Die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument was Sondag 10 Augustus gevul met kerslig, musiek en herinnering – ’n gepaste ruimte vir die “Winternag”-kersligskemerkonsert, een van die hoogtepunte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se weeklange 150-jarige viering van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Dit was enersyds ’n huldeblyk aan Eugène Marais en andersyds ’n trotse viering van Afrikaanse kuns, kultuur en nalatenskap.
Dié konsert het nie net bekende tekste herroep nie, maar die mens agter die woorde herontdek. Die program het van klassieke musiekverwerkings en voordragte tot vertellings en ’n bundelbekendstelling gestrek – ’n veelstemmige antwoord op die vraag: Wat beteken Marais se nalatenskap vandag nog vir ons?
Die gehoor het aandagtig en merkbaar aangedaan geluister. Tydens die voordragte en musiek kon jy ’n speld in die Senotaafsaal hoor val. Die kerslig en die monumentale ruimte het saam ’n byna heilige atmosfeer geskep.
Monica Cliff, ’n kleinkind van Gustav Preller, die bekende joernalis, skrywer, historikus en literêre kritikus – een van Marais se beste vriende en kollegas – was eerste aan die woord en het vertel hoe hul familie Marais as digter en mens onthou.
Magda van Biljon, bekende aktrise en TV-aanbieder, het as verteller én deelnemer opgetree, en die toon aangegee met ’n inleiding oor Marais. Later het sy van sy werke, waaronder “Skoppensboer”, dramaties aangebied.
Die Voces Libres Kamerkoor, onder leiding van Christelle Engelbrecht, het die program met ’n sangverwerking van “Winternag” geanker. Hierdie weergawe is later opgevolg deur ’n verwerking van “Diep rivier”, uitgevoer deur Marais van den Berg, Coert Grobbelaar en Rina Francis. Die gehoor kon hulle ook verlekker in drie dramatiese monoloë deur Laurinda Pretorius wat Marais se vroulike karakters opnuut ’n stem gegee het.
Jong talente onder leiding van Laurinda Pretorius het hul dramavernuf gewys met uitvoerings van “Die naaistertjie”, “Klaasvakie” en “Die spinnerakrokkie”.

Een van die hoogtepunte was die bekendstelling van die “Winternag”-liedbundel met dr. Jaco Meyer en Coert Grobbelaar as redakteurs. Die bundel bevat nuwe en klassieke toonsettings van Marais se werk – ’n versmelting van oud en nuut, van teks en toon.
Die laaste item op die program was ’n prettige uitvoering, “Dwaalstories”, met Coert Grobbelaar, Magda van Biljon en Rina Franci, wat die gehoor heerlik laat lag het.
Die geleentheid is afgesluit met die bekendstelling van die Afrikaanse Patriot Kaapse Wynversnit deur Schalk Burger sr. van Welbedacht-wynlandgoed. Die Afrikaanse Patriot was die eerste koerant wat in Afrikaans uitgegee is in 1876, wat baie gepas saamval met die viering van die stigting van die GRA in 1875.
“Ons is baie passievol oor ons taal en kultuur, ons agtergrond,” het Burger sr. gesê. “Dit is vir ons baie lekker en ons voel trots dat ons dit saam op hierdie wonderlike dag kan vier, sodat die mense kan sien wat ons almal saam kan doen om Afrikaans te bevorder.”
Burger het ook aangekondig dat hy ’n gedeelte van die geld van elke bottel wyn wat verkoop word, vir die Kultuurtuiste gaan skenk.
Die “Winternag”-konsert het daarin geslaag om nie net te onthou nie, maar ook te herroep; om nie net te vereer nie, maar ook te laat leef.
Die bundel is beskikbaar op die FAK se aanlyn winkel – KultuurKafee. Koop die boek hier: https://kultuurkafee.com/shop/boeke/winternag-versamelde-toonsettings/

