Op 9 Augustus gaan die Voortrekkermonument-terrein borrel en bruis met Afrikaanse kultuur, kreatiwiteit en kuier wanneer die FAK vir die eerste keer ooit ’n bielie van ’n gemeente- en gemeenskapsbasaar aanbied, en dit in ’n jaar van dubbele viering. Nie net word die 100ste herdenking van Afrikaans as amptelike taal gevier nie, maar haar wortels wat veel dieper strek tot in Augustus 1875 – 150 jaar gelede – toe die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) beslag gekry het.
Die dag skop af met ’n pretloop – ’n energieke wegspring saam met Parkrun by die bekende “Afrikaans”-letters. Daarna wag daar ’n program wat vir almal iets bied: talle stalletjies met handgemaakte produkte, plaasvars lekkernye, boeke, tradisionele geregte en gesinspret.
Erfenis en vermaak op een plek
Afrikaanse musieklegendes soos Jannie du Toit en Carike Keuzenkamp bied op die Markplein inspirerende gesprekke aan, en om 14:00 tree Jan Blohm gratis op. Voorafbespreking is egter noodsaaklik. Die dag sluit af met die langverwagte Skryf’it-finaal, waar van die bekende ghoeroes ook hulle verskyning gaan maak.

Boekeparadys en kinderpret
Die Boekeparadys is ’n viering op sigself. Bekende uitgewers soos LAPA Uitgewers, Penguin Random House en Protea Boekhuis sal daar wees met ’n keur van Afrikaanse leesstof vir jonk en oud. Kinderboeke, boekvoorlesings en ’n verrassingsbesoek van ’n geliefde storieboekkarakter maak dit ’n moet-ervaar vir gesinne.

’n Skatkis van Afrikaanse handwerk
Die Handvlytskou, aangebied in die Kruger-galery, is ’n toonvenster van Afrikaanse kreatiwiteit. Besoekers kan uitsien na fyn borduurwerk, eiehandse popklere, unieke keramiekkunswerke en meer. Dit is ook die ideale plek om unieke geskenke aan te skaf wat met sorg en trots gemaak is.

Kultuurerfenis in aksie
Met uitstallings van die BCVO, ’n indrukwekkende modeltreinuitstalling in die Pioniersentrum en ’n kwiltuitstalling in die Senotaafsaal, word kultuurerfenis op ’n vars, toeganklike manier aangebied. Die FAK-Jeug beplan ook groot pret vir studente. Wynliefhebbers kan uitsien na ’n wynproe deur Montpellier, ’n ware fees vir die sintuie.
Wat jy moet weet
Toegang tot die basaar is gratis. Daar is slegs ’n erfenisheffing van R20 per volwassene, wat parkering insluit en help om dié wêreldklasterrein en kultuurbaken in stand te hou. Vroue en kinders kry op Vrouedag gratis toegang tot die Voortrekkermonument self.
Hierdie dag bring kultuurliefhebbers oor generasies saam. Die stigting van die GRA in 1875 in die Paarl was ’n daad van selfbevestiging, ’n verklaring dat Afrikaans sy plek verdien. Nou, 150 jaar later, pluk ons die vrugte van daardie daad, en ons vier dit behoorlik. Kom vier dit saam met ons.
Klik hier om die volledige program vir GRA-week, van 9-14 Augustus te sien: https://fak.org.za/gra-150-herdenking/
