Die afgelope week het hoër- en laerskoolleerlinge tydens Orania CVO se redenaarsbyeenkoms hul menings met selfvertroue uitgespreek. Cara Tomlinson, kultuurorganiseerder van die FAK in die Noord-Kaap, het as ’n beoordelaar tydens die geleentheid opgetree. Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) stel jaarliks ’n lys van temas bekend waaruit leerlinge kan kies, waarna hulle hul eie betogende toesprake skryf.
“Dit is vir die FAK ononderhandelbaar om betrokke te wees by die kultuurvorming van die volgende geslag, en hierdie is ’n kerngeleentheid hiervoor!” sê Tomlinson.
Leerlinge van Graad 1 tot 12 neem aan die kompetisie deel en formuleer elk ’n eie onderwerp gebaseer op die voorgeskrewe temas. Hierdie onderwerp dien as die standpunt waar hulle die gehoor moet oortuig. “Hierdie jaar was daar interessante en prikkelende onderwerpe. Leerlinge het onder meer gepraat oor temas soos: die aarde is van sy wentelbaan af, die alternatief tot Amerika, en dat ’n sterk karakter sterk waardes in aksie is.”
Byeenkomste soos hierdie bied leerlinge die geleentheid om hul standpunte en oortuigings duidelik te verwoord en dit met oortuiging aan ’n gehoor oor te dra. Die bevrediging kom wanneer ’n spreker daarin slaag om die gehoor van sy of haar standpunt te oortuig.
Die skoolronde-redenaars word opgevolg deur ’n Noord-Kaap-streekbyeenkoms, waarna slegs die vier beste leerlinge per graad gekies word om aan die nasionale redenaarsbyeenkoms deel te neem.
“Redenaars beteken selfvertroue om jou stem te gebruik. Dit is die vermoë om jouself in woorde uit te druk en jou mening te lug sonder vrees. Redenaars leer jou om ander te laat nadink, of selfs te oortuig van jou standpunt – nie deur te skree, te dreig of te beveel nie, maar deur die regte woorde te kies en dit met feite te ondersteun,” sê Cara Tomlinson, kultuurorganiseerder van die FAK in die Noord-Kaap


