Esté en Lourens Rabé is die tipe musikante waarvan mens graag meer wil sien. Hulle het ְskaars ’n week uitgegaan, toe begin hulle ’n musiekgroep, Bottomless Coffee Band.

“Ons storie is nogal onwaarskynlik, soos ’n feeverhaal,” sê Esté.

Dié twee het mekaar op universiteit ontmoet – sý van Graaff Reinet en Lourens van Durbanville.

Na jare se optredes en sukses as Bottomless Coffee Band, het hulle egter besef hulle klank en doel het verander; groter geword as wat Bottomless Coffee Band kon bied. Die musiek wat hulle maak, die storie wat hulle vertel, lyk so bietjie anders en toe begin die soektog na ’n nuwe naam.

Tydens die Covid-19-inperking het Lourens en Esté navorsing begin doen oor hulle familienaam – Rabé en uitgevind dat dit verwys na die voël, ’n raaf. Sommige mense sal dit moontlik in Engels beter ken as ’n “raven”.

“’n Raaf kan sing, jy kan hom toertjies leer en hy kies een maat vir ’n lewe. Dis ’n boodskappervoël. Daar was net soveel betekenis aan die naam,” verduidelik Lourens. “Ons het nodig gehad om in dit in te groei. Op universiteit was ons nie RAAF nie.”

RAAF het ’n ongelooflike unieke klank. Hierdie eerste album, Prediker, is al vir byna vyf jaar in werking. Elke liedjie is in sy eie genre en word aan ’n lang ontwikkelingsproses onderwerp.

Prediker word stuk-vir-stuk vrygestel. Die eerste hiervan was “Vrygelatenes” en is beskikbaar op alle stromingsplatforms.

“Ons leef in ’n nuwe era. Ons het onsself afgevra: wat is die beste manier om te gee wat nie die tradisionele enkelsnit is nie,” sê Esté.

In die verlede het mens ’n hele album op ’n CD vrygestel, maar vandag word CD’s nie meer regtig gebruik nie.

Esté verduidelik verder dat dit vir hulle lekker is om in te zoom op elke liedjie en elkeen sy eie tyd in die kollig gee.

“Ons liedjies kry vorm nadat ons dit opgeneem het. Ons sit met die klankingenieur en strek die kreatiewe proses uit. Alles is deesdae kits en Afrikaans verdien meer as dit,” sê Lourens.

“As jy kuns het wat in jou hart leef, het jy ’n afwersie in hierdie kitswêreld van musiek,” voeg Esté by.

Lourens vertel dat dié paartjie lief is vir Afrikaans en het grootgeword met die musiek van Laurika Rauch en Johannes Kerkorrel.

“Dis bietjie moeilik om in Afrikaans te skryf, maar dis ook maklik om vlak te klink. Daar is iets geestelik wat gebeur wanneer jy in jou moedertaal skryf – dit voel of dit meer gewig dra. Afrikaans was nog nooit meer lewendig in terme van musiek as wat dit nou is nie.”

Prediker is ’n album oor seisoene en verandering en sal nog groot opspraak maak in die Afrikaanse musiekwêreld.

Vind meer uit oor RAAF, hul nuutste nuus, musiek en konserte op hul webblad.