“Ek is in ’n fase van my lewe waar om ’n wasmasjien te koop my opgewonde maak,” skerts Francois Roux, lid van die tweemanorkes, Vrede.

Francois en Storm Opperman het byna ’n jaar terug hul orkes begin en het op 9 Junie hul nuutste enkelsnit, “Klein wêreld” bekendgestel. Tydens ’n eksklusiewe onderhoud met die FAK vertel Francois dat hierdie lied oor grootword, groot drome en die aanvaarding van verantwoordelikhede is.

Francois gesels met die FAK oor “Klein wêreld” en hulle groot drome vir Vrede.

Wou jy nog altyd in die musiekbedryf gewees het?

“Vandat ek vier was, was my antwoord op die vraag ‘wat wil ek eendag word’ om ’n rock en roll-man te wees,” vertel Francois. Op die ouderdom van ses het hy begin kitaar speel en het net nog nie die kitaar neergesit nie.

Wanneer Francois nie sy eie droom uitleef nie, help hy om ander kunstenaars s’n te laat waar word. Hy is die digitale bestuurder by Vonk Musiek.

In ’n bedryf waar daar soveel kompetisie is, wat laat Vrede uitstaan?

“Kompetisie is dik,” sê Francois. “Daar is baie meer inhoud om te verbruik en mense soek wat vars en nuut is. Maar mense soek musiek met mening en met ’n dieper betekenis agter die musiek.”

Dís hoe Vrede hulself gaan vestig.

Waaroor gaan “Klein wêreld”?

“Klein wêreld” vertel die storie van Vrede wat van Kaapstad na Gauteng getrek het. Hulle is lief vir Afrikaans en wou graag musiek maak in Afrikaans en die mark in Gauteng is soveel groter en bied meer geleenthede vir ’n splinternuwe orkes.

Dié lied vertel van grootword, vertel van jou huis en jou mense agterlaat, maar dat die wêreld eintlik baie kleiner is as wat ’n mens dink.

Hy vertel dat alhoewel hulle na die anderkant van die land getrek het, hulle steeds heeltyd kennisse raakloop, of vriende van vriende.

Die lied gaan oor die “aanvaarding van verantwoordelikheid; van grootmens wees” en dat die aankoop van ’n wasmasjien groot opgewondenheid veroorsaak het.

“Dis opwindend en vreemd.”

Verder vertel “Klein wêreld” ook van hul ervaringe in die lewe en dat hulle tot die besef gekom het dat hulle vriende vir hulle net so waardevol soos familie is.

“En sien hoe alles op die ou end uitdraai

Die water loop dikker as bloed”

Partykeer is vriende die familie wat mens kies.

Hoekom musiek in Afrikaans?

“Ons glo in Afrikaanse kuns en lirieke, in Afrikaanse musiek,” sê Francois.

Hy beskryf homself as ’n trotse Afrikaner en het werklik sy wortels ontdek toe hy Gauteng toe getrek het.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?

“Ek het geleer almal het hul eie perspektief en ons moet dit respekteer,” sê Francois. Nóg ’n les wat die grootmenslewe leer.

Wie is jou gunsteling- Afrikaanse kunstenaar?

Herman Kleynhans.

Waar kan ons meer van Vrede kry?

Vrede tree op by Innibos, wat plaasvind 28 Junie tot 2 Julie 2023.

Sien meer van Francois en Storm op Vrede se sosiale profiele op Facebook en Instagram.