Hoewel die jaar einde se kant toe staan, het ’n aantal kunstenaars nuwe musiek vrygestel; onder hulle is die eerste enkelsnit vanaf ’n gewilde sanger se jongste album, die temaliedjie van ’n televisieprogram op kykNET, ’n liedjie wat opgedra is aan een van die gewildste Springbok-rugbyspelers op die oomblik en die eerste enkelsnit deur ’n nuwe sangeres wat jong luisteraars opgewonde behoort te maak.

“Eben Etzebeth” – Robbie Wessels

Die Wêreldbeker-rugbytoernooi is dalk iets van die verlede maar aangesien die Springbokspan hul titel suksesvol verdedig het, kan ’n mens nog steeds na sekere rugbyliedjies luister. Die Springbok-slot Eben Etzebeth is een van die gewildste rugbyspelers op die oomblik en Robbie Wessels het die titelsnit van sy rugby-album, Hiep hiep hoera, opgevolg met hierdie huldeblyk aan baie Suid-Afrikaners se rugbyheld. Robbie het hom vier jaar gelede by ’n funksie ontmoet en besef dat Eben ’n nederige mens is al het hy reeds diep spore in rugby getrap. Hierdie liedjie sou nie die toets van die tyd deurstaan het as die Springbokke nie weer die Wêreldbeker gewen het nie, maar Robbie se risiko om hierdie liedjie te skryf en op te neem, het groot vrugte afgewerp.

“Mense op die dorp” – Ruhan du Toit

Die televisiereeks Dankie Lottoland het soveel sukses behaal dat Lottoland: help ’n dorp daarop gevolg het. Dit is ’n reeks waarin dertien dorpe oor die hele Suid-Afrika deur Lottoland gehelp word om aandag te gee aan sekere dinge wat in dié dorpe gedoen moet word. Maryke Haywood van Lottoland het Loki Rothman genader om die temaliedjie vir laasgenoemde reeks te skryf, en Ruhan du Toit het dit pas opgeneem. Dit het die potensiaal om ’n groot treffer te word.

“Asseblief” – Elandré

Elandré het hom die afgelope paar jaar as een van Suid-Afrika se voorste sangers en liedjieskrywers gevestig deur vorendag te kom met musiek wat van integriteit gespreek het. Sy jongste album, Estetika, is onlangs vrygestel en “Asseblief”, die eerste enkelsnit, is ’n laaste versoek vir ’n geliefde om hom weer ’n kans te gee, maar dit klink nie naastenby so selfbejammerend soos ander liedjies met dieselfde tema nie. Dit is inteendeel ’n uitstekende komposisie wat reeds besig is om baie gewild te word.

“Hartenbos” – Anya Swart

Anya Swart se eerste enkelsnit is onbeskaamd op ’n jonger gehoor gemik en behoort die dansvloere gou vol te kry. Met die naderende vakansie wat vir hulle voorlê, sal hierdie liedjie ideaal vir die langpad of partytjies op die strand wees. Anya het die potensiaal om dit nog ver in die musiekbedryf te bring.

“Tannie Katesbes” – Fatman

Sedert die publiek in The Voice met hom kennis gemaak het, het Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is, op liedjies met ’n komiese inslag gekonsentreer. Dit maak dat jy gaande is oor sy musiek of dit glad nie kan verdra nie. In sy jongste treffer, wat hy saam met Roux Cloete geskryf het, sing hy van ’n pa met ’n pragtige dogter wat elke vryersklong met ’n 30-06-geweer verjaag.

“Suid” – Juan Boucher en Tasché

Juan is nou al lank in die musiekbedryf en dit het met sy laaste twee albums duidelik geword dat hy geweldig as musikant gegroei het. Sy jongste album, Die rower, is vroeër vanjaar uitgereik en “Suid”, sy duet saam met Tasché, is reeds besig om gewild te word. Dit is sonder twyfel een van die mooiste liedjies tot dusver vanjaar en reeds besig om ’n groot treffer te word.

“Ek sukkel” – Ruan Josh

Ruan kom uit ’n musikale familie; sy ma en suster is onderskeidelik Juanita en Franja du Plessis. Franja het die jongste enkelsnit, “Ek sukkel”, geskryf na aanleiding van Ruan se ontmoeting met ’n gewese Mej. SA, wie se naam nie genoem word nie. Soos “Ligte af”, die eerste enkelsnit vanaf sy nuwe album, Wysers, is hierdie snit op die dansvloer gemik.

“Boksemdais” – Riaan Benade

Riaan is nog ’n tweedegeslag-sanger; sy pa Franna Benade is een helfte van die sangpaar Innes en Franna, wat as broers die eerste reeks van die televisietalentkompetisie Debuut gewen het. Riaan het groot sukses met sy eerste album, Spontaan, behaal en daarna het hy en Ricus Nel die snit “Haai haai” saam opgeneem. Nou is hy terug met sy jongste enkelsnit, wat reeds bo-aan ’n paar trefferslyste is. Met hierdie snit kan ’n mens agterkom dat hy beslis sy pa se musiektalent geërf het en hier is om te bly.

“Ek wonder” – Riana Nel

Riana het vroeër vanjaar na ’n lang stilte haar hertoetrede tot die musiekbedryf aangekondig met “Wat nou?”, wat ’n groot treffer op verskeie radiostasies was. Haar tweede enkelsnit van die jaar, “Ek wonder”, is self besig om gewild te word, en hoewel ’n musiekvideo veronderstel is om ’n liedjie te ondersteun eerder as te oorheers, maak die vliegtuie en die pragtige Porsche 356 Speedster, soortgelyk aan die motor waarmee die Amerikaanse akteur James Dean noodlottig in ’n motorongeluk beseer is, die video iets besonders. Die liedjie bewys ook dat daar geen rede is hoekom ’n liedjie met ’n sterk Christelike boodskap nie ’n groot treffer kan word nie.

“Inge 2” – Die Piesangskille

Die Piesangskille was seker een van die beste, en gewildste, nuwe groepe van die jaar. Hoewel hulle aanvanklik net bymekaargekom het om vir die lekkerte op te tree en nie aan ’n voltydse musiekloopbaan gedink het nie, het die radiostasies anders besluit. Dit het gemaak dat hulle groot sukses met hul trefferliedjies “Mal Maandagaande” en “Lyntjie” behaal het. “Inge 2” is hul derde enkelsnit en met hierdie liedjie het hulle meer gevestigde en ervare kunstenaars en groepe uitgestof en die eerste plek op meer as een radiostasie gehaal. Dit was ook nie sommer net ’n gelukskoot nie; hulle het met hierdie liedjie gewys dat hulle nie net met die groot name in die bedryf kan saamgesels nie, maar dat hulle ook sommer binnekort in dieselfde asem genoem kan word.