’n Ongelooflike toneel het Donderdagoggend 2 Oktober in Orania afgespeel toe die standbeeld van president Paul Kruger, wat vir nege dae op toer was, uiteindelik sy nuwe tuiste bereik het. Dié brons standbeeld, ’n 4 meter hoë ewebeeld van die een op Kerkplein in Pretoria, het op Erfenisdag, 24 September, ná afloop van die presidensiële partytjie wat vir Kruger by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is, vertrek. Op sy reis na Orania het hy op Kerkplein, Boekenhoutfontein, Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp, Heidelberg, Vereeniging, Udolpho, Heilbron, Vegkop, Bloemfontein, Paardeberg en Kimberley aangedoen.
Reeds vanaf die vroeë oggendure was die strate van die dorp ’n miernes van bedrywigheid. Inwoners het, in oranje en wit geklee en met Orania-vlae in die hand, geduldig langs die roete gestaan om die historiese oomblik mee te maak.

Inwoners wag die vragmotor met Oom Paul se standbeeld by die kruising voor Orania in. (Foto: Cara Tomlinson)
Toe die vragmotor met die standbeeld om 07:30 die dorp binnekom, het ’n jubelende menigte van sowat 1 000 Oraniërs hom ingewag, en ’n parade en orkes het statig met vlae vooruit marsjeer. Dit was nie net ’n geleentheid van onthou nie, maar ook van hoop en herbesieling.
’n Simboliese aankoms
Ongeveer 300 meter voor die nuwe voetstuk het die vragmotor tot stilstand gekom en die reusebeeld regop getel. Die einde van ’n simboliese pelgrimstog: Paul Kruger wat ná ’n lang reis uiteindelik in veiligheid, waardigheid en gemeenskaplike aanvaarding ’n tuiste vind.

Kinders met tekeninge van die Orania-vlag het die Paul Kruger-standbeeld verwelkom. (Foto: Pieter Bisschoff)
Toe die hyskraan die standbeeld versigtig op sy nuwe voetstuk tel, het ’n gevoel van heiligheid geheers. Kinders en personeel van die CVO-skool, Volkskool Orania en studente van die tegniese kollege Bo-Karoo Opleiding (BKO), het trots die oomblik bygewoon en verskeie ondernemings en instellings het hul personeel gestuur om deel van die historiese dag te wees.
’n Fees van gemeenskap en erfenis
Wat hierdie gebeurtenis besonders maak, is die gemeenskap se betrokkenheid. “Die fantastiese opkoms het gewys hoe sterk die simboliese waarde van Paul Kruger steeds is, nie net as ’n figuur uit die verlede nie, maar as ’n simbool van standvastigheid, identiteit en kulturele selfbeskikking,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.

Skoolkinders ontvang die Paul Kruger-standbeeld met Orania-vlae. (Cara Tomlinson)
In Orania is daar ’n bewuste strewe na die bou en bewaring van eie kultuur en erfenis. Kruger, wie se lewe en werk gesentreer was rondom vryheid, selfstandigheid en lojaliteit aan sy volk, pas dus by uitstek binne hierdie ruimte.
Die middag het die OKeR- (Orania Kunsteraad) toneelgroep die stuk Kruger breek die pad oop, geskryf deur NP van Wyk Louw, vir die skole, BKO-studente en Karoosig-aftreeoord opgevoer.
’n Tuiskomplek vir Oom Paul
Vir Cara Tomlinson, toerleier van die Kruger-standbeeldprojek en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap, was die oomblik besonder emosioneel.
“Dit maak ’n mens baie trots om Oom Paul op sy 6 meter hoë voetstuk te sien staan en die gemeenskap se samehorigheid te ervaar. Vir die toerlede was dit ’n gevoel van tuiskoms. Ons kon weer in ons eie beddens slaap, en Oom Paul het tuis gekom. Hy is op ’n plek waar hy welkom en veilig is, tussen sy mense.”
In ’n tyd waarin vele standbeelde wat eie is aan die Afrikaner se identiteit en erfenis landwyd afgebreek, beskadig of in donker pakhuise verdwyn, het Orania besluit om Kruger se erfenis ’n sigbare staanplek te gee.
“Die aankoms van die standbeeld in Orania is meer as net ’n geskiedkundige gebeurtenis,” sê Brand. “Waar die geskiedenis dikwels verdraai of vergete word, word hier ’n daad verrig wat onbeskaamd sê: ‘Ons is steeds hier. Ons onthou steeds. Ons bou steeds.’
“Kruger het die republikeinse ideaal van vryheid en selfbestuur beliggaam. Sy standbeeld in Orania herinner elke besoeker daaraan dat hierdie ideale nie in die geskiedenisboeke begrawe is nie, maar vandag steeds relevant is vir Afrikaners wat hul kultuur, taal en geloof wil bewaar,” sê hy.

’n Parade met vlae loop voor die vragmotor met Kruger se standbeeld. (Pieter Bisschoff)
Op 10 Oktober, wanneer Paul Kruger se geboortedag presies 200 jaar gelede herdenk word, word die standbeeld onthul en sal dit gepaard gaan met groot feestelikhede.
Die aftasting en skep van die beeld is finansieel moontlik gemaak deur bydraes van AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand.
’n Nuwe hoofstuk
“Met die oprigting van die standbeeld begin Orania ’n nuwe hoofstuk in die verhaal van die Kruger-erfenis,” sê Tomlinson. “Die dorp, wat self as ’n gemeenskap van selfstandigheid en kultuurbewaring bekend staan, is nou die huis van ’n beeld wat enersyds geliefd is en andersyds Afrikaneridentiteit anker.”
Vir baie inwoners was dit ’n feesdag van hoop. Ouers het hul kinders aan die hand geneem en verduidelik wie Paul Kruger was. Jongmense het die geskiedenis sigbaar ervaar. Ouers en grootouers het met trane in die oë vertel hoe belangrik dit is dat hulle nageslag steeds ’n konkrete herinnering aan hul wortels sal hê.

Oom Paul kyk oor die dorp en Karoovlakte uit terwyl hy aan sy voetstuk vasgemaak word. (Foto: Cara Tomlinson)
Die werk om die terrein rondom die standbeeld as ’n stadskern te ontwikkel, is reeds aan die gang. Die Kruger-beeld sal in die toekoms ’n spilpunt van erfenis- en toerisme-aktiwiteite in Orania wees. Besoekers van buite die dorp sal die geleentheid kry om nie net die beeld te sien nie, maar ook die groter verhaal van Paul Kruger en die Afrikaner se geskiedenis beter te verstaan.
“Die aankoms van die Kruger-standbeeld in Orania was meer as net ’n logistieke gebeurtenis – dit was ’n oomblik van identiteit, gemeenskapsbou en historiese bevestiging. Soos die son oor die Oranjerivier opgekom het, het ’n nuwe dag vir die erfenis van Paul Kruger aangebreek,” sê Brand.
