Fynproewers kan hul feesvere regskud vir ’n kultuurbelewenis soos min tydens die FAK se heel eerste Kaapse Kultuurnaweek. Dié fees, wat op 19 en 20 Junie op die skilderagtige Montpellier Wynlandgoed in Tulbach plaasvind, beloof om ’n hoogtepunt op die Afrikaanse teater- en musiekkalender te wees.
Die Kultuurnaweek bou voort op die FAK se visie om sy kultuurvoetspoor in die Wes-Kaap te verstewig en uit te brei. Die feesprogram beklemtoon nie net hierdie visie nie, maar ook die gehalte en verskeidenheid wat feesgangers kan verwag. Kaartjieverkope het dié week geopen.
Die bekroonde akteur Frank Opperman bring sy eenmanstuk Reünie na die intieme atmosfeer van Montpellier se wynkelder. Hierdie aangrypende produksie, uit die pen van Dana Snyman en bekroon met ’n kykNET Fiësta-prys, word Vrydag en Saterdag om 17:00 opgevoer – ’n tydgleuf wat perfek aansluit by die kelder se stemmige, reflektiewe karakter.
Reünie is ’n diep menslike verhaal wat gehore op ’n reis neem deur herinneringe, vergange verhoudings en die stille vrae wat met ouderdom saamkom. In dié eenmanstuk is elke woord en stilte met betekenis gelaai.
Die produksie se eenvoud is juis sy krag – ’n eerlike, nostalgiese en soms humoristiese blik op die kompleksiteit van menswees. In die unieke ruimte van ’n wynkelder, waar geskiedenis en tyd tasbaar saamvloei, kry hierdie stuk ’n bykomende dimensie wat dit ’n moet-sien maak tydens die fees.
Benewens Reünie, bied die fees ’n ryk versameling musiek, kuns en woordkunsproduksies.
Die openingsaand skop af met Cap Classique: Die Kaap is weer Klassiek!, ’n sprankelende galakonsert waar Afrikaanse musiekuitnemendheid met ’n glasie vonkelwyn gevier word.
Vir liefhebbers van kunsliedere bied By Alle Skone Dinge ’n intieme ervaring waar Franco Prinsloo se toonsettings van ikoniese Afrikaanse poësie tot lewe kom deur die stem van Chris Vale, met die komponis self op klavier.
’n Instrumentale hoogtepunt sluit in TulBach-suites: Bach in die Boland, waar die bekroonde tjellis Gerrit Koorsen die ikoniese Bach-tjellosuite met nuwe toonsettings van Bolandse poësie kombineer.
Die visuele kunste word verteenwoordig deur die uitstalling Skep deur John Robbertse, wat met speelse en insiggewende werke identiteit en herinnering ondersoek deur middel van gevonde voorwerpe en miniatuurskilderye.
Verder bring Leon Gropp se Rooidag die werk van N.P. van Wyk Louw op ’n vars, musikale wyse na die verhoog – ’n produksie wat by die US Woordfees bekroon is.
Drie unieke stemme in die kunste – Frank Opperman; Sallas de Jager, nasionale hoof van taal, kuns en musiek van die FAK; en die bekroonde komponis Franco Prinsloo – gaan die rol van musiek in rolprente en televisiereekse in Wynstories onder die loep neem.
Die fees word afgesluit met die Spyseniersberg Soirée, ’n stylvolle konsert waar wyn en musiek in perfekte harmonie ontmoet – ’n gepaste afsluiting vir ’n naweek vol verfynde kultuurbelewenisse.
Saam vorm hierdie aanbiedings ’n gebalanseerde program wat die essensie van die FAK se kultuurvisie vasvang: kwaliteit bo kwantiteit, en die skepping van ruimte vir betekenisvolle, intieme ervarings.
Kaartjies is nou beskikbaar en belangstellendes word aangemoedig om vroegtydig te bespreek.
‘n Dagkaartjie kos R350 en gee jou toegang tot al die produksies wat vanaf 12:00 tot 20:00 aangebied word. Gaste wat ’n naweek daarvan wil maak, kan ’n naweekkaartjie vir R650 koop. Daar is boonop pragtige oornaggeriewe beskikbaar.
Besoekers kan ook uitsien na wyntoere, unieke kos-en-wyn-passings en die geleentheid om die historiese dorpie Tulbagh en sy omgewing te verken.
Die FAK nooi alle liefhebbers van Afrikaanse kuns en kultuur uit om deel te wees van hierdie nuwe tradisie in die hart van die Boland.
- Klik hier vir die volledige feesprogram en om jou kaartjies te bespreek.


