Mediaverklaring

31 Mei 2024

Van die Russiese ambassadeur wat ‘n gedeelte van die toer meemaak, tot vir die eerste maal die Melrose-huis se binneste kamers aanskou, die bywoners van die Vrede van Vereeniging-toer het ‘n belewenis agter die rug.

Vanjaar is die vierde jaar wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die Vrede van Vereeniging-toer op die 31ste Mei behartig. Wat vanjaar se toer spesiaal gemaak het, is dat kenners vir die eerste keer die toer op elke besoekpunt aangebied het.

Daar is ses besoekpunte tydens die toer en enige iemand kan enige tyd by die toer aansluit. Die besoekpunte (in volgorde) behels die Vredesboom in Vereeniging, die Vryheidsmonument in Vereeniging, die Witkop Blokhuis net buite Vereeniging, die Russiese Ortodokse Kerk in Midrand, die Melrose-huis in Pretoria en dan sluit die toer af by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die Vrede van Vereeniging verwys na die vrede wat tussen Boer en Brit gesluit is om ‘n einde aan die Anglo-Boereoorlog in 1902 te bring. Vrede is op 31 Mei 1902 in die Melrose-huis in Pretoria onderteken.

“Met die Vrede van Vereeniging se toer, besef ‘n mens net weer watter opofferinge daar gemaak is. Dit was nie net ‘n oornag-besluit nie, maar ‘n besluit geneem in geloof. Die mans het besef dit gaan meer as oor veg. Dit gaan oor die vrouens en kinders en die toekoms van hulle nageslag. Vandag herdenk ons graag hierdie persone deur kransleggings en te onthou, sodat hierdie storie ook deur my en jou kinders oorgedra kan word.”

So sê Charles Rademeyer, FAK kultuurnetwerkkoördineerder van die noordelike provinsies en organiseerder van die toer.

Die Russiese Ortodokse Kerk is ‘n besoekpunt op die toer as gevolg van die Russe se noue samwerking met die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog.

“Die Russe het die Boere op baie maniere bygestaan. Dit het begin toe ‘n Russiese skip vyf Boeregevangenes help ontsnap het van ‘n Britse skip op pad na Ceylon. Van daar af het die verhouding net gegroei,” vertel Freddie Peters, spreker op die toer.

Dié geleentheid is ook deur die Russiese ambassadeur, Ilya Igorevich Rogachev, bygewoon.

Die Melrose-huis was ook ‘n groot hoogtepunt op die toer, aangesien dit vir die eerste keer na restourasie oop is vir die publiek om te besoek. Dit is dus die eerste toer waar besoekers in die vertrek kon staan waar die Vrede van Vereeniging geteken is.

Tim Dingle wat die toer meegemaak het, sê dit was vir hom ‘n ongelooflike ervaring om in die ondertekeningsvertrek te staan. “Die Melrose-huis was vir my een van die hoogtepunte. Ek het die dag baie geniet en sal die toer volgende jaar verseker weer kom bywoon,” sê Dingle.

Die FAK het reeds planne om volgende jaar se toer nog ‘n onvergeetlike ervaring te maak.

“In 2025 val hierdie geleentheid op ‘n Saterdag, dan sal ons nog groter gaan en hoop dat die publiek selfs nog meer betrokke sal wees,” sê Rademeyer. “Daar is geen wenners in ‘n oorlog nie, maar met ‘n toer soos hierdie wen ons, want ons hou hierdie stories lewend.”

Jou vriendskap kan die FAK help om ons erfenis te bewaar en ons stories aan die nageslag oor te dra: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/