Ons almal was al in die volgende situasie: ’n paar manne (en soms ook vroue) kuier saam, en daar is musiek nodig om ’n atmosfeer te skep; hoe nou gemaak?

Die album Hardebaard kuierliedjies is dalk die antwoord; of is dit? Dit bevat ’n aantal bekende oorsese en plaaslike treffers, en hier en daar ook weergawes van bekende treffers deur Suid-Afrikaanse kunstenaars. Die eerste snit is sonder twyfel die grootste treffer van die 1980’s in Suid-Afrika; “Red red wine” van UB 40. Die tweede een is iets radikaal anders; Pieter Smith se komposisie “Stukkie van der Merwe”, wat DJ Ossewa saam met hom sing. Jy sal dink dis skreeusnaaks of jy sal dit as uiters platvloers beskou. “Amanda” was ’n groot treffer vir Don Williams, en gelukkig is die oorspronklike weergawe ingesluit. Nog ’n omstrede Afrikaanse liedjie waaroor jy mal is of wat jy haat, is “Naweeklyfie” van Jay en Lianie. Steve Hofmeyr het aanvanklik bekendheid verwerf toe hy die treffers van Neil Diamond gesing het, en sy weergawe van “Sweet Caroline” is ingesluit. “Dorp toe” van Fatman was een van die groot Afrikaanse treffers van die afgelope twee jaar. Nog ’n country-gunsteling wat hier ingesluit is, is “Coward of the county” van Kenny Rogers, wat ’n lewensles vir pa’s en seuns bevat. Refentse het al groot naam vir homself in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak, en “Oom Faan se plaas” was een van sy eerste oorspronklike Afrikaanse komposisies. “Mony mony” was oorspronklik ’n treffer vir Tommy James and the Shondelles, maar Billy Idol se weergawe was so gewild dat ’n mens die oorspronklike een vergeet het. Billy het dit twee keer opgeneem, en die konsertopname, die een wat op ’n kortspeler uitgereik is en ’n internasionale treffer geword het, is gelukkig ingesluit. Ricus Nel het “Hardekole” geskryf en aanvanklik opgeneem, maar toe stel sy platemaatskappy voor dat ’n paar ander kunstenaars dit saam met hom moes sing. Toe kry hy vir Refentse, Bok van Blerk en Adam Tas. Die res is geskiedenis. “Mustang Sally” het eers ’n treffer geword nadat dit deur The Commitments in die gelyknamige rolprent gesing is.

Bok van Blerk se eerste groot treffer was De la Rey, maar op dieselfde album het “Vodka en OJ”, die snit wat op hierdie album ingesluit is, voorgekom. Vir dié wat nie weet nie, OJ is lemoensap (orange juice). Soos wat Steve Hofmeyr hulde aan Neil Diamond gebring het, het Dozi die musiek van Creedence Clearwater Revival opgeneem, en sy weergawe van “Bad moon rising” is hier ingesluit. Appel se “Jagter” is ook een van die mooiste Afrikaanse liedjies van die afgelope jaar of wat, en pas baie goed by hierdie versameling in. Rodriguez se “Cold fact” was baie gewild in Suid-Afrika ten spyte van ’n algehele radio-speelverbod; “I wonder” was die grootste treffer vanaf daardie album. Robbie Wessels het homself al bewys as ’n sanger met ’n skerp sin vir humor, en “Mphe di hoenor” was een van sy onlangse treffers. “It’s hard to be humble” van Mac Davis kan nie te ernstig opgeneem word nie, en gelukkig is die volledige weergawe hier ingesluit. Op sommige versamelings word die eerste deel, voordat hy begin sing, weggelaat maar nie hier nie. Jakkie Louw se “Rum en raspberry” was een van die lekkerste partytjieliedjies van die afgelope paar jaar. “Lekker ou Jan” was ’n groot treffer vir Worsie Visser, maar verskeie kunstenaars het dit daarna ook opgeneem. Adam Tas se weergawe is hier ingesluit. Adam se weergawe is voor ’n gehoor opgeneem en dit klink baie goed. Jan Rhaap en Juan Boucher het “Huisie in die bos” geskryf en hulle sing dit saam. Die laaste snit is Wynand Strydom se deurbraak-treffer “Katrina”, geskryf deur Anton Myburgh.

Die samestelling van hierdie album is in die kol; hoewel daar net manlike kunstenaars hierop voorkom, is die snitte baie goed gekies en daar sal iets vir feitlik elke musieksmaak wees. Dit is dalk net die regte album om almal in die bui vir ’n lekker kuier te kry.