Vrouedag het op Saterdag 9 Augustus kunstige kleur én geur aan die Voortrekkermonument verleen danksy ’n unieke kwilt-en-wynpassingsgeleentheid wat in die Senotaafsaal aangebied is. Hierdie uitsonderlike geleentheid is deur die Montpellier de Tulbagh-wynlandgoed en Creative Journeys in samewerking met die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangebied.

Gaste kon bekroonde smake én bekoorlike kwiltkuns ervaar deur ses kwilte by ses van Montpellier de Tulbagh se produkte uit sy kelders te pas – een witwyn, twee rooiwyne en drie Méthode Cap Classique’s (MCC’s).

Antoinette Kriel, eienaar van Creative Journeys, het Montpellier de Tulbagh ’n paar jaar gelede met dié unieke idee genader en vir die afgelope drie jaar reeds drie uiters suksesvolle geleenthede aangebied. Saterdag was dit die noorde van die land se beurt om te ervaar hoe twee uiteenlopende kunsvorms soos klip in kettie pas.

Volgens Kriel lê die kern van die kwilt-en-wynpassing in die ontmoeting tussen die kuns van wynmaak en die skeppende proses van kunskwilte. “Die passingsgeleentheid vir genooide gaste is ’n interaktiewe spel van sintuie, herinneringe en estetiese smaak,” sê sy.

In die gees van ons ryk erfenisnalatenskap, die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) 150 jaar gelede en hul bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur, was dit vir die FAK gepas om ’n kwilt-en-wynpassing aan te bied.

Die FAK en Montpellier de Tulbagh het onlangs ’n samewerkingsvennootskap gesluit om die kunste te bevorder en Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns-, taal- en musiekprojekte, is baie opgewonde oor die pad vorentoe.

“Die FAK en Montpellier de Tulbagh se gedeelde belange en sinergie lê daarin dat daar ’n werklike liefde is vir mooi, uitnemende gehaltekuns, asook die dryfkrag om eerder die regte as die maklike roete te volg. Dit is waarom albei handelsmerke reeds so lank bestaan – die FAK vir 96 jaar en Montpellier de Tulbagh vir meer as 300 jaar! Dit is vir die FAK van groot waarde om hierdie vennootskap te koester en uit te bou.”

Riëtte Eggink, ambassadeur van Montpellier de Tulbagh, sê sy is ook baie opgewonde oor hierdie samewerkingsooreenkoms met die aanloop tot die eeufeesviering van die FAK in 2029, want haar persoonlike verbintenis met die FAK is baie besonders. “Met my agtste verjaarsdag het ek ’n klavier en ’n FAK-sangbundel by my ouers persent gekry en begin klavierlesse neem. Later het ek vir 20 jaar in Nederland gaan woon en die FAK-sangbundel het weer saam met my teruggekom.”

Dit is vir haar ook ’n besondere voorreg om Montpellier in die Voortrekkermonument te verteenwoordig. “Ek was as kind die eerste keer by die Voortrekkermonument en dit het ’n groot indruk op my gemaak. Elke keer as ek weer hier kom, maak dit net nóg ’n groter indruk.”

Ses vooraanstaande Suid-Afrikaanse kwiltkunstenaars word elke jaar genooi om aan dié projek deel te neem. Elkeen het ’n unieke wyn of MCC van Montpellier de Tulbagh ontvang en dié geurige muse vol karakter as inspirasie gebruik om ’n kunswerk te skep.

Een van vanjaar se ses kwiltskeppers, Paul Schutte, verbonde aan die Goue Weste Kwiltersgilde in die Potchefstroom-streek, asook van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde, kon teenwoordig wees om met sy werk te spog. Hy beskou homself as ’n lapskilder.

“Ek wou nie ’n realistiese skepping maak nie. Ek het die kleur van die wyn in die sonlig en in die koelte beskou, terwyl die glas vol was en bietjie leër was, en toe die verskillende, donkerrooi kleure van die wyn uitgedruk. Ek het toe uitgevind hoe lyk die Shiraz-druiwekorrel waarvan die wyn gemaak is wat ek ontvang het en die ronding en die eiervormigheid daarvan weergegee, asook die groen velde waarin die wingerd geleë is, sonder om die wingerde uit te beeld.”

Die ander vyf kwiltkunstenaars is in die Oos-Kaap en Wes-Kaap gebaseer. Die Jakaranda-kwiltersgilde in Pretoria het ook die geleentheid bygewoon.

Volgens Kriel het ’n kunskwilt, soos wyn, sy eie proses van skepping en uitdrukking. “Dit verg tyd, kennis, vaardigheid en intuïsie. Daar is plesier en spanning in die ontwerp, in die keuses van kleur en tekstuur, in die poging om ’n gevoel of storie oor te dra. Soos ’n wynmaker eksperimenteer en balanseer, so doen die kwiltkunstenaar dit met gare en lap. Albei vereis geduld, ’n liefde vir detail en ’n sin vir styl.”

Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Kultuurtuiste, is eweneens verras oor dié besonderse versnit van kultuur en kreatiwiteit. “Hierdie ervaring het nie net die ryk tradisie van die Afrikaanse kultuur gevier nie, maar het twee geliefde Afrikaanse kunsvorms in die Senotaafsaal, simboliese tuiste vir ons taal, ons stories en ons erfenis, verweef.

“In Vrouemaand vier ons ook die kritieke rol van vroue in die ontwikkeling van Afrikaans,” sê Brand. “Die digters, onderwyseresse, ma’s, kunstenaars en handwerkers wat deur hul skeppings ’n gemeenskap se siel deur taal en tradisie help vorm het. Ons noem dit nie om dowe neute ons moedertaal nie. Afrikaanse vroue se nalatenskap, kreatiwiteit, en blywende bydrae as gom van die gemeenskap is onmeetbaar.”

Die kwilte is tot 18 September in die FAK-VTM-Kunsgalery in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument te sien. En as jy van Montpellier de Tulbagh se bekroonde wyne wil proe of koop, is daar goeie nuus: Dié landgoed se Spyseniersberg- wit- en rooiwyn is in die restaurante op die Voortrekkermonument-terrein beskikbaar.