Vanjaar se Gelofteweek-feesvieringe by die Voortrekkermonument is behoorlik gedek met kultuuraktiwiteite en die kunste trek beslis nie aan die kortste end nie. Die toneelstukke is veral iets besonders op die program en daar is iets vir elke teaterliefhebber.

Dinner for One

Dinner for One en die satiriese plaaslike weergawe Sopper vir Een word in Desember by die Voortrekkermonument op die planke gebring na ’n reeks uitverkoopte vertonings regoor Suid-Afrika, met Justin Strydom as James die butler en Elma Potgieter as Miss Sophie.

Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ’n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele skets vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar “gaste” – wat almal al dood is – plekke gedek.

Liewe Heksie

Liewe Heksie bring al haar avonture, haar sterretjieskombuis en al ons gunstelingkarakters al die pad van Blommeland af Voortrekkermonument toe.

Die laaste storie wat Verna Vels, die briljante en kreatiewe skrywer van Liewe Heksie, kort voor haar afsterwe geskryf het, gaan op die verhoog te sien wees. In dié storie, die Tuindwergie, ontmoet Liewe Heksie ’n tuindwergie met die naam Casper.

In Liewe Heksie en Botterblom, wat ook op die planke gaan wees, kry ons te doen met Blommeland se enigste melkkoei, Botterblom.

Bring die hele gesin en geniet dié komiese episodes van een van Suid-Afrika se mees geliefde kinderverhale. As enige iets ’n oplossing vir vakansieverveling is, is dit Liewe Heksie.

Omwenteling

Omwenteling is ’n briljante eenmanvertoning opgevoer en saamgestel deur Johan Scholtz.  Van poëtiese voordrag tot musiek – hierdie vertoning sal beslis mens se hart aanraak. Die opvoering bestaan uit sestien gedigte, agt liedjies en twee monoloë.

Hierdie toneelstuk is deel van die Kundramus-groep, wat die samekoms van kuns, drama en musiek verteenwoordig. Hierdie toneelstuk is ook saamgestel om al drie hierdie elemente te bevat, wat dit veral uniek en besonders maak.

Op die plaas toneel

Hierdie komedie handel oor Francois en Thomas, twee neefs, wat ’n plan moet maak om hulle plaas te red. Met een ’n stadsjapie en een ’n gebore boer dink hulle lawwe planne uit wat jou in jou mou sal laat giggel.

Carel Boshoff is ’n jong skrywer-akteur van die Noord-Kaap en hy en sy venoot, Frans de Klerk, ook ’n jong akteur, het hierdie toneel opgevoer vir hul plaaslike gemeenskap en toe besluit om ’n groter gehoor te bereik. Die energie en entoesiasme waarmee die toneelspel uitgevoer word, is verfrissend en bring iets splinternuut tot die planke.

Toekomsbou Museumteater

Toekomsbou Museumteater is ’n nuwe teaterproduksie wat vanjaar op ’n permanente basis by die Voortrekkermonument geopen het. Hierdie unieke ervaring gee die teaterganger ’n blik op 120 jaar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op ’n prettige en interaktiewe wyse.

Karla Hoogendoorn speel die vroulike hoofrol wat die verskillende eras verteenwoordig, terwyl Eudan Naudé saam met die gehoor die “ontdekker” is wat sy storie wil ontdek.

Hierdie teatervertoning sal jou laat lag, laat huil, laat verlang, maar die belangrikste, as jy daar uitstap, sal jy weet waar jy vandaan kom en daar sal beslis iets wees om saam huis toe te vat.

Van Bloedrivier tot Bosoorlog

Hierdie historiese drama beeld die voetspoor oor 150 jaar uit wat Suid-Afrika se geskiedenis vergestalt. Beginnende by Bloedrivier, die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe, waar duisende wit, maar ook swart vroue en kinders gesterf het, tot die Suidwes-Afrikaanse Bosoorlog aan die einde van die vorige eeu.

Suid-Afrika is net so ’n land van ’n gesamentlike geskiedenis as wat ons ’n land met ’n gedeelde geskiedenis is. Suid-Afrikaners, gegewe hulle multikulturele agtergrond, het almal bygedra en gehelp om die geskiedenis van die land te skryf en te beïnvloed, waarin ons vandag werk, woon en speel.

Hierdie opvoering vind onder regie van die bekende NYMPH KELLERMAN, wat self daarin optree, plaas. Ander akteurs sluit in Anton van Vollenhoven, Martiens Swart, Ananda Naude, Siyabonga Gazu en Carika-Jane Swanepoel om slegs ’n paar te noem.

Kaartjies vir elk van hierdie vertonings is op die Voortrekkermonument se webwerf beskikbaar. Die publiek moet onthou om ook ’n Gelofteweekkaartjie te koop om toegang tot hierdie tonele te verkry. Daar is ook dag-kaartjies beskikbaar van tussen R30-R50.

Hopelik sal teater by die Voortrekkermonument in die toekoms groei tot toneelspel en kuns soos by die groot kunstefeeste in die land. Hierdie toneelstukke is beslis iets om te ondersteun, agteroor te sit en dit te geniet!

Kry jou kaartjie en sien die program hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/

Waar herdenk jy die Gelofte? Laat weet ons hier: https://vtm.org.za/vtm-185-veldtog/