Op Saterdag 19 Julie kom 30 jong Oraniërs saam om koppe bymekaar te sit en meer te leer oor Orania en Afrikanerwees. Hulle leer nie net oor Orania nie, maar ook oor toekomsdenke, vryheid, liefde vir ons volk, kultuur en taal.

Die dag word ingedeel in hoofsaaklik vier onderwerpe wat die tema Verdedig en Verduidelik Orania uitbou. Die politieke-, regs-, veiligheids- en kommunikasiebasis in Orania word deeglik bespreek waarna daar afgesluit word met ’n braaivleisparlement waar die deelnemers die geleentheid het om dit wat hulle geleer het, weer te gee.

Die doel van die dag is om die deelnemers volledig in te lig oor elke aspek van Orania en hoekom ons mag trots wees daarop om ’n Afrikaner te wees. Ons leef ons kultuur terwyl ander se kultuur in ’n multikulturele samelewing verdwyn. Ons bou ons taal, Afrikaans, terwyl die “diverse” samelewing almal die globale, koloniale taal, Engels, met mekaar praat. En ons bou ons eie plek sonder om misbruik te maak van ander mense se handearbeid.

   

Orania is ’n gemeenskap wat selfbeskikking nastreef. Ons basis waarop ons bou word internasionaal erken; dit is wettig en dit is ’n reg wat ons net moet opneem. Ons bou ons dorp op ons geloof, kultuur en taal, die gesonde reg op selfbeskikking in samehang met ander wetgewing.

Jan van Zyl, advokaat by Orania Dorpsraad, wat die regsbasis van Orania hanteer, benadruk aan die einde van sy toespraak: “Sonder geloof kan ons nie bou nie, dan sou dit tevergeefs wees”.

Dit was versterkend tot ons saak toe dr. Carel Boshoff, voorsitter van die FAK-direksie, artikel 235 van die wet voorhou. Die wet erken die reg tot selfbeskikking vir ’n gemeenskap wat hulle taal en kultuur beoefen. Die deelnemers is ten volle toegerus met ’n raamwerk vir ’n gebeurlikheidsplan deur Orania se veiligheidstrukture en vinnig moes hulle koppe bymekaar sit om ’n eie gebeurlikheidsplan vir Orania bymekaar te trek.

Die laaste inset vir hierdie afdeling was dié van Orania se kommunikasiespan, die Orania Beweging. Hier word verskeie maniere gegee om vrae in die media effektief te beantwoord en op die regte manier die regte boodskap oor te dra.

Die dag word dan op ’n baie sinvolle hoë noot geëindig met ’n braaivleisparlement waar die deelnemers hulle kennis wat hulle deur die oggend opgedoen het, kon toepas.

“Deur dae soos vandag belê ons in ons mense, jong mense, die leiers vir die toekoms en dit is vir my belangrik om jong mense te bemagtig,” sê Cara Tomlinson, FAK-Noord-Kaap-kultuurkoördineerder.