Die afgelope paar weke is ’n aantal splinternuwe Afrikaanse liedjies vrygestel; nie net deur nuwe kunstenaars nie, maar ook deur ’n paar van wie ons lank laas gehoor het.

Drie lede van dieselfde gesin het byna tegelyk nuwe musiek as solokunstenaars of as deel van ’n groep uitgereik, die Springbokke se rasieleier is terug met ’n liedjie wat die span tydens die Wêreldbeker sal aanspoor en ’n paar Afrikaanse supersterre wie se loopbane vroeg in die nuwe millennium begin het en lank stil was, maak hul terugkeer. Laastens is daar ’n nuwe treffer wat op die jongklomp gemik is en ’n samewerking tussen drie gewilde sangers.

“Die Bokmasjien” – Leon Schuster

Wat is ’n rugby-wêreldbekertoernooi sonder Leon Schuster? Hy is terug met sy jongste rugbyliedjie, “Die Bokmasjien”, waarin hy onder meer hulde aan Springboklegendes van weleer bring. Hoewel die toernooi in Frankryk gespeel word, is dit ’n lekker manier vir rugbyliefhebbers om gees te vang. Dit gaan net so ’n groot treffer soos sy vorige rugbyliedjies wees, en hopelik sal dit die Springbokspan motiveer om die Wêreldbeker te behou.

“As Hy weer kom” – Bernice

Bernice het groot sukses met “Lyfie” behaal; sy het gewys dat musiek tot eer van die Here byderwets en toeganklik kan wees. Haar nuwe treffer is gebaseer op die ou Halleluja-lied “As Hy weer kom”, maar net die eerste paar reëls word gebruik en sy het besluit om iets heeltemal nuuts te skep. Hierdie liedjie is reeds ’n groot treffer, en dit behoort die trefferslyste lank te oorheers.

“Hey jy” – Rooksein

Bernice se twee broers het die afgelope tyd self nuwe musiek uitgereik. Haar broer Renier van der Westhuizen is saam met Megan Danner en Dian Maritz deel van die groep Rooksein, wat groot sukses met liedjies soos “Kyk na my hart” en “Damlelielief” behaal het. Hulle was van plan om dit vir iemand anders te gee om op te neem, maar hulle het besluit om dit self te doen. Hulle beskou hierdie snit as ’n nuwe hoofstuk in hul loopbaan.

“Boer in my hart” – Van West

Bernice se ander broer, Derik, sing onder die naam Van West en sy jongste enkelsnit is pas uitgereik. Die boodskap van “Boer in my hart” kan maklik verkeerd verstaan word as ’n opruiende kreet, maar die boodskap is veel dieper as dit. Hierin sê hy eerder dat dit belangriker is om die Here te dien as om rykdom en roem na te streef.

“Kwagga-karnaval” – Kurt Darren, Ricus Nel en Eloff

Kurt en Ricus het geen bekendstelling nodig nie; Eloff is tans besig om gewild te word danksy treffers soos “Johnnie Blou”, “Witblits” en “Koue kole”. Hulle drie het saamgespan vir een van die lekkerste liedjies van die jaar. Hulle is ’n wenkombinasie, en die verandering in ritme in die middel van die liedjie maak dit iets besonders. Noudat die jaar sy pylvak bereik, gaan ’n mens hierdie een al hoe meer begin hoor!

“Toe, nou en altyd” – Bobby van Jaarsveld

Bobby van Jaarsveld het lank laas nuwe musiek uitgereik, maar dit was nie asof hy stilgesit het nie. Hy het homself onder meer as akteur gevestig, en was mede-aanbieder van die televisieprogram Die kontrak. Sy jongste enkelsnit, ’n komposisie van Johan Oberholzer, is sy eerste nuwe vrystelling in vyf jaar, en dis reeds besig om ’n treffer te word. Hy is van plan om binnekort weer ’n album uit te reik.

“Rigtingnaald” – Ray Dylan

Nog ’n sanger wat lank stil was, maar wel onlangs ’n paar nuwe enkelsnitte vrygestel het, is Ray Dylan. Hoewel Werner Beukes die liedjie geskryf het, beskou Ray dit as ’n nostalgiese reis deur sy musiekloopbaan. Daarby gee hy erkenning aan sy vrou, wat vir hom ’n doel en ’n sin vir rigting in die lewe gegee het.

“Marakkas” – Snotkop

As jy na iemand soek om skop aan ’n partytjie te gee, is daar seker niemand beter as Snotkop nie. Met sy jongste enkelsnit hou hy by sy wenresep; dit word beskou as ’n oproep vir kattekwaadmakers om lewe in ’n partytjie te blaas. Dit kry hy baie goed reg, veral as gevolg van die aansteeklike ritme en wysie.

“Ons sal jonk bly” – Nicholis Louw

Nicholis was lank stil, maar met “Coco Pops en kaas” het hy bewys dat sy loopbaan nog lank nie verby is nie. Hy het sy jongste enkelsnit, “Ons sal jonk bly”, self geskryf; dit is ’n lekker aansteeklike liedjie met ’n akoestiese klank wat ver verwyderd is van sommige van sy vorige musiek. Dit is seker een van die lekkerste Afrikaanse liedjies wat die afgelope tyd uitgereik is, en hopelik sal dit ’n groot treffer word!

“Net ’n bietjie tyd” – Lila Swift

Lila Swift is ’n nuweling op die Suid-Afrikaanse musiektoneel, en haar eerste enkelsnit, “Net ’n bietjie tyd”, is pas uitgereik. Murray Lubbe was verantwoordelik vir die produksie en Richann Brüssow, wat deel van die sangpaar Reën is, het dit saam met Lila help skryf. Daarby was Richann medeverantwoordelik vir die musikale verwerking. Daar is geen twyfel dat sy die potensiaal het om gewild te word nie, veral omdat haar country-geïnspireerde klank die toets van die tyd baie goed behoort te deurstaan.

deur Daantjie Badenhorst