf. As ’n nuwe begin. Om deur woorde en wysies weer lig in my lewe te vind. Ek was op ’n plek waar ek gevoel het ek het niks meer om te verloor nie,” vertel dié opwindende nuwe stem in die Afrikaanse musieklandskap.
Uit dié “nuwe begin” op reis na genesing is die lied “Konfetti sonder kleur” gebore wat sy saam met die bekende kunstenaar Ampie du Preez, haar mentor tydens die FAK-Skrif’it-kompetisie, geskaaf en afgerond het. Schoeman is eindelik as naaswenner van die kompetisie gekroon.
Volgens Schoeman is “Konfetti sonder kleur”, wat op 24 Oktober amptelik vrygestel word, opgedra aan ’n spesiale vriend wat lank met geestesgesondheid gesukkel en sy eie lewe geneem het. “Dié verlies het my diep geraak en die lied sy hart gee,” vertel sy.
“As ’n mens deur moeilike tye gaan, voel alles soms pikswart. ’n Mens sukkel om die hoop te sien en dis dán wanneer ons besluite neem wat ons én diegene rondom ons seermaak. My wens is dat die lied mense wat deur diep water gaan, sal moed gee om deur die donker tye vas te byt. Die groen tyd kóm! ’n Plek waar ons kan leer en groei. Waar ons uiteindelik weer lig en hoop kan vind.”
Met “Konfetti sonder kleur” deel Schoeman nie net haar eie ervaring nie, maar moedig ander aan om in moeilike tye uit te reik.
Sy beskryf die kreatiewe proses saam met Ampie du Preez as een van vryheid en groei. “Hy het my selfvertroue laat groei en my aangemoedig om die seer in iets positief om te sit. Al is die kompetisie verby, ondersteun hy my steeds ongelooflik baie met my nuwe projekte.”
“Ek het van die begin af geweet hierdie lied is Tuin se eie stem. My rol was om haar te ondersteun, klein aanpassings te maak, en die ruimte te skep waar sy haar boodskap eg en persoonlik kon oordra. Dis ’n besonderse lied wat hoop gee aan die een mens wat dit op die regte tyd nodig het. ‘Konfetti sonder kleur’ is uniek, rou en eerlik,” sê Du Preez.
Schoeman is dankbaar dat sy die geleentheid aangegryp het om aan die FAK-Skryf’it-kompetisie deel te neem. “Dit het my hoop gegee dat daar vir my ’n plek in die Afrikaanse musiekbedryf is en dat mense regtig na my stories en musiek wil luister,” vertel sy.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, bewys Schoeman se sukses dat Skryf’it in sy doel slaag om nuwe Afrikaanse liedjieskrywers te ontdek en ontwikkel, en ’n platform te skep om hul stemme te laat hoor.
“Die FAK beplan om Skryf’it in 2026 uit te brei met werkswinkels, streeksessies en moontlik selfs ’n verhoogproduksie, alles om nuwe Afrikaanse talent te vind,” sê hy.
• “Konfetti sonder kleur” is vanaf 24 Oktober op jou gunstelingmusiekplatform beskikbaar.



