Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) doen ’n dringende beroep op besighede, inwoners en erfenisliefhebbers om saam op te tree nadat die kop van die burgerfiguur op die Anglo-Boereoorlog-monument op Lichtenburg se dorpsplein die afgelope naweek afgekap is.

Volgens die FAK vorm dié jongste daad van vandalisme deel van ’n jarelange patroon van verwaarlosing, diefstal, brandstigting en beskadiging van historiese bakens in Lichtenburg. Die organisasie doen daarom ’n beroep op inwoners, besighede, erfenisliefhebbers en oud-Lichtenburgers om ’n petisie te teken en deel te word van ’n georganiseerde gemeenskapsaksie om die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit tot optrede te beweeg.

“Die jongste voorval wys vir ons dat ons nie langer kan wag vir nóg ’n vergadering met beloftes wat nooit gerealiseer word nie, of nóg ’n skrywe wat geen betekenisvolle uitkomste oplewer nie. Die plaaslike munisipaliteit het al jare gehad om sy beloftes rakende erfenisbewaring en -beskerming na te kom, maar daar gebeur eenvoudig niks.

“Dat sulke voorvalle juis gedurende Erfenismaand plaasvind, beklemtoon die erns van die situasie. Ons hoop mense besef nou eens en vir altyd dat ons nie die voortbestaan van ons erfenisbakens uitsluitlik in die staat se hande kan laat nie,” sê Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte.

Die FAK is reeds jare lank in gesprek met die munisipaliteit oor die toestand van die erfenisbakens in die gemeenskap. Die mees onlangse gesprek het op 1 April 2025 plaasgevind, waartydens die toestand van verskeie bakens, waaronder die De la Rey-ruiterstandbeeld en die Afrikaanse Taalmonument, bespreek is.

Volgens die FAK probeer die organisasie reeds sowat vyf jaar lank om die munisipaliteit te oorreed om daadwerklike maatreëls vir die beskerming en instandhouding van die dorp se erfenis te implementeer. Intussen het die situasie volgens die organisasie aansienlik versleg.

Die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum is in Oktober 2023 deur ’n brand verwoes, terwyl die stadsaal kort daarna dieselfde lot getref het. Die landboumuseum is veral gedurende 2024 herhaaldelik geteiken, met historiese voorwerpe en materiaal wat gesteel

is. ’n Lokomotief op die terrein is boonop deur brand vernietig. Die FAK het destyds ook ingetree om oorblywende erfenismateriaal te red.

Die kop van generaal Koos de la Rey se borsbeeld op sy graf is in 2021 afgekap. Nadat die monument herstel is, is die vervangingskop volgens die FAK in 2025 weer deur vandale afgekap. Op die dorpsplein is die bekende brons-ruiterstandbeeld van generaal De la Rey eweneens gevandaliseer toe ’n deel van die sweep afgesaag en gesteel is.

Verder is die Afrikaanse Taalmonument op die dorp beskadig nadat onder meer letters en die biddende hande gesteel is. Die 1938-Eeufeesmonument is ook reeds erg gevandaliseer. Hierdie voorvalle vorm deel van ’n groeiende lys historiese bakens wat oor jare heen beskadig, geplunder of vernietig is.

Volgens Müller is die doel van die nuwe petisie nie bloot om nóg ’n lys handtekeninge saam te stel nie, maar om ’n gemeenskap te mobiliseer wat bereid is om prakties by die oplossing betrokke te raak.

“Ons wil mense die geleentheid gee om ’n verskil te maak. Jy hoef nie in Lichtenburg te woon om betrokke te wees nie. Jy kan die petisie teken, jou vaardighede aanbied, finansiële ondersteuning gee, as vrywilliger inspring of jou besigheid se hulp beskikbaar stel.

“Die boodskap moet duidelik wees: Hierdie erfenis behoort aan die gemeenskap, en ons gaan saam verantwoordelikheid neem om dit te help bewaar.”

Die FAK versoek die munisipaliteit om sy verantwoordelikhede ingevolge toepaslike erfeniswetgewing na te kom en dringend aan te dui watter konkrete stappe geneem gaan word om die oorblywende erfenisbakens te beskerm.

Die organisasie vra verder dat, indien die munisipaliteit nie oor die nodige kapasiteit, hulpbronne of vermoë beskik om bepaalde erfenisbates behoorlik te beskerm nie, ’n wettige proses oorweeg word waardeur dié bates aan ’n bevoegde erfenisbewaringsinstansie oorgedra of onder toepaslike veilige bewaring geplaas kan word.

Die De la Rey-ruiterstandbeeld, wat bykans die enigste prominente baken is wat nog nie ernsige skade opgedoen het nie, geniet besondere aandag. Die FAK het reeds aangebied om saam met die munisipaliteit en toepaslike erfenisowerhede na ’n wettige en praktiese oplossing vir die bewaring daarvan te soek.

Die organisasie beklemtoon dat dit nie bloot oor een monument gaan nie. Dit gaan oor die vraag of toekomstige geslagte steeds toegang sal hê tot die fisiese plekke en monumente wat Lichtenburg se geskiedenis vertel.

Lede van die publiek kan die petisie teken, die veldtog met ander deel en registreer om by toekomstige gemeenskapsaksies betrokke te raak. Hierdie vorm die eerste stap van die erfenis-inisiatief.

“Met voldoende openbare steun kan betekenisvolle druk uitgeoefen word om daadwerklike optrede af te dwing. Ons sien ook ’n rol vir mense wat prakties wil help deur hul tyd,

kundigheid, materiaal, dienste, sekuriteit, bemarking of finansiële ondersteuning beskikbaar te stel,” sê Müller.

Die FAK wil met die petisie ’n duidelike boodskap aan die munisipaliteit stuur: Lichtenburg se erfenis kan nie langer aan verval en vandalisme oorgelaat word nie.

Die organisasie sê hy is bereid om deel van die oplossing te wees, maar beklemtoon dat dringende optrede van sowel die munisipaliteit as die publiek noodsaaklik is om voortgesette vernietiging van die dorp se erfenis te stuit. Teken die petisie hier en staan saam met die FAK vir die bewaring van Lichtenburg se erfenis. https://redmyerfenis.co.za/