Mediaverklaring

3 Junie 2023

’n Saadjie van hoop wat verlede jaar saam die FAK geplant is, het in vrugbare grond geval en vandag het die gemeenskap van Springs die eerste vrugte hiervan gepluk.

Oktober verlede jaar het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Oos-Rand-Kultuurnetwerk, wat bestaan uit verteenwoordigers van instellings soos die VF Plus en die Voortrekkers asook mense uit die plaaslike gemeenskap, reageer op die noodroep van politici in Springs en hand bygesit om die bekende Wêreldoorlog-gedenkmonument in dié dorp op te knap, skoon te maak en te herstel en vandag (3 Junie) het die dorp en sy mense, na maande se harde werk, die amptelike opening van hierdie monument met groot feesvieringe gehad.

Daar is al vir ’n geruime tyd ’n groot nood in dié dorp om verskeie besienswaardighede op te knap, en het Charmaine Kok, DA-wyksraadslid in die dorp, politici, sakelui en verskeie vrywilligers uit die dorp, saam met die FAK besluit om hul moue op te rol en dié enorme taak aan te pak.

Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder, het gesê hy is baie trots om te sien hoe hierdie projek sedert 2022 die dorp se mense geïnspireer het om sélf in te spring om hul dorp se kulturele erfenis te bewaar.

“Toe ons verlede jaar saam met ’n klomp gemeenskapslede en besorgde politici hier by die Wêreldoorlog- (WO-) gedenkmonument aangekom het, was ons gekonfronteer met ’n ongelooflike hopelose gesig – verwaarloosde tuine, ’n geplunderde monument en ’n fontein vol rommel en menslike afval, maar in egte FAK-styl het dit ons nie ondergekry nie en het ons saam met die gemeenskap ons moue opgerol en dié belangrike historiese baken reggeruk,” het hy vertel.

“Vandag is ons trots om te kan sien dat die werk wat ons kultuurnetwerk saam met die gemeenskap ingesit het, die mense van Springs geïnspireer het om dieselfde te doen.”

Wat eens ’n geplunderde en gevandaliseerde koepel was, is nou ’n spogmonument en wat eens ’n droë fontein van vullis was, is nou ’n fontein van jeug wat die helde uit ons verlede vir dekades lank gaan lewendig hou.

JR Mackay’s Diesel and Motor Engineering (JRM), ’n plaaslike besigheid, het die nood raakgesien en besluit om die nodige fondse te bewillig om die monument te help hertel tot sy volle glorie.

Dirk Human, direkteur van JRM, het tydens die heropening van die monument gesê hy is baie trots om deel te kon wees van hierdie projek, veral omdat dit weer trots ingeburger het by die dorp en sy jeug.

“Hierdie tipe projek gebeur nie sommer oornag nie en daar is dikwels mense wat pessimisties en negatief reageer op sulke idees, maar vandag het ons bewys dat hierdie dorp enige iets kan regkry as ons saamstaan en saamwerk,” het hy gesê.

“Toe ons verlede jaar sien hoe die gemeenskap en veral die jongmense hul moue opgerol het en sélf ingespring het om hier skoon te maak, het ons besef ons moet ook help. Om te sien hoe jongmense self werk, is prysenswaardig; dit gee mens hoop en dit laat mens weer besef hoe belangrik dit is om ons erfenis te bewaar vir die toekoms en vir al die jongmense na ons.”

Verlede jaar het Kok, wat die raadslid van wyk 75 in die dorp is, gesê toe hulle besluit het om die WO-gedenkmuur op te knap en die fontein in die dorp te herstel, het hulle besef dit is ’n enorme projek, maar vandag was sy trots om te kon sien hoe dit uitgedraai het.

Tanya Campbell, DA-koukusleier, het op haar beurt Kok se woorde geëggo en gesê sy is trots op die inwoners van hul dorp.

“Ons vier vandag Suid-Afrikaners wat hul lewens gegee het in die wêreldoorloë. Wat ons vandag reggekry het, is weereens ’n bewys dat ’n gemeenskap enige iets kan regkry as hulle saamstaan.”

Verskeie politici het oor die afgelope jaar saamgestaan om hierdie projek suksesvol te maak en bewys dat mens, ten spyte van jou verskille, berge kan versit as jy saamwerk.

Rudolf Herbst, voorsitter van die Oos-Rand-Kultuurnetwerk en verteenwoordiger van die VF Plus, het gesê hul party is baie trots om te kon deel hê aan ’n projek wat die dorp weer hoop gee.

“Dit is belangrik om betrokke te raak in jou gemeenskap, afgesien van jou politieke affiliasie, kultuur of geskiedenis, want dit kweek weer trots in jouself en waar jy vandaan kom,” het hy gesê.

Die FAK het ook tydens die geleentheid sertifikate oorhandig aan ’n groep jongmense wat van die begin af deelgeneem het aan die projek.

Tayla Grobbelaar (18), een van die Voortrekkers wat vereer is, sê sy is baie trots om deel te kon wees van so ’n groot projek.

“Dit maak mens regtig trots om te kan sien wat jy met jou eie hande gedoen het,” het sy gesê.

“Ek hoop ek kan eendag hier verbyry en trots kyk en sê ‘ek het hierdie help bou’.”

Tydens die oorhandiging het Müller gesê hy is baie opgewonde oor die toekoms van ons land, want hy weet hierdie groep kinders help daaraan bou.

Mϋller het ook sertifikate oorhandig aan rdl. Charmaine Kok en Dirk Human vir hul inspirerende bydrae tot die projek.

“Om iemand te inspireer, is een ding, maar om ’n jongmens te inspireer om te veg vir hul toekoms, hul kultuur en hul erfenis, is iets wat my regtig trots maak. Daar is beslis hoop vir die toekoms van ons land.”

Müller spreek ook ’n spesiale woord van dank uit aan Charmaine Patricia Kock, die DA, de VF Plus, die verskeie kommando’s van Springs, Org Meyer in Alberton en Susan Badenhorst Voortrekkers, Suikerbos Voortrekkerkommando in Heidelberg, JR Mackay’s Diesel and motor Engineering, Puleng Sand and Stone, die AGS Lofoord, die drie tuindienste en die mense uit die gemeenskap.