Mediaverklaring

10 November 2023

Elke eerste Saterdag van ’n nuwe maand kom die Heldeakker-samewerkingsinisiatief bymekaar om die Heldeakker tot sy vorige glorie te herstel. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), tesame met ander organisasies, is aktief betrokke en sorg dat ons Afrikanererfenis nie verder verval nie.

Oor die afgelope naweek het nasate van die tweede president van die ZAR, President WC Janse van Rensburg, hand bygesit om hulle voorvader se laaste rusplek te verfraai. Hendrik Nicolaas (Hennie) Janse van Rensburg (87), die sewende geslag van president Janse van Rensburg, en sy seun Jannie het met trots hul voorvader se graf skoongemaak.

Hennie Janse van Rensburg was een van die manne wat in Augustus 1974, byna 50 jaar gelede, gehelp het om sy voorvader te herbegrawe in die Heldeakker, sy geregtelike plek. Hy was aanvanklik op hul familieplaas begrawe.

Tydens dié skoonmaaksessies elke maand, is die Heldeakker gratis toeganklik vir besoekers, of lede van die gemeenskap wat skouer aan die wiel wil sit en help om die begraafplaas op te knap.

“Sedert die Heldeakker-samewerkingsinisiatief die instandhouding van die Heldeakker oorgeneem het, is die terrein stadig maar seker besig om te herstel. Te danke aan Quentin Meyer, die opsigter van die Heldeakker, so aangestel deur die Tshwane ‘Adopt-a-spot’-inisiatief, gaan die Heldeakker van krag tot krag. Ons wil ook graag dankie sê aan al die organisasies wat betrokke is en ons help om die Heldeakker te restoureer.”

Só sê Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK in die noordelike streke van Suid-Afrika.

Op 2 Desember vind die laaste opedag en skoonmaakaksie van 2023 plaas en die FAK nooi die publiek uit om dié dag by te woon en te help dat ons ’n verskil kan maak.