Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Kamphoer, met die gevierde aktrise Sandra Prinsloo, as Susan Nell, het vroeër vanjaar by die KKNK gedebuteer en ook dáár ’n hele aantal pryse gewen.

Dus kon ’n mens verwag dat dié stuk wat gegrond is op twee boeke, dié van Francois Smith se topverkoper Kamphoer ­en die meer geskiedkundige nie-fiksie boek The Boer Whore van Nico Malan, ’n meesterproduksie moet wees.

Dus was dit ook verstaanbaar waarom al die speelvlakke by die onlangse Aardklop Kunstefees uitverkoop is.

Sandra, wat daarvoor bekend is dat sy sterk rolle vertolk, soos dié van Debora Mannheim in die TV-reeks Die Mannheim-sage, het weer nie teleurgestel nie. 

Die verhaal is gegrond op dié van Susan wat na jare in Nederland (wat ook na die Boereoorlog haar tuiste geword het) terugkyk oor die verlede. Sy was die kamphoer. Haar liggaam is misbruik en geplunder deur verraaiers en die kakies. Na die oorlog het sy as verpleegsuster gekwalifiseer.

Die verlede word weer oopgeruk, soos ’n seer etterige wond, toe een van haar verkragters in ’n hospitaalbed, weerloos voor haar lê.  Moet sy wraak neem of moet sy hom versorg – in haar beroep as suster het sy ’n eed gesweer.

Die openingsvraag wat ook die rigting van die stuk aandui is Ek is Susan Nell? Later, is ek regtig nog Susan Nell?

Die verkragting word ’n bietjie onderspeel. Dalk kon die regisseur Lara Foot die verkragting meer visueel voor die teaterkyker blootgelê het. Geweld teenoor vroue, ’n brandpunt wat weer onlangs  in Suid-Afrika vlamgevat het. Dit het gevoel asof Lara ’n bietjie té vinnig oor die verkragting skarrel. Sandra, as die verteller, wat Susan se verhaal gelade uiter.

Die verhoogkleding is minimalisties, maar dit is al asof die “kamptent” wat uit ragfyn satyn gemaak is, ook ’n simbool is. ’n  Simbool van vergifnis, van die broosheid van die mens.  Die tent word ook later ingespan as agtergrond vir die tonele wat in Nederland afspeel.

Die beligting word ook goed ingespan. Tydens die openingstoneel is die verhoog donker, dan wyk die duisternis en ’n kollig val op Susan. Die beligting word ook ’n simbool om die wreedheid van die oorlog (die duisternis) uit te beeld. Soms is die ligte warm – ’n warmte wat ook deel word van die vergifnisproses.

Die produksie is met styl en waardigheid aangebied en die hoop beskaam nie dat Kamphoer wel dalk later ook ’n rolprent kan word nie.

Dit is ’n storie oor die oorlog. ’n Storie waarvan Suid-Afrikaners, bykans ’n 120 jaar later, nog nie genoeg kan kry nie. ’n Storie wat, soos wat die jare verbyvloei, ’n nuwe betekenis, ’n nuwe fokus kry.