Mediaverklaring

30 Mei 2024

Slegs een dag na die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing, bevestig die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met die onthulling van ’n liedjiebord dat Suid-Afrika steeds vorentoe gaan.

Die lied “Vorentoe, Suid-Afrika!” is vir die 1988 Groot Trek 150-jaar-feesvieringe vir die FAK geskryf en is vandag amptelik in die Afrikaanse Liedjietuin onthul.

Die skrywer van die lied, Marius du Plooy, het die bord onthul van die lied wat hy meer as 36 jaar gelede geskryf het.

Du Plooy was getaak om die publisiteit van dié fees te help bevorder en deel van die strategie was om ’n feeslied te skryf.

“Gewoonlik vat dit baie lank om lirieke te skryf. Die ritme en klem moet op alle plekke reg wees, maar die lirieke vir hierdie lied het binne twee uur in plek geval,” sê Du Plooy.

Du Plooy het met sleutelwoorde begin skryf en van daar af was die tema duidelik: Vorentoe Suid-Afrika.

“Hierdie lied het ‘n betekenis van hoop en groei. Om vorentoe te gaan, is die kern van die lied. Ek het geen idee gehad toe ek die lied geskryf het, wat dit vandag vir Suid-Afrika sou beteken nie,” sê Du Plooy.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dit is ons almal se gebed vir Suid-Afrika om vorentoe te gaan.

“‘Vorentoe Suid-Afrika’ bly ’n mooi lied en ’n inspirasie,” sê Langner.

“Die lied het ook nie in 1988 gestop nie. Dit het neerslag gevind in twee ander liedere, ‘Trap nuwe spore’ deur Jak de Priester (2016) en ‘Die spore wat jy los’ deur Adam Tas (2021),” sê Langner.

Volgens Langner het beide hierdie liedere inspirasie gevind in “Vorentoe Suid-Afrika”.

Woorde soos “spore”, “aanvaarding” en “verdraagsaamheid” staan veral vir Du Plooy uit in die nuwe Suid-Afrikaanse konteks.

“My boodskap aan Suid-Afrika is: Hou op om op die negatiewe te fokus.

Dink aan die toekoms vorentoe. Wat is die spore wat JY nalaat? Gesels met die mense rondom jou. Die spore wat ons reeds getrap het, kan deur jou nog wyer getrap word,” sê Du Plooy.

Du Plooy voer verder aan dat die lied nie beteken dat jy die hele land moet verander nie, maar in jou wêreld ’n verskil kan maak. Hierdie lied was sy bydrae tot Suid-Afrika.

Dit is vir hom ’n reusevoorreg om die lied wat hy geskryf het, se bord tussen ander groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te sien.

“Dit is ’n ongelooflike groter as groot voorreg om my lied saam met groot name hier te sien. Dit voel of ek my kleintoontjie in die geskiedenis van Suid-Afrika vasgemessel het.”

Die FAK is dankbaar om hierdie waardevolle stuk erfenis in die Afrikaanse Liedjietuin te kon verewig.

Vorentoe Suid-Afrika

Teks: Marius du Plooy

Musiek: Johan Stemmet

Sang: Alabama Studentegeselskap

Spore van onthou

Spore van herleef

Spore van erkenning

En spore van beleef

Spore vol van vriendskap

Spore vol van glo

Spore vol van dankbaarheid

Die rigting kom van bo

Van Kaapstad na die noorde

Die toekoms ingedra

Die spore spel die woorde:

“Ons vir jou, Suid-Afrika!”

Vandag nog klink die bede:

“Ons sal offer wat jy vra!”

Vir die toekoms en die hede

Vir ’n sterk land

Mooi land!

Mooi land!

Suid-Afrika!

Paaie van beloof

Paaie van beplan

Paaie van benut

En paaie van bestaan

Paaie vol erkentlikheid

Paaie vol vertrou

Paaie vol verdraagsaamheid

Wat môre kosbaar hou

Van Kaapstad na die noorde

Die toekoms ingedra

Die spore spel die woorde:

“Ons vir jou, Suid-Afrika!”

Vandag nog klink die bede:

“Ons sal offer wat jy vra!”

Vir die toekoms en die hede

Vir ’n sterk land

Mooi land!

Mooi land!

Suid-Afrika!

Van Kaapstad na die noorde

Die toekoms ingedra

Die spore spel die woorde:

“Ons vir jou, Suid-Afrika!”

Vandag nog klink die bede:

“Ons sal offer wat jy vra!”

Vir die toekoms en die hede

Vir ’n sterk land

Mooi land!

Mooi land!

Suid-Afrika!

Suid-Afrika!