Op Vrydag 26 September het die historiese toer van die Paul Kruger-standbeeld sy pad na Potchefstroom gevind waar dit deel van ’n erfenisviering voor die regsfakulteit op die Noordwes-Universiteit (NWU) se hoofkampus sou vorm.

Die feestelikheid, wat bedoel was as ’n viering van erfenis en identiteit, is egter gekortwiek toe die NWU se bestuur ter elfder ure geweier het dat dit voortgaan. Tog is die gees van erfenis en volharding nie geblus nie.

“Ons het weke voor die tyd toestemming gevra om die seremonie en erfenisviering te reël en te adverteer, maar toe het ’n ander bestuurslid van die Mafikeng-kampus ewe skielik opdrag gegee dat ons nie mag voortgaan nie,” sê Cara Tomlinson, toerleier en FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap. “Gelukkig het die veerkragtigheid van die studente en die gemeenskap die geleentheid steeds ’n waardige en betekenisvolle dag gemaak.”

Kruger se 4 meter hoë brons standbeeld, ’n ewebeeld van die een op Kerkplein in Pretoria, is voor die hoofingang van die kampus geparkeer en ongeveer 60 studente het hulle by die toergroep aangesluit. Saam het hulle rondom die standbeeld vergader, waarna Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, die studente toegespreek en gesê het dat dit onaanvaarbaar is dat die EFF “Kill the Boer” op kampus mag sing, maar dat die Afrikaner nie sy erfenis op hierdie historiese kampus mag vier nie.

“So is ’n waardige en simboliese oomblik in dié universiteitsdorp geskep wat getuig van die volgehoue verbondenheid van Afrikaners aan hul erfenis en geskiedenis,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die FAK.

“Hierdie spontane byeenkoms, hoewel kortstondig, het ’n sterk boodskap uitgestuur: die behoud en viering van kultuur en identiteit kan nie stilgemaak word deur geslote hekke of burokratiese besluite nie,” sê hy.

Die beeld het toe by die President Pretorius-museum aangedoen, ’n ruimte vol geskiedenis en betekenis, waar die groep die nalatenskap van die Voortrekker- en Republiektydperk

verder kon eer. “’n Groot aantal mense het verbygery, gestop en foto’s geneem. Die ondersteuning was oorweldigend,” sê Tomlinson.

“Laerskool Mooirivier, wat oorkant die museum geleë is, se onderwysers het van hulle kinders gebring om na die standbeeld te kom kyk en ons kon 21 simboliese stene verkoop om Oom Paul se voetstuk op Orania te bou.”

Johan Wolfaardt, die kurator van die museum, het die toergroep van 22 lede, wat bestaan uit lede van die Orania Beweging, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, Orania Kunsteraad (OKeR) en die FAK, logistieke en sekerheidspersoneel, ontvang en op ’n toer deur die museum geneem.

Die aandprogram het in die Hervormde Kerk Potchefstroom in Wolmaransstraat plaasgevind, waar ’n meer formele, dog gemoedelike viering plaasgevind het. Ongeveer 160 mense het die saal volgemaak. ’n Sertifikaat van waardering is aan dr. Rineé Pretorius van AfriForum oorhandig om die gemeenskap te bedank vir die organisering van die feestelikheid en die pad wat hulle oopmaak in die herdenking van Kruger se 200ste verjaarsdag. Daarna het Wolfaardt ‘n lesing, “Kruger in konteks” aangebied.

Die hoogtepunt van die aand was die opvoering van die stuk Kruger breek die pad oop deur NP van Wyk Louw – ’n dramatiese herinnering aan Kruger se rol as baanbreker en leier wat onverskrokke vir sy volk se toekoms geveg het. Die simboliek van die stuk het besonder sterk aangesluit by die ervarings van die dag: om nuwe paaie oop te breek, selfs te midde van struikelblokke.

“Ondanks die onvoorsiene uitdagings van die dag het die besoek aan Potchefstroom gewys dat ons erfenis nie gevange gehou kan word agter geslote hekke nie,” sê Brand. “Dit leef voort in die harte van studente, in die stories wat vertel word, en in die feeste wat saam gevier word. Die Kruger-standbeeld se toer is nie net ’n reis deur stede en dorpe nie, maar ’n reis deur die hart en siel van ’n volk wat ’n toekoms net hier aan die suidpunt van Afrika wil én kan bou.”