Orania CVO-skool saam met die ander CVO-skole in die Noord-Kaap het op 31 Julie en 1 Augustus hul streekskultuurbyeenkoms op Orania aangebied.

Die naweek se kultuurprogram het met redenaars afgeskop, waarna die laatmiddag en aand gewy is aan drama, toneel, prosa en poësie. Saterdag het die kultuurvierings voortgegaan met sang, musiek, asook nog drama en poësie.

“Elke jaar se kultuur is nuut, skeppend en vermaaklik. Die streekskultuurfees het die gehoor laat skaterlag, maar ook hier en daar ’n traan laat pink,” vertel Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap.

Leerlinge van graad 1 tot 12 het die geleentheid aangegryp om uitdrukking aan hul emosies te gee en die mooi, maar ook die moeilike, in die lewe uit te beeld. Daar is musiek gemaak en gesing, terwyl die naweek gevul was met kreatiewe vermaak en die uitbeeldings van gebeure en oomblikke wat deel van ons daaglikse lewe is.

Uit die twee vol dae se kultuur is slegs 20 items in sang, musiek en drama gekies om die Noord-Kaap by die BCVO se Nasionale Kultuurfees en Redenaars te verteenwoordig. Die nasionale byeenkoms vind op 22 en 23 Augustus in Potgietersrus (Mokopane) plaas.

“Dit is lekker om die verbetering jaarliks waar te neem en saam met die CVO-skool se kultuurspan te groei,” sê Tomlinson.

Baie geluk aan elke leerling wat die naweek dapper genoeg was om die verhoog aan te durf! Julle kreatiwiteit, talent en moed maak kultuur lewendig.