Mediaverklaring

10 Mei 2024

Dit is nie aldag wat ‘n tuisskoolleerder die geleentheid kry op om ‘n opvoedkundige skooluitstappie te gaan nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het leiding geneem om ‘n groep van 19 tuisonderrigleerders, saam met hul ouers, op ‘n staptoer te neem om Kaapstad en sy stories te hoor.

Volgens Elizma Smith, kultuurnetwerkkoördineerder in die Kaapprovinsies, sal ‘n mens as jy deur Kaapstad beweeg, nog talle historiese bakens raakloop wat behoue gebly het en stories uit die tydperk 1652 tot 1795 vertel.

“Met die FAK se Dankie Jan-staptoer besoek ons van hierdie bakens wat vandag, in die hart van Kaapstad tussen moderne wolkekrabbers, nog daar is om te herinner aan pionierswerk en die lewe in die vroeë Kaap. Daar is pleine, geboue en torings met stories, waterbronne, die groentetuin en talle standbeelde en gedenktekens wat hulde bring aan prominente figure in Kaapstad se vroeë geskiedenis,” vertel Smith.

Die leerders het gister se uitstappie terdeë geniet en die inhoud baie opvoedkundig en interessant gevind.

“Ons hoop om nou met hierdie kontak in die tuisskoolmark in die toekoms verdere opvoedkundige geskiedenis- en erfenisuitstappies te reël. Ons doen volgende week weer die Kompanjestuin-skattejag ook vir tuisskolers,” vertel Smith.

Kontak die FAK se Kaap-kantoor by kaapstad@kultuurtuiste.org.za as jy graag so ‘n staptoer wil meemaak.