Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het vanjaar ’n splinternuwe kantoor by Akademia se Paarl-kampus geopen en Jolene le Roux as kultuurnetwerkkoördineerder in die Wes-Kaap aangestel.
“Ek het as boorling van dié provinsie ’n diep persoonlike passie vir Afrikaans en kultuur, en wil as brugbouer met die gemeenskap, skole, studente en kultuurrolspelers hande vat om taal, kultuur en geskiedenis in die streek te bevorder,” sê Le Roux.
“Ek het in die Strand grootgeword en vroeg reeds ’n liefde vir kultuur deur musiek en rolprente ontwikkel. Ek is lief vir die mense hier en is geleer om trots te wees op wie ek is.”
Le Roux het reeds in haar studentejare aan die Universiteit Stellenbosch by kultuurorganisasies soos AfriForum Jeug betrokke geraak. “Toe ek die pos by die FAK sien, het ek geweet dit is perfek vir my,” vertel sy. “Die FAK se missie om taal en kultuur te bewaar, bevorder en te bou en ’n tuiste vir mense te skep, is iets wat my geweldig opgewonde maak.”
Le Roux, wat in 2025 haar meestersgraad in teologie voltooi het, glo haar akademiese agtergrond het haar goed vir haar nuwe rol voorberei. “Teologie vorm ’n sekere fondasie en denkwyse,” verduidelik sy. “Dit het my laat besef daar is iets dieper as die oppervlakkige; en dit is ons verantwoordelikheid om aan iets blywend te bou.
“Die FAK is al vir bykans ’n eeu ’n tuiste waar mense Afrikaans en Afrikanerwees kan hoor, sien en ervaar – nie net daaroor praat nie,” sê sy. “Die organisasie is veral passievol oor jong kunstenaars en die ontwikkeling van talent.”
Le Roux se fokus is om vanjaar ’n sterk netwerk in die Paarl en omliggende gebiede te bou. “Waar universiteite en kampusse kultuurprojekte aanbied, wil ek inskakel en help om dit verder uit te bou.”
Sy het reeds die FAK se betrokkenheid sigbaar gemaak tydens Akademia se eerstejaarskonsert deur ’n toekenning vir die beste ambassadeur vir Afrikaans te oorhandig. “Dit is belangrik om aan jongmense erkenning te gee en hulle aan te moedig om trots op hul erfenis en geskiedenis te wees. In hierdie deurmekaar wêreld is daar ’n dringendheid om mense te help om hul identiteit te ontdek en te vier,” sê sy.
Daarom is die FAK se betrokkenheid by onder meer debatkompetisies vir haar so belangrik. “Jongmense wil nie hoor: julle is die toekoms nie, want hulle is inderwaarheid (reeds) die nóú. Die toekomsbouers aan ’n beter môre.”
Volgens Le Roux bied die Wes-Kaap unieke geleenthede vir kultuurontwikkeling. “Die provinsie is ryk aan geskiedenis, met talle museums en monumente. Daar is volop geleenthede om projekte aan te bied en bewaringswerk te ondersteun. My droom is om ’n brugbouer tussen mense en geleenthede te wees,” sê sy.




