Mediaverklaring

16 Mei 2024

“As oom Paul Kruger geweet het waens kon vlieg, was die Anglo-Boereoorlog baie gouer verby,” skerts Jan-Danie Malan, kultuurnetwerkkoördineerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Die FAK se Udolpho Rivierplaas het ’n eerste van sy soort projek in Suid-Afrika aangepak en ’n ossewa gebou en op ’n paal by die ingang van die plaas gesit.

Volgens Malan is die wa op die paal gebou en nie tot daar gehys nie. Die ossewa bestaan uit parte wat Udolpho aangekoop het, en as skenkings ontvang het.

“Die kap bestaan uit ’n vrag- of transportwa-kap uit die vroeë 1900’s, asook die kante van ’n replika kakebeenwa. Die boom van die wa is van 50 mm dakbalke op Udolpho geoes. En die wiele is van ’n afleweringswa wat aan ons geskenk is deur Kobie en Gys Ströh uit die Vaal Kultuurnetwerk,” vertel Malan.

Dié wa is op sy eie manier uniek en sal nêrens anders in dié vorm gesien kan word nie. Met die dat dit uit verskeie dele gebou is, is die wa breër en korter as ’n gewone kakebeenwa en ook korter as ’n transportwa.

“Dit is ’n ware sieraad vir Udolpho en nog ’n baken wat vir kilometers ver gesien kan word. Met die bouery het verskeie mense reeds gestop en ’n gesprek aangeknoop oor die wa, want dit is erfenis en interessant vir mense,” vertel Malan.

“Selfs Telkom het na baie jare weer kom inspeksie doen op die paal en is bly dat die paal weer nuttig gebruik kan word. Met al die skenkings en insette van Udolpho-personeel is die werk fluks afgehandel om die ware doel van Udolpho as ’n kultuurplaas en kultuurtuiste vir Afrikaners te bevestig,” sê Malan.

Volgens Malan is die projek die idee van die onlangs ontslape Wim van der Linde, bestuurder van die plaas. “Hierdie projek is ’n huldeblyk aan Wim en sy insette op Udolpho. Ons gaan beslis sy planne mis,” sê Malan.

Malan wil ook die Kultuurnetwerke Sentraal bedank vir hul insette en skenkings. “Ek bedank elke inset wat ons plaas mooi maak en al hoe dieper in mense se harte laat inkruip.”

Die waarnemende bestuurder van Udolpho, Jaco Cilliers, is bly dat hierdie projek uiteindelik afgehandel is. “Dit is ’n stap in die regte rigting vir Udolpho,” sê Cilliers.

Jou ondersteuning kan die FAK se planne om ons erfenis te red, ook help “vlieg”. Klik hier: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/