Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria (AFP) bied van 24 tot 26 September ’n besonderse filateliese (seël-) uitstalling in die Voortrekkersaal by die Voortrekkermonument aan. Die uitstalling vorm deel van die breër Erfenis 2026-inisiatief, ’n samewerkingsprojek tussen die AFP, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), die Erfenisstigting en die Filateliese Federasie van Suid-Afrika (PFSA), met die doel om die waarde van filatelie in die bewaring van geskiedenis en kultuurerfenis onder die publiek te bevorder.
Die uitstalling val saam met die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees op 24 September by die Kultuurtuiste en bied aan besoekers die unieke geleentheid om Suid-Afrika se geskiedenis, kultuur en identiteit deur die lens van filatelie te bewonder.
Hoewel posseëls dikwels bloot as versamelstukke beskou word, strek filatelie veel verder as die versameling van seëls. Elke seël, posstempel en posstuk vertel ’n verhaal van ’n bepaalde tyd, gebeurtenis, persoon of gemeenskap. Hierdie klein historiese dokumente bewaar waardevolle insigte oor nasionale ontwikkeling, kulturele prestasies, tegnologiese vooruitgang en belangrike mylpale.
Besoekers aan die uitstalling sal ’n wye verskeidenheid versamelings kan besigtig, waaronder tradisionele filatelie, posgeskiedenis, tematiese versamelings, lug- en ruimtevaartfilatelie, eerstedagkoeverte, oop filatelie, poskaarte en ander gespesialiseerde vakgebiede. Die uitstalling bied ook ’n seldsame geleentheid om unieke materiaal te sien wat normaalweg nie vir die publiek toeganklik is nie.
Volgens Dawid Brand, die Kultuurtuiste se bedryfshoof: bemarking en kommunikasie, skep die samevoeging van die filateliese uitstalling en die Erfenisdagfees ’n besonder ryke erfeniservaring.
“Die Voortrekkermonument is ’n plek waar ons stories vertel word en voortleef. Deur die filateliese uitstalling by die Erfenisdagfees te betrek, skep ons nog ’n venster waardeur mense die stories van ons verlede kan ontdek. Dit is ’n geleentheid vir oud en jonk om op ’n toeganklike en interessante manier met ons geskiedenis kennis te maak.”
’n Belangrike doel van die uitstalling is om nuwe versamelaars aan die wêreld van filatelie bekend te stel. “Filatelie bied ’n unieke kombinasie van navorsing, geskiedenis, kultuur en bewaring, en ontsluit terselfdertyd waardevolle opvoedkundige geleenthede vir jongmense. Die uitstalling dien ook as platform waar ervare versamelaars kennis kan uitruil en nuwe ontwikkelings binne die vakgebied kan deel,” sê Brand.
Die uitstalling sluit beide mededingende en niemededingende afdelings in. Dit bied aan gevestigde versamelaars die geleentheid om hul werk volgens internasionale standaarde te laat beoordeel, terwyl geesdriftiges hul passie vir bepaalde temas of geskiedkundige onderwerpe met die publiek kan deel.
Vir die Kultuurtuiste vorm die geleentheid deel van ’n groter strewe om erfenis op verskillende maniere toeganklik te maak. Waar die Voortrekkermonument en ander erfenisterreine die breër historiese verhaal visueel uitbeeld, belig filatelie dikwels die fyn detail wat geskiedenis meer persoonlik en menslik maak. Besoekers kan ontdek hoe internasionale gebeure, plaaslike gemeenskappe, tegnologiese vooruitgang en historiese oomblikke deur die poswese gedokumenteer en bewaar is.
Die publiek word uitgenooi om die uitstalling van 24 tot 26 September in die Voortrekkersaal op die Voortrekkermonument-terrein te besoek. Toegang tot die uitstalling vorm deel van die uiteenlopende Erfenisdagaktiwiteite wat tydens die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees aangebied word. Koop jou kaartjies vir die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees hier: vtm.org.za/erfenisfees




