
Gaste luister aandagtig na dr. Marius Ackermann se Moerdijk-gedenklesing met die tema: “Jan Smuts, die Afrikaner – 75 jaar later” (Foto: Niël Langner)
Heelwat Afrikaners het ’n sterk agterdog jeens genl. Jan Smuts (1870-1950) oor sy uitgesproke pro-Britse beleid kort ná die afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Hy was egter ’n geniale leier en denker, asook ’n interessante en komplekse Afrikaner wat ’n blywende indruk in die wêreldgeskiedenis gelaat het.
Smuts het byvoorbeeld die laaste geld om die Voortrekkermonument te voltooi, beskikbaar gestel. Toe die geld om hierdie duur projek te voltooi, opgeraak het, het Gerard Moerdijk, die argitek, vir Smuts deur die gebou geneem én sy arm gedraai om vir die laaste afrondings te betaal.
Met die besoek aan die Monument was Smuts baie ingenome met wat hy gesien het en het met die trappe na die boonste vlak opgeklim. Met die afkom, het Moerdijk hom na die Senotaafsaal geneem en genoem dat dit baie vaal lyk en beter sal lyk as dit met marmer beklee word. Smuts nooi hom toe die volgende dag na die Uniegebou en gee vir hom 20 000 pond om die finale marmerbekleding te doen.
Meer as 50 biografieë is al oor Smuts gepubliseer – die eerste in 1917 en die jongste in 2024. In 1974 het die veteraanjoernalis en skrywer Piet Meiring se boek Jan Smuts – die Afrikaner verskyn. Nou, bykans 75 jaar ná Smuts se dood op 11 September 1950, is dit gepas om weer deur só ’n bril na hierdie enigmatiese man te kyk.

Dr. Marius Ackermann, direksievoorsitter van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, gee ‘n Moerdijk-gedenklesing met die tema, “Jan Smuts, die Afrikaner – 75 jaar later” (Foto: Du Preez de Villiers)
Dr. Marius Ackermann, direksievoorsitter van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, het ’n groot belangstelling in die wel en wee van Smuts en is ’n gerekende kenner van hierdie interessante en onbekende stukkie geskiedenis oor Smuts se verhouding met Moerdijk.
Ackermann was Donderdag 6 Maart aan die woord in die Moerdijk-gedenklesing met die tema “Jan Smuts, die Afrikaner – 75 jaar later”.
Ackermann is ook ’n regsgeleerde met ’n verdere belangstelling in Suid-Afrika se politieke, kulturele en sportgeskiedenis van die 20ste eeu. Van sy werk is deur Protea Boekhuis uitgegee, terwyl talle in die FAK-publikasie Flink en op LitNet verskyn het.

Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting het die verrigtinge geopen. (Foto: Du Preez de Villiers)
“Genl. Jan Christian Smuts was sy hele lewe lank ’n ingewikkelde, omstrede figuur, en is dit nog steeds. Tog is dit belangrik om te besef dat hy ’n enorme bydrae tot Suid-Afrika en die wêreld se geskiedenis gemaak het, wat hom hoogs interessant en relevant maak,” het Ackermann gesê.
Die Moerdijk-gedenklesing, wat in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument plaasgevind het en deur meer as eenhonderd gaste bygewoon is, val saam met die Voortrekkermonument, Erfenisstigting en Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se gesamentlike direksieberaad wat tot Saterdag 8 Maart duur.
Ná ’n lang stilte is die Moerdijk-gedenklesing verlede jaar deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting, heringestel. Die eerste een is verlede jaar gehou met die titel “Hans Strijdom – Leeu van die Noorde”. Twee soortgelyke lesings per jaar word voortaan beplan.

Die gaskunstenaars, Robert Brooks en Gisela de Villiers. (Foto: Niël Langner)
Carel Boshoff, voorsitter van die FAK, sê hy het met hierdie lesing iets ontdek van die veelkantigheid van Smuts. “Jy benader die historiese figuur Jan Smuts altyd met ’n sekere vooroordeel. Hy was ’n geplaaste figuur en is geïdentifiseer. Hy het opgetree en hy het keuses gemaak, en daardie keuses het gevolge gehad. Daarom benader ’n mens Smuts met ’n sekere beeld.”
“Nou kom Marius vanaand en hy knoop eintlik in ’n sekere sin aan by jou vooroordele. Dan loop hy ’n ent daarmee en behandel dit. Gelukkig is daar genoeg historiese afstand dat daar niks te verloor is deur aan jou vooroordel vas te klou nie,” sê Boshoff.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, ds. Cassie Aucamp, voormalige voorsitter van die Voortrekkermonument, en Carel Boshoff, voorsitter van die FAK. (Foto: Niël Langner)
Moenie Moerdijk-wisseluitstalling misloop
’n Moerdijk-wisseluitstalling word tans in die Senotaafsaal ten toon gestel. Dit is tot einde April te sien en is beslis ’n besoek werd. Kom kyk wat het alles agter die skerms tydens die bou van die Voortrekkermonument gebeur!