Die geheime klippieklub

Erla-Mari Diedericks

VivA-Uitgewers

Prys: R116

Die geheime klippieklub deur Erla-Mari Diedericks is ’n verhaal wat inspireer. Dié oorspronklike storie begin in oertye waar ’n klippie as ’n ritueel gebruik word. ’n Klippie is eintlik ’n heel eenvoudige aardse element waaraan daar nie baie aandag gegee word nie, maar hierdie boek kleur die idee van ’n klippie op kreatiewe maniere in.

Breedweg handel Die geheime klippieklub oor vroue wat klippies verf en dit wegsteek vir ander om te vind. Elke vrou of ontvanger van die klippies het hul eie stories en sukkel self met hul eie seer. Die klippies verbind die vroue se stories met mekaar, totdat die sirkel uiteindelik voltooi word.

Die klippies in hierdie verhaal is baie simbolies. As ’n klippie in die water gegooi word, rimpel dit uit. Dit is presies wat met hierdie klippies gebeur. Dit rimpel uit in die vroue se lewens en dien as katalisator vir aksies wat geneem word. Die klippie is oop ’n simbool van ondersteuning en bemagtiging.

Daar is baie aktuele temas in hierdie verhaal wat tot die leser spreek. Die temas het oneindige moontlikhede en is onder andere vroue wat mekaar ondersteun, geslagsgeweld, kulture, rituele (groot en klein) en ook lewe en dood. Daar kan nog baie dieper gedelf word in kleiner temas in elke hoofstuk.

Die geheime klippieklub se karakters is modern en kleurvol. Die skryfstyl illustreer die karakter en haar omgewing baie goed, van angstigheid tot ’n onderdrukte kunssinnige streek. Die leser kan goed met elke karakter se menslikheid identifiseer en voel die dapperheid wat dit verg om aksie te neem.

Die plot in hierdie verhaal is soos klippies wat opmekaar gestapel word. Elke hoofstuk het sy eie storielyn en dit dra by tot die oorhoofse storielyn. Elke vrou se storie ontwikkel uiteindelik die groter plot van die boek. Die enigste nadeel in hierdie verband, is dat die leser ’n novelle verwag, maar dat die plot eerder lees soos ’n bundel kortverhale. In ag geneem in die groter konteks, is hierdie verhaalstruktuur heel gepas en sluit aan by die klipstapelgedagte. Die skakels tussen die vroue se stories is die verbinding met die hoofplotstruktuur.

Die geheime klippieklub is ’n uitstekende verhaal wat die leser nog baie sal laat dink. Koop dit hier: https://viva-uitgewers.org/.

Die geheime klippie klub