Op Wêreldmonumentedag het Jaco Cilliers in samewerking met Mignon Venter ’n groep van omtrent 50 mense toegespreek in die Buitepos-saal van die Jeugland-ouetehuis in Vanderbijlpark.

Tydens die geleentheid het Cilliers die gaste toegespreek oor die fries wat in die Voortrekkermonument se Heldesaal is, en ook meer inligting oor die VTM verskaf.

Cilliers het ook die gehoor aangemoedig om hul stories, en die geskiedenis met hul kinders en kleinkinders te deel. “My oupa het ook nie gedink ek neem enige iets in toe hy my van die Gelofte geleer het nie. Ek was maar 10 jaar oud toe hy oorlede is. Maar sy stories het ’n saadjie geplant wat later in ’n passie en ’n loopbaan ontwikkel het.”

“Dit was so ongelooflik interessant en so lekker om weer ons geskiedenis te hoor en te ervaar,” het een van die besoekers gesê.

Een van die FAK se doelwitte vir 2024 is om taal, kultuur en geskiedenis weer terug te neem na die gemeenskappe toe. “Baie mense het doodeenvoudig nie meer die fisiese of finansiële vermoë om gereeld by ons monumente besoek af te lê nie. Daarom is dit ontsettend belangrik dat ons ons erfenis met ons mense deel en dat dit nie onbereikbaar word vir mense as gevolg van afstand of finansies nie.”