Mediaverklaring

20 Januarie 2024

Oom Paul staan nou weer sy plek vol op Kerkplein, Pretoria – sy baadjie blinkskoon en sy hoed afgestof.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, met die ondersteuning van verskeie instellings en die Tshwane-metroraad, maak seker dat Oom Paul steeds fier en trots bo sy Boerekrygers op Kerkplein kan uitstyg.

’n Groep van meer as twintig erfenisbeskermers, waaronder verskeie organisasies soos die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, die Rapportryerbeweging (RRB), AfriForum en ook politieke partye, asook lede van die publiek het op Kerkplein in Pretoria byeengekom en opnuut besef hoe belangrik dit is om self eienaarskap van jou erfenis te neem. Jonk én oud het hand bygesit en ’n verskil gemaak.

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noordelike streke van die land, sê dat hierdie dag ons weer herinner aan ons voorouers se opofferings en die lesse wat ons uit ons ryk kultuurerfenis kan leer.

“Dit is ’n voorreg om ’n man te kan herdenk wat sulke diep voetspore op ons Afrikanerlandskap getrap het. Dit is van kardinale belang dat ons as Afrikaners diegene moet onthou wat voor ons gekom het. Ons moet uit hulle lewens lesse leer tot die verbetering en bevordering van ons eie lewens, en ons Afrikaneridentiteit en ook dankbaarheid wys vir dít wat hulle vir ons gedoen het,” sê Rademeyer.

Die RRB het ook hul bydrae gelewer tot die skoonmaakaksie.

Vir Theo van Rooyen, jong lid van dié kultuurorganisasie, is erfenis en spesifiek Paul Kruger na aan sy hart.

“Ons is trots in wie en wat ons is en dit is my plig as trotse Afrikaner om hierdie tipe goed in stand en netjies te hou – vir ons en vir geslagte wat nog kom,” sê Van Rooyen.

Hierdie skoonmaakaksie is een van verskeie nuwe verwikkelinge in en om Kerkplein om hierdie area as toeriste-aantreklikheid te bevorder. Verlede jaar het die FAK met trots vermeld dat Paul Kruger se kantoor op Kerkplein ook nou vir die publiek oop is om te besoek. Tesame met die pogings wat die Heldeakker-Samewerkingsinisiatief aanwend in die Heldeakker, word die ou geskiedenis van Pretoria weer herleef, gevier en oorvertel.

Die FAK se kultuurnetwerke is weekliks betrokke by soortgelyke projekte en aksies. Kontak gerus vir charles@kultuurtuiste.org.za om meer uit te vind of om betrokke te raak. Met die krag van die gemeenskap kan ons die toestand van ons Afrikanererfenis omkeer en dit opnuut onthou.