Voorlaaierskote klap weer op Vegkop

Op 11 Maart 2023 het die voorlaaiers weer op Vegkop-erfenisterrein gedreun toe lede van die FAK en Voorlaaier du vereniging op dié dag bymekaar gekom het om die historiese veldslag te herdenk.

Wat voorheen ’n klank van die dood was, is nou ’n dag wat met die hart praat; ’n dag wat mens laat besef wat ons voorouers opgeoffer het in hul soeke na onafhanklikheid.

Die Slag by Vegkop is een van die eerste veldslae van die Groot Trek en net so ’n groot wonderwerk as Bloedrivier. Hier het 33 mans as deel van die Potgieter-trek die onmoontlike vermag deur 5000 Matabele te verslaan.

Die geveg was so intens dat die waens wat aan mekaar geketting was, deur die Matabele geskuif is (dit is opgelig en getrek na buite). Die Matabele het ook nie soos die Zoeloes by Bloedrivier in vlae aangeval nie, maar direk gestorm, keer op keer. Die vroue en kinders wat gelaai het, moes met byle en wat ook al tot hul beskikking, die aanvallers se hande wat oorsteek, kap om hulle te verwilder. Al die groot en kleinvee is van hier weggevoer en Koning Maroko van die Barolongs het beeste vir Potgieter geleen om sy laer te kon verskuif van die terrein af.

Na 187 jaar is ’n bobbejaanboud-pangeweer se knal gehoor vanuit die plek waar die oorspronklike laer gestaan het ’n paar honderd tree van waar die terrein tans is. Mnr. Retief Venter, voorsitter van die Voorlaaier du vereniging, sê: “Dit was nog altyd ’n droom van my om my 1833-pangeweer in die laer op Vegkop te kon afvuur. Hierdie wapen kon moontlik aan die slag deelneem.”

“My seun Johan-Hendrik het, soos in daardie tyd die gebruik was, my geweer gelaai en aangegee sodat ek kon skiet. Gelukkig was daar nie laaiers soos hy op Vegkop nie, anders het al die Voortrekkermans met af arms rondgeloop,” het hy geskerts.

Venter besit ook ’n kruithoring wat by die Slag van Boomplaats gebruik is; ’n baie kosbare familie-erfstuk wat aan hom oorgedra is.

Die ervaring om op hierdie rustige terrein, waar mens kan voel daar was gebid, weer te kan rondbeweeg, is besonders. Vegkop word tans vir Voortrekkerkampe en troues en ook vir ’n lekker gesinskampnaweek gebruik. Skakel gerus vir Corne van der Merwe 083 306 0357 om jou naweek hier te bespreek.