Mediaverklaring

1 Junie 2023

’n Klein gemeenskap kán ’n groot verskil maak.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge vier die heldedaad van die Suid-Afrikaanse held Wolraad Woltemade, wat op 1 Junie, 250 jaar gelede sy lewe opgeoffer het om ander te red.

By sy standbeeld wat op die Old Mutual-kantore in Pinelands, Kaapstad se perseel te vinde is, wou die FAK in ’n klein intieme, nauurse funksie kranse lê en hierdie held vereer vir sy heldedaad.

Maar toe Old Mutual weier om toestemming te gee vir hierdie funksie, het die FAK die gemeenskap se steun ingeroep. Byna 500 mense het die FAK dadelik ondersteun en moes Old Mutual maar van deuntjie verander. Aanvanklik het Old Mutual gesê: “Ons erken ontvangs van jou versoek gedateer 8 Mei 2023. Ons is egter nie in staat om dit na te kom nie. As ’n besigheid wat verteenwoordigend is van ’n diverse verskeidenheid kulture, is ons baie bedag op hoe ons beide erfenis vier en eer, beide in Suid-Afrika en regoor die Groep.”

In ’n verbasende wending het Old Mutual gesê dat hulle breied is om saam met die FAK en ander organisasies te werk oor kwessies van erfenis en hoe hul dit “inklusief” kan vier.

Luidens ’n verklaring van Old Mutual se woordvoerder Vuyo Mtawa sê hy: “As ’n maatskappy wat diversiteit nastreef, glo ons in die belangrikheid daarvan om alle geslagte, kulture, rasse en gelowe in te sluit.”

Waarom dan die aanvanklike weiering?

Die FAK het egter nie op toestemming gewag nie en sou met of sonder verset die kranse lê.

Op 1 Junie, het die FAK, sy Kaapse kultuurnetwerke, AfriForum en Solidariteit voor die Old Mutual-kantoor bymekaargekom en die krans gelê.

Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die FAK, sê dit is weereens ’n bewys van wat organisasies soos die FAK en die gemeenskap kan vermag.

“Hierdie aksie deur die FAK is weereens ’n klinkklare bewys van die mag van en krag van ’n gemeenskap se stem, en hoe die gemeenskap se stem selfs groot organisasies se ore laat spits en hulle van deuntjie laat verander.”

Wolraad Woltemade se heldedaad is ’n inspirasie vir oud en jonk wat die kranslegging bygewoon het.

“Ek is hier vandag om ’n man te vereer wat nie met arms gevou op die strand gestaan het nie, maar sy moue opgerol het, gewerk het. So kan ons ook nie vandag net stilsit en toekyk nie, ons moet werk.”

Só sê Etienne Hansen (18), lid van die publiek wat saam met die FAK blomme by Wolraad Woltemade se beeld gelê het.

Die FAK is oorweldig met navrae en kommentaar oor hierdie kwessie en Elizma Smith, kultuurorganiseerder van die FAK, het in ’n kort toespraak by die geleentheid gesê dat dit vir haar wonderlik is hoe die gemeenskap die FAK steun in die saak, maar moedig die gemeenskap aan om selfs verder betrokke te raak by die bewaring en viering van ons erfenis en geskiedenis.

“As daar ’n krisis is, wees een van die ouens wat daar is. Moenie by jou rekenaar sit en net van ver af ondersteun nie, kom en wees daar,” sê Smith.

Die FAK sal nie die miskenning van die Afrikanerkultuurerfenis duld nie en bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning en bydrae om ’n verskil te kan maak.

Wolraad Woltemade het 14 mense gered in die sewe keer wat hy en sy perd die stormagtige waters trotseer het toe die De Jonge Thomas skipbreuk gely het. Met die agtste poging het hy en sy perd die hoogste prys betaal en verdrink.

Jy kan steeds ’n krans lê: https://forms.gle/sy8fSVx2VeavW7NY8