Was jy al ooit aan ’n LYNTJIE gehou?

Die Piesangskille is seker een van die mees belowende jong opkomende groepe in ons land. Die groep bestaan uit Daniël Francois Marais en Johan Balt wat mekaar in Potchefstroom ontmoet het waar hulle tans albei studeer.

Na die sukses van hulle eerste enkelsnit “Mal Maandagaande” het Die Piesangskille op Maandag 19 Junie 2023 hulle tweede enkelsnit en musiekvideo, “Lyntjie”, vry vanaf hulle opkomende album Almal gly, bekendgestel.

“Lyntjie” is bietjie meer van ’n alternatiewe liedjie wat gaan oor daardie oomblik wat baie mense ervaar, waar dit vir jou voel asof ’n persoon jou aan ’n lyntjie hou en jy haar net probeer oortuig dat jy die regte een is vir haar.

Die liedjie is geskryf deur Daniël Marais, Johan Balt en Roux Cloete. Die inspirasie kom van Daniël wat baie erg oor ’n meisie was wat vir hom gesê het hulle moet eerder net vriende wees en toe, in sy oomblik van verleentheid, skryf hulle die liedjie, “Lyntjie”.

“Ons dink en hoop die publiek gaan dit goed ontvang, want ons glo daar is baie mense wat al in so situasie was. Die melody is ook ’n oorwurm en gaan in jou kop vassit vanaf die eerste keer wat jy die liedjie hoor.”

“Daar is nie rêrig ’n vaste storie met die musiekvideo nie, maar die boodskap agter die video wat ons wil uitbeeld, is net om te sê moenie dink omdat een van jou hoofstukke met ’n persoon verby is, dat daar nie iemand daarbuite vir jou is nie.”

Die Piesangskille se motto is: “Moenie jouself te ernstig opvat nie en vergeet van wat mense van jou dink.”

*Verklaring van Universal Musiek