Orania CVO-skool besoek die Voortrekkermonument

Leerlinge van die Orania CVO-skool het die Voortrekkermonument in Augustus ná afloop van hulle nasionale BCVO- kultuur-en-redenaarsbyeenkoms in Pretoria besoek.

Ongeveer 20 leerlinge, al die pad van die Noord-Kaap, het die geleentheid gehad om hierdie wêrelderfenisbaken te besoek en meer oor die Groot Trek, Bloedrivier en ons geskiedenis te leer. Dit was baie van die leerlinge se eerste keer by die Monument en het beslis ’n groot indruk gemaak.

Anne Wessels, ’n graad 3-leerling, het opgewonde vertel dat dit gevoel het of haar verjaarsdagwens waar geword het toe sy by die trappies van die Monument oploop. Wessels verjaar op Geloftedag en wou nog altyd graag hierdie erfenisbaken besoek.

Die kultuurspan het die argitektuur van en marmerfriese in die Monument baie waardeer en die koor het dadelik van die geleentheid gebruik gemaak om van hulle koorliedere en “Die lied van jong Suid-Afrika” in die Monument te sing.

“Dit was so lekker om te sien dat die kinders die besoek geniet en op ’n prettige, insiggewende manier meer oor hul erfenis geleer het,” sê Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder van die Noord-Kaap.