Deur Neels Jackson

Miskien het die storie eintlik drie dae tevore begin, op ons eerste dag in die wildtuin, by die tannie in die 4×4. By ’n vurk in die pad wuif sy ons tot stilstand. Het ons iets gesien wil sy weet, want op hierdie pad is daar niks.

In die volgende paar dae ry ons nog ’n keer of wat bymekaar verby. Telkens draai sy haar palms boontoe. Sy sien niks.

Vroegoggend op ons laaste dag kies ons ’n grondpad waar ons skemeroggend die vorige dag ’n formidabele leeumannetjie gesien het. Vandag is daar net oop veld.

Aan die ander kant van die pad kom die son op. Saam met die wolke in die lug en die silhoeëtte van laeveldbome maak dit ’n mooi foto.

Namate dit ligter word, verwonder ons ons aan die welige groen ná die droogte.

Van vroeg af koggel die bosveldtinktinkies ons bo van die bosse af. ’n Geelbekneushoringvoël vlieg op van ’n tak af. Die witvlerkflappe is oral. Rooiruglaksmanne sit in die son.

Op een plek sit ’n swart aasvoël op ’n boom langs die pad. So naby is hy, dat ek ’n portretfoto van daardie interessante rooi geplooide gesig kan neem. Hy tuur oor die veld, maar klaarblyklik sien hy ook geen leeu of luiperd nie.

’n Entjie verder sit ’n swartkopreier bo-op ’n bos, en nog ’n entjie verder ’n sekretarisvoël. Soos ons bespied hulle die omgewing. Soos ons sien hulle geen leeus of luiperds nie.

By ’n afdraai verdwyn ’n swartkwasmuishond in die gras. Ons dog hy is nou weg, maar ná ’n rukkie loer hy uit en draf oor die pad.

Ons eerste “vangs” kom wanneer ’n Europese troupant ’n sprinkaan vang en in die pad gaan sit en vreet.

Van leeus wat ’n buffel plattrek, ’n luiperd wat ’n rooibok vang of ’n jagluiperd met ’n steenbok vir ontbyt, is daar vandag geen sprake nie. Die naaste wat ons kom aan wildehonde, is twee rooijakkalse wat ’n ent veldin met ’n droë tak speel, ’n bietjie toutrek daarmee en dan aan die stoei raak voordat hulle koers kies elders heen.

Ons kry ’n paar sebras in die pad, dan ’n paar kameelperde in die veld.

Wanneer dit begin warmer word, sien ons al meer skoenlappertjies. Ek neem ’n foto van ’n klein wittetjie met kolle en strepe – omtrent so groot soos my pinkienael. Later stel ons vas dis ’n sebrabloutjie. Elders sien ons ’n grasveldgeletjie en ander wittes en oranjes wat nog bo ons vuurmaakplek is.

Terug op die teerpad is daar ’n paar olifante langs die pad. Darem een van die groot vyf. ’n Jong bulletjie skud sy kop dat die ore wapper, maar vreet dan rustig verder. Hy is nie regtig kwaad nie.

By ’n dam lê krokodille op die oewer rond en daar is ’n hele paar watervoëls: lepelaars, witkopkiewiete, waterdikkoppe, bosruiters, driebandstrandkiewiete.

’n Bloureier vang ’n vis in die vlak water. Dis ons tweede vangs vir die dag. Nou nie juis iets wat jy op die speldjiebord by die ruskamp gaan aanteken nie – maar dit lewer lieflike foto’s op.

Van die seekoeie sien ons net ore, wenkbroue en neusgate.

Net ’n entjie verder sien ons bo in ’n boom ’n swerfvalk wat aan ’n duif vreet. Dis ’n voël wat my jare lank ontwyk het en wat ek nou op my lewenslys kan afmerk.

Maar dis nie ’n leeu nie. Dis nie ’n luiperd of ’n jagluiperd of ’n wildehond nie. Dis nie ’n renoster nie.

Op pad uit die wildtuin uit, dink ek aan die tannie met die 4×4 en ek sê vir myself: Vandag was ’n dag waarop ons “niks” gesien het nie – en ons het die foto’s om dit te bewys.